Is jy ʼn plant-mamma?

Binnenshuise tuinwerk is ʼn heerlike stokperdjie en soms selfs bietjie verslawend. (Foto: Life is a Garden)

Mei is die maand vir moeders (ook dié wat hul plante vertroetel) – gryp dus die geleentheid aan om ʼn bobaastuin te maak en jou weg vol selfvertroue oop te spit na die wêreld van “plantouerskap”.

Vier dus dié maand met ʼn nuwe, groen toevoeging tot die familie, of gee die moederfiguur in jou lewe ʼn geskenk om te wys sy maak saak. Volg Life is a Garden se gids tot suksesvolle binnenshuise tuinmaak.

‘Gesoute’ plant-ma’s

As jy op soek is na ʼn plant wat sê “dít is nie my eerste kind nie”, is daar ʼn paar gunstelinge wat beginners dalk die skrik op die lyf kan jaag, maar gesoute tuiniers groot genot sal verskaf. Oorweeg gerus:

Phalaenopsis (mot-orgideë):

Orgideë kan soms soos ‘n handvol voel, maar moenie laat dit jou afskrik nie. (Foto: Life is a Garden)

Kry apiestuipe oor: omtrent enigiets, maar gewoonlik omdat dit te veel water kry.

Koop dit om met: geduld, los baspotmengsel, indirekte sonlig, vogtigheid en ʼn natmaak op ʼn spesifieke tyd.

Adiantum raddianum (maidenhair fern of Venushare):

Venushare is ‘n goeie keuse vir gesoute tuiniers. (Foto: Life is a Garden)

Kry apiestuipe oor: ma se alleentyd in die badkamer.

Koop dit om met: waasvorming, skimmellig en humiditeit. Tyd buite om na die sonsondergang te kyk, werk ook soos ʼn bom.

Calathea (silver clusterleaf of vaalboom):

Calathea, ook bekend as vaalboom, hou van indirekte sonlig in die huis. (Foto: Life is a Garden)

Kry apiestuipe oor: hy die enigste kind is en groot, oop ruimtes.

Koop dit om met: helder, indirekte sonlig, grond wat goed dreineer, baie maats wat humiditeit kan verhoog, en ʼn vlak houer (kortwortel-sindroom).

Nuwe ma’s

As jy vir ʼn groentjie-tuinier ʼn binnenshuise plant as geskenk beplan, is dit raadsaam om iets te kies wat nie daarop aandring om altyd die middelpunt van die wêreld te wees nie.

Slangplant:

Slangplante geniet nie te veel water nie – wees dus gewaarsku. (Foto: Life is a Garden)

Kan jou aangluur as: dit te veel water kry.

Gee genoeg sakgeld en: net een of twee natmake in die winter. Groei goed in bykans enige lig.

Spinnekopplant:

‘n Spinnekopplant verkies grond wat goed dreineer en indirekte lig. (Foto: Life is a Garden)

Kan jou aangluur as: dit te warm is om buite te speel.

Gee sakgeld en: goed gedreineerde grond, indirekte lig en snoei van tyd tot tyd.

Pothos, of Epipremnum (golden pothos of huishoudelike klimop):

Pothos, of huishoudelike klimop, is nog ‘n goeie keuse vir binnenshuise tuinmaak. (Foto: Life is a Garden)

Kan jou aangluur as: sy grondvoete te styf vasgemaak is.

Gee sakgeld en: ʼn hangmandjie of traliewerk, ʼn bietjie snoeiwerk en die kans om tussen natmake uit te droog.

Gids vir binnenshuise plante

Ongeag van wat jy beplan om te groei, kan hierdie wenke help om jou plantkinders op hul tone te hou:

Aanneming: koop plante en saailinge van betroubare kwekerye en verseker só dat jou nuwe plante reeds die beste begin in die lewe gehad het.

Houers: kies altyd ʼn houer met genoeg dreineringsgate en moenie van die piering vergeet nie. ʼn Klein gieter met ʼn lang tuit is ook ʼn goeie belegging.

Plant oor: Jy sal weet wanneer dit tyd is om jou plante uit te plant wanneer daar meer wortel as grond in die pot is. Kies ʼn groter pot en vul die grond op met potgrond en ʼn skeut kunsmis. Doen navraag by jou tuinsentrum oor watter plantvoedsel en grondmengsel om vir ʼn spesifieke plant te gebruik.

Hou boek: om jou te help kophou oor wanneer om voeding en water toe te dien, of wanneer jy die snoeiskêr moet nader trek, is ʼn dagboek vir jou binnenshuise plante dalk ʼn goeie idee. Wanneer jou plante ʼn babaoppasser nodig het, sal die joernaal presies uitstippel wat gedoen moet word.

Instandhouding: om jou plantkinders op hul beste te laat lyk, kan jy ʼn klam lap gebruik om enige stof van die blare te vee. Stof verhoed plante om genoeg lig op te neem en verstop die stomata – die gaatjies wat die plant help asemhaal. As jy dooie knoppe afknip, sal dit blomgroei bevorder, terwyl ʼn goeie snoei vir lowerige hergroei sal sorg.

Voordele van plantkinders

Vier Moedersdag – en sommer die hele maand (en jaar) – met ʼn nuwe toevoeging tot jou tuin. (Foto: Life is a Garden)

Binnenshuise tuinwerk is ʼn heerlike stokperdjie. Moenie skaam wees om op sosialemediaplatforms met jou pragtige plantkinders te spog nie en gee mense die geleentheid om jou oorwinnings saam met jou te vier en in jou tuinvreugde te deel.

Enige tuinwerk – of dit nou binne of buite is – bevorder ʼn band met die natuur, verhoog jou vlak van geluk, verbeter die luggehalte en is boonop vet pret (en miskien ʼn bietjie verslawend).

Of dit nou is om ʼn gesprek aan die gang te hou of om jou leë nes nuwe lewe te gee … daar is altyd ʼn rede om in ʼn nuwe plant of twee te belê. Onthou om die aanwysings op die plant behoorlik te lees en maak seker jy skep die ideale ruimte vir jou plante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.