Die krag van ’n glimlag

(Foto: Michael Dam/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Wanneer laas het jy vir iemand geglimlag en watter reaksie het jy gekry? Hulle glimlag gewoonlik terug.

Ons lyftaal en gesigsuitdrukkings het net so ʼn groot invloed op hoe ons oor onsself voel en hoe ander ons sien as grimering en klere.

Jou glimlag is ʼn doeltreffende hulpmiddel om te gebruik wanneer jy kontak het met ander mense. Dit is ʼn taal wat almal verstaan en van onskatbare waarde wanneer verhoudings gebou word.

Wat is ʼn goeie glimlag?

Kyk na die glimlagte in die foto’s hier onder, watter een dink jy is eg?

(Foto verskaf)

ʼn Opregte glimlag is een wat outentiek is, uit die hart kom en die hele gesig omvou. Interessant genoeg, het wetenskaplikes bewys dat die meeste mense ʼn vals of onopregte glimlag kan raaksien en dit word selde positief ontvang.

Eienskappe van ʼn opregte glimlag:

  1. Verhoogde mondhoeke, effense plooie of “kraaivoete” om die oë as gevolg van die opheffing van die wange, en oë wat kontak maak en warmte uitstraal.
  2. ʼn Vals glimlag lig net die mondhoeke op, omdat ons nie vrywilliglik die spiere om ons oë kan saamtrek nie.
  3. ʼn Ware glimlag kommunikeer opregtheid en warmte en wys ander mense dat jy teenwoordig en betrokke is, of dit nou ʼn sosiale- of besigheidsaangeleentheid is.

Hoe om te glimlag:

  • ʼn Opregte glimlag is nie net beperk tot die gesig nie, maar word deur die hele liggaam met oop gebare en houdings weerklink. Moet dus nie jou arms oor jou bors kruis of jou hande op jou heupe hou wanneer jy glimlag nie.
  • Maak oogkontak wanneer jy glimlag. Dit is veral belangrik wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet. Oogkontak plus ʼn glimlag is die maklikste manier om ʼn goeie eerste indruk te maak.
  • Wees heeltemal teenwoordig in die oomblik wanneer jy glimlag. As jy jouself emosioneel van die interaksie onttrek, sal jou glimlag vals lyk. Fokus op positiewe gedagtes, want dit sal beslis in jou glimlag weerspieël.
  • Wys jou tande. ʼn Opregte glimlag skei die lippe soos wat die gesigspiere saamtrek. ʼn Toemond-glimlag gebeur gewoonlik wanneer iemand glimlag omdat dit van hulle verwag word of as hulle skaam is oor hulle tande. As laasgenoemde op jou van toepassing is, is jy dit aan jouself verskuldig om jou tande te laat regmaak.
  • Moenie vir iemand vra om te glimlag nie. Dit sal jou net neerhalend laat voorkom. Laat jou glimlag aansteeklik wees, en dieselfde reaksie by ander uitlok. Nie-verbale tekens is soms sterker motiveerders.
  • Oefen maak perfek! Om jou glimlag voor jou spieël te oefen, lyk dalk “cheesy”, maar dit sal vrugte afwerp. Jy sal weet wanneer jou glimlag eg is, want jy sal die verskil voel − al is dit net jy en die spieël.

Wanneer om te glimlag:

Hier is ʼn paar scenario’s waar ʼn glimlag doeltreffend sal wees:

  • Wanneer jy aan iemand voorgestel of gegroet word – dit is ʼn goeie manier om onthou te word.
  • Wanneer jy met iemand of iets saamstem. Dit sal jou opinie beaam.
  • Terwyl jy iemand se hand skud, sal ʼn glimlag ʼn goeie indruk maak. Wanneer jy dit in ʼn besigheidsopset doen, is dit bewys dat die ander party meer aandagtig na jou sal luister en wat jy sê ernstig sal opneem.
  • Wanneer jy op die foon is. Ja, die persoon aan die anderkant sal nou wel nie jou glimlag kan sien nie, maar hulle sal dit kan hoor. Daar is bewys dat ʼn fisiese glimlag, jou stem warm en opreg sal laat klink.
  • Wanneer jy ʼn persoon se naam sê. Dit sal ʼn positiewe atmosfeer skep waarop jy kan bou – later in die gesprek en in die toekoms.
  • Wanneer jy van iemand afskeid neem. ʼn Glimlag sal hulle laat uitsien na julle volgende ontmoeting.
  • Tydens ʼn werksonderhoud. Tussen jou antwoorde deur, is ʼn glimlag ʼn goeie manier om jou voornemende werkgewers te laat weet dat jy ʼn aangename geaardheid het.
  • Wanneer jy af voel. Deur bloot te glimlag, al is dit net vir jouself, kan jy jou dag verbeter. Om vir jouself in die spieël of vir mense op straat te glimlag, sal onmiddellik jou gemoedstoestand verbeter. Wie weet, dalk maak jou glimlag iemand se dag?

(Foto verskaf)

Die gesondheidsvoordele van glimlag:

Studies het bevind dat jou glimlag verskeie voordele vir jou gesondheid kan inhou. Wanneer jy glimlag:

  • Verlaag jou bloeddruk
  • Word endorfiene, ook bekend as die goedvoelhormoon, vrygestel
  • Stres jy minder
  • Word jou immuunstelsel versterk
  • Is jy in ʼn beter bui

Jou mondhoeke wat spontaan in ʼn glimlag opkrul, kan jou brein verander deur endorfiene en serotonien vry te stel.

Wanneer jy glimlag, laat dit jou en diegene rondom jou goed voel en hou dit dus vir almal voordeel in.

ʼn Glimlag is inderdaad ʼn gratis en eenvoudige vorm van daaglikse terapie en sluit die liggaam, gees, hart en siel in.

So, daar het jy dit; die sosiale voordele van ʼn glimlag is eindeloos. Die blote daad van glimlag wys reeds vir die wêreld dat jy gereed is om betrokke te raak.

ʼn Glimlag wys dat jy betrokke en ontvanklik is. Dit is ʼn uitnodiging om te gesels en ʼn nie-verbale teken wat sê jy is beskikbaar vir sosiale interaksie.

Hierdie positiwiteit maak jou oop vir meer ervarings en daar is bewys dat dit verhoudings met ander en jouself verbeter.

Onthou:

(Grafika verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Ware woorde na ‘n sosiale interaksie droogte van twee jare. Mag maskers, Zoom en videobel vir ewig in die asblik beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.