Raak natuurlik ontslae van muskiete

Laventel of lavender hou die muskiete maklik weg. Foto: Life is a garden.

Die muskiete is een van die minder aangename tekens dat die somer nou reeds in volle gang is. Hierdie irriterende klein insekte dra nie net siektes oor nie, hulle sing graag in jou ore terwyl jy probeer slaap, en of dit nie reeds genoeg is nie, laat hulle jou met ʼn bytmerk wat boonop verskriklik jeuk.

ʼn Goeie vorm van natuurlike muskietbeheer is om sekere plante met sterk geure in jou tuin te plant. Kweek of plaas hierdie plante in jou onthaal- en leefareas.

Laventel

Laventel (lavender) het ʼn sterk, strelende geur wat die reukvermoë van ʼn muskiet belemmer. Die plant aard in die meeste klimaatstreke van die land en groei pragtig in Suid-Afrikaanse grond.

Sitronellagras. Foto: Life is a garden.

Sitronellagras

Jy het waarskynlik al daarvan gehoor of selfs al sitronellakerse gebruik, maar min mense weet dit is eintlik ʼn plant. Dit produseer ʼn sterk aroma wat omringende geure versteek en voorkom dat muskiete hulle prooi – jy en jou gaste – kan identifiseer. Jy kan die plant in potte of in ʼn tuinbedding plant. Kneus die blare en smeer dit aan jou vel om jou verder teen muskiete te beskerm.

Suurlemoenbalsem. Foto: Life is a garden.

Suurlemoenbalsem

Hierdie plant is ʼn lid van die kruisementfamilie wat ʼn sterk suurlemoengeur het as die blare fyngemaak word. Gebruik die gekneusde blare op jou vel om muskiete af te weer. Die plant kan ook in tee, souse en nageregte gebruik word.

Basiliekruid. Foto: Life is a garden.

Basiliekruid

Hierdie krui is nie net lekker as jy dit vars in jou geregte gebruik nie, maar dit maak boonop ʼn wonderlike en maklike insekweerder. Jy hoef nie eers die blare te kneus of stukkend te druk nie, die hele plant gee reeds ʼn geur af wat muskiete eenvoudig net nie kan verdra nie. Plant dit ʼn verskeidenheid potte buite.

Gousblomme. Foto: Life is a garden.

Gousblomme

Gousblomme (marigolds) bevat piretrum wat ʼn soort natuurlike insekdoder is, wat in baie insekweermiddels voorkom en ʼn kenmerkende geur het. Muskiete en ander insekte vind die reuk afstootlik.

Nog tuintake vir Desember

Binnelandse tuine

(Gauteng, Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo)

  • Kontroleer en behandel jou swembad vir die groei van alge en maak die plaveisel skoon. Kyk of daar los plaveiselstene is en doen enige herstelwerk wat nodig is.
  • Om die tamaties en skimmel op komkommers en pampoen te vermy, moet jy dit vroeg in die oggend natmaak om die blare ʼn kans te gee om droog te word voor dit donker is.
  • Gee sitrusbome hul midseisoen voer van korrelkunsmis.
  • Plant aartappels uit saad in Desember en Januarie. Dit sal ’n oes in April en Mei lewer wat jy weer kan berg en gedurende die winter kan eet.

Tuine aan die kus

(Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal)

  • Onkruid in die tuin – bedek alle oop stukke grond met ’n laag organiese deklaag. Met deklaag bespaar jy nie net water nie, maar jy gaan nie bossies hoef uit te trek terwyl jy eintlik moet besig wees om familie gedurende die feestyd te onthaal nie. Boonop gee dit ook ’n professionele en goed versorgde voorkoms aan jou tuin en laat bestaande plante op hulle beste vertoon.
  • Trek vir jou tuinmeubels ʼn nuwe baadjie aan met ’n vars laag verf. Terwyl jy nou die verfkwas uit het, kan jy die tuinstoorplek, heining en potte ook ʼn lagie verf gee. Maak nuwe oortreksels vir strooikussings of trakteer jouself op nuwe sagte kussings vir jou tuinmeubels.
  • Dit is nou die tyd vir somerplae, so wees op die uitkyk daarvoor en behandel dadelik met die regte middel. Klop by jou plaaslike GCA‑tuinsentrum aan vir raad hieroor.

Besoek Lifeisagarden.co.za vir meer wenke en inligting oor tuinmaak of neem deel aan die gesprek op by hulle Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.