Belê in dié vyf produkte vir vars somervoorkoms

Andrea Hurter. (Foto: Instagram/@chameleonqueen_sa)

Dit is gʼn geheim dat nie alle vroue ewe tuis in winkels se skoonheidsafdelings voel nie.

Ná ʼn duur Desembervakansie laat baie van ons beursies boonop nie spandabelrige inkopies van dié aard toe nie.

Volgens Andrea Hurter, ʼn Kaapse grimeerkunstenaar en eienaar van Chameleon Creatives, het die algemene vrou egter net vyf skoonheidsprodukte nodig om ʼn vars voorkoms veral gedurende somermaande te kry.

“Wanneer dit by grimering kom, is my goue reël dat jy moet doen wat jou gelukkig maak. ʼn Mens hoor gereeld sogenaamde reëls soos ‘as jy dun lippe het moet jy nie rooi lipstiffie dra nie’ of ‘vroue oor 50 moenie gekleurde oogskadu dra nie’.

“Ek beskou hierdie meer as riglyne, maar op die ou end is jy die kunstenaar en jy maak jou eie reëls,” sê Andrea.

Hier is die vyf produkte wat sy glo elke vrou in kan belê:

Sonroom

Argieffoto. (Foto: Katsiaryna Endruszkiewicz/Pexels)

Nes talle ander grimeerkunstenaars, lê Andrea klem op die belangrikheid van ʼn sonroom.

“Die eerste en belangrikste produk, is ʼn goeie sonroom. Ek praat nie van ʼn vogroom of onderlaag met ʼn sonbeskermingsfaktor (SBF) 15 in nie, ek praat van ʼn sonroom wat spesiaal geformuleer vir jou gesig is en ʼn hoë SBF van 30 of meer het.”

Sy benadruk dat ʼn goeie daaglikse sonskerm nodig is om die vel teen sonlig, sowel as blou lig van elektroniese toestelle te beskerm. Dit is ook die een produk waarop sy glo ʼn mens nie suinig kan wees nie.

“Grimering lyk soveel beter op ʼn goed versorgde vel. Probeer ʼn paar verskillende sonrome totdat jy een vind wat vir jou spesifieke veltipe werk, of vra bietjie vir ʼn vriendin met dieselfde veltipe as jy vir wenke.”

Veltint (eerder as swaar onderlaag)

(Foto: Mart Production/Pexels)

“Ek is nie vreeslik lief vir onderlaag dra in die warm Suid-Afrikaanse somer nie, maar wanneer ek dit wel doen, hou ek van ʼn ligte en natuurlike onderlaag,” sê Andrea.

“Die modebedryf is besig om weg te beweeg van die oorlaaide onderlaagvoorkoms wat alles toeplak. Ons betree nou ʼn era waar ons natuurlike skoonheid vier. ʼn Era waar ons moet begin besef dit is heeltemal normaal om tekstuur op jou vel te hê. Ons wil jou sproete sien.”

Andrea stel produkte voor met terme soos tinted serum en hydrating skin tint in die beskrywing.

“Omdat hierdie produkte so lig is, wend dit lekker maklik en vinnig aan. Jy kan enigiets gebruik om dit mee aan te wend, maar my gunsteling is tog maar my vingers.”

Verbruiner (bronzer)

“As jy elke dag sonroom gaan dra, gaan jou gesig uiteraard ligter as die res van jou lyf wees. Met ʼn verbruiner kan jy dit laat lyk asof jy op ʼn eilandvakansie was, sonder die sonskade.”

Vir warm, somermaande stel Andrea ʼn verbruiner met ʼn poeier eerder as ʼn roombasis voor.

“Ek hou daarvan om ʼn lekker fluffy kwas te gebruik, en dit aan te wend op die areas waar die son my natuurlik sou vang. Bietjie op die wangbene, die neus en selfs die voorkop.”

Sy waarsku egter teen verbruiners met ʼn glans, veral as jy so ʼn natuurlike voorkoms as moontlik wil hê. Boonop kan dit volgens Andrea ʼn sweterige eerder as ʼn glansende voorkoms lewer, veral op ʼn warm dag.

Gesigpoeier

(Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

“Ek weet talle vroue hou niks van die idee van poeier nie. Hulle is bang dit vat hulle natural glow weg en beklemtoon fyn lyntjies en plooie. Wanneer poeier op die regte manier aangewend word, kan dit verhoed dat jy nie blink waar jy nie wil nie, dit kan jou grimering langer laat hou en dit kan selfs verhoed dat jou maskara kringe onder jou oë vorm,” verduidelik Andrea.

Sy stel ʼn deursigtige, oftewel translucent poeier voor.

“Dit is ʼn wit poeier wat deursigtig raak wanneer dit aangewend word, en dit pas dus by byna enige velkleur. Gebruik ʼn klein of mediumgrootte kwassie, of selfs ʼn skoon oogskadukwassie. Druk die kwassie in die poeier, skud of blaas die ekstra poeier af, en wend dit aan op jou t-sone – wat jou voorkop, neus en ken is.”

Andrea stel voor dat die poeier ook onder die oë aangewend word.

“Maskara vorm dikwels kringe om die oë omdat ons vel deur die dag olierig raak. Al dra jy waterdigte maskara, is dit steeds nie bestand teen olie nie. Deur ʼn klein bietjie poeier onder (en selfs bo-op) die oë te sit, kan ʼn mens verhoed dat jy later deur die dag sukkel met daardie ‘panda oë’.”

Iets vogtig vir die lippies

(Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

“Die son kan ʼn mens se lippe wraggies baie uitdroog, so ek maak altyd seker om verskeie produkte by my te hê wat my droë lippe kan red. Ek het sommer iets in my handsak, in my kar én in my bedkassielaai,” skerts Andrea.

Hoewel sy deur die dag ʼn produk gebruik wat haar lippe kleur, glans én bevogtig, stel sy voor dat vroue saans iets “bietjie dikker en baie bevogtigend” aanwend voordat hulle gaan slaap om lippe gesond te hou.

“My gunsteling is Bepanthen se bababoudroom. As ek in die oggende wakker word, is my lippe waarlik so sag soos ʼn baba se boudjies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.