Pretoriase eiendomsagentskap woeker saam met Wollies

Die Pretoriase eiendomsagentskap Just Imagine Properties fokus gereeld op die liefdadigheidsbedryf in die gemeenskap en vandeesmaand snoer hulle kragte saam met die Wollies-diereskuiling in die noorde van Pretoria om verligting te bied by dié skuiling wat tans sowat 1 100 weggooidiere huisves.

Só sê Elanie van Niekerk, deel van die span wat Just Imagine Properties se liefdadigheidswerk behartig.

“Ons stap al ʼn lang pad saam met Wollies en sedert die begin van die inperking weens die Covid-19-pandemie is die nood by dié skuiling vir kos en finansiële bydraes deur die publiek soveel groter as voorheen,” sê Van Niekerk.

Wollies is ʼn niewinsgewende organisasie wat geen finansiële hulp van die staat ontvang nie en heeltemal afhanklik is van skenkings deur die publiek.

“Die skuiling doen ongelooflike goeie werk in die gemeenskap en [die eienaars] Cilla en Joachim Trexler doen soveel moeite met die diere. Ongelukkig trek hulle ook baie swaar en wil ons graag ons deel doen deur hulle te help om vir die diere goeie huise te kry en om die publiek bewus te maak van die skuiling se erge finansiële nood.”

Just Imagine Properties se 17 huisagente en hul gesinne gaan op Saterdag 19 September poog om soveel as moontlik van die honde wat by dié skuiling gehuisves word te bad en op te dollie vir ʼn fotosessie.

“Ons droom is om gelukkige huise vir die diere te kry. Daarom wil ons hulle bederf met ʼn bad en hulle oulik afneem, waarna ons die foto’s op ons sosialemediaplatforms gaan plaas om mense sodoende aan te moedig om hulle aan te neem,” verduidelik Van Niekerk.

(Foto: Facebook)

“Sodra die honde gebad is gaan ons hulle op die tennisbaan laat hardloop om droog te word en hulle sal met strikkies en linte en allerhande fraai goedjies mooi gemaak word vir die fotosessie.”

Hulle beplan ook om honde- en katkos, komberse en medikasie wat met die hulp van borge aangekoop is te skenk. Daar gaan ook met die hulp van borge in die klein hondjies se afdeling nuwe plaveisel gelê word.

“Op die oomblik breek die sement uitmekaar en is dit onmoontlik om skoon te hou, en dit is belangrik dat die babahondjies se afdeling ten alle tye skoon gehou kan word.”

Die publiek word uitgenooi om die dag saam met Just Imagine Properties by Wollies deur te bring. Daar sal ʼn worsbroodjie- en koffiestalletjie sowel as koeldrank te koop beskikbaar wees. Alle Covid-19-protokolle sal gevolg word.

“Mense kan net kom en ʼn heerlike gesinsdag saam met ons deurbring. Die kinders gaan vet pret hê met die bad van die honde. Miskien raak hulle ook in die proses verlief op ʼn hond of twee,” voeg Van Niekerk by.

Die publiek word aangemoedig om honde- en katkos te skenk. Finansiële skenkings kan gemaak word deur debietorders, direkte EFT-inbetalings, Back a Buddy, SnapScan en Zapper. Kosskenkings kan ook gedoen word by sekere aflaaipunte.

Vir meer inligting, besoek Wollies se Facebook-bladsy, bel Carla de Beer by 071 266 3620 of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat op dees Aarde ·

Ons gaan doen elke jaar die Walk a dog walkathon by Wollies. Dit is bitter hartseer om te sien na hoeveel diere hulle omsien. Gelukkig word die diere goed na gekyk. Ek huil elke keer wat ons daarheen gaan. Dit bring mens net weer tot die besef dat daar soveel slegte diere-eienaars is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.