Maak essensiële olies uit die tuin

(Foto: Tara Winstead/Pexels)

Wil jy leer hoe om jou eie essensiële olies te gebruik as deel van kruiemedisyne of ʼn parfuum? Hier is wat ons kenners by Amorentia-landgoed-en-kwekery te sê gehad het oor die selfdoenproses.

Maak ook seker jy lees ons artikel getiteld, “Kry jou beginnersgids vir essensiële olies”, wat ʼn beginnersgids vir essensiële olies insluit en jou as tuinier sal help om te bepaal watter plante jy in jou tuin kan aanplant vir die maak van hierdie soort olies en hoe om dit te gebruik en geniet.

Die meeste tuiniers is vertroud met die essensiële olies wat by winkels beskikbaar is, maar jy sal heerlik verras wees om te hoor dat jy jou eie olies kan maak.

Om essensiële olies by die huis te maak kan ‘n prettige en lonende proses wees, maar dit verg ‘n mate van kundigheid en die regte toerusting. Maak seker dat jy jou navorsing doen en behoorlike veiligheidsmaatreëls volg wanneer jy met essensiële olies werk.

Jy kan ‘n verskeidenheid plante gebruik om essensiële olies te maak, insluitend kruie, blomme en sitrusvrugte. Sommige gewilde keuses sluit in laventel, tiemie, kruisement, roosmaryn, suurlemoenverbena, suurlemoen en lemoen. Kies plante wat gesond en vry van plaagdoders of ander chemikalieë is en volg hierdie maklike stappe.

Wanneer jy jou onttrekkingsmetode van die essensiële olies kies, is daar verskeie om van te kies:

Stoomdistillasie is die algemeenste metode wat jy tuis kan gebruik om jou eie olies te maak. (Foto: Life is a Garden)

Stoomdistillasie is die algemeenste metode vir tuisgebruik. Om jou plantmateriaal te stoomdistilleer, benodig jy ‘n ketel of distilleerder.

Plaas die plantmateriaal in die distilleerder met water en verhit dit om die stoom vry te stel. Die stoom sal die essensiële olies uit die plantmateriaal trek en in ‘n kondensor oordra, waar dit sal afkoel en in ‘n vloeistof verander. Die vloeistof sal in twee lae skei, met die essensiële olie wat bo-op dryf. Sodra die distillasieproses voltooi is, kan jy die essensiële olie versamel deur dit versigtig van die boonste laag af te gooi. Maak seker dat jy ‘n tregter en ‘n glashouer met ‘n styfpassende deksel gebruik.

As jy nie ‘n distilleerder besit nie, kan jy die plantmateriaal in ‘n groot pot met ‘n klein hoeveelheid water plaas. Bedek die pot met ‘n deksel wat ‘n klein gaatjie in die bokant het. Plaas ‘n hittebestande glasbak bo-op die deksel, direk oor die gaatjie. Verhit die pot en laat die water warm word tot by kookpunt. Die stoom sal die essensiële olies uit die plantmateriaal trek en in die glasbak oordra. Sodra die proses voltooi is, versamel die essensiële olie uit die glasbak met ‘n drupper en bêre dit in ‘n glashouer met ‘n styfpassende deksel.

Hoe dit ook al sy, wanneer dit voltooi is, bêre jou essensiële olie op ‘n koel, donker plek in ‘n digverseëlde, gesteriliseerde glasbottel. Merk die bottel met die naam van die plant en die datum waarop dit gedistilleer is.

‘n Voorbeeld van ‘n masjien wat gebruik kan word om jou kouepers olies na die volgende vlak te neem. (Foto verskaf)

Kouepers is geskik vir sitrusvrugte soos suurlemoene, lemmetjies, lemoene en pomelo’s. Sny die vrugte in klein stukkies en druk die sap uit. Gebruik ‘n sif om enige pulp of sade te verwyder. Die essensiële olies sal van die sap skei en na bo styg. Skep die essensiële olie van die bokant met ‘n lepel af en bêre dit in ‘n glashouer met ‘n styfpassende deksel.

Die infusiemetode is geskik vir die meeste olies wat kruie en blomme gebruik. (Foto: Mart Production/Pexels)

Die infusiemetode is geskik vir die meeste kruie en blomme soos laventel, roosmaryn, gardenia en kamille. Plaas die plantmateriaal in ‘n glasfles en bedek dit met ‘n draerolie soos kremetart- of jojoba-olie. Laat die mengsel vir twee tot drie weke sit, en vervang die plantmateriaal elke derde dag met vars blomme. Die olie sal die essensiële olies van die plantmateriaal absorbeer. Syg die olie deur ‘n kaasdoek of koffiefiltreerpapier en bêre dit in ‘n glashouer met ‘n styfpassende deksel.

Wenke:

Oes jou plantmateriaal soggens wanneer die olies die gekonsentreerste is en maak seker dat jy plantmateriaal gebruik wat vars of nuut gespoel is. Spoel en droog die plantmateriaal deeglik.

Wanneer essensiële olies gebruik word, is dit belangrik om dit met ‘n draerolie soos jojoba-, roosbottel-, kremetart-, maroela-, amandel- of klapperolie te verdun voordat dit op die vel toegedien word. Dit word ook aanbeveel om ‘n pleistertoets op ‘n klein area van die vel te doen voordat ‘n nuwe essensiële olie gebruik word, om vir enige allergiese reaksies te toets. Essensiële olies word in lae dosisse gebruik omdat hulle uiters kragtig is, en veiligheid moet ook nog vir talle mediese toestande, sowel as swangerskap en borsvoeding, nagevors word. Daar is baie ander toepassings vir essensiële olies soos om dit in ʼn kersbrander of as kamersproei te gebruik. Jy kan ook met essensiële olies stoom en bad.

  • Life is a Garden verskaf inligting oor voordelige plante, maar dit moet nie as farmaseutiese advies beskou word nie. Hierdie inhoud word gedeel ter bevordering van die liefde van ons natuurlike wêreld en is nie bedoel om as ʼn mediese voorskrif gebruik te word nie. Besoek ʼn dokter indien jou simptome vererger of voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.