Dié velsorgbestanddele is vanjaar se gunstelinge

(Foto: Pexels/Karolina Grabowska)

Kenners meen ingewikkelde velsorgroetines gaan vanjaar plek maak vir vars, veeldoelige produkte.

Kevin Khosa, ʼn velsorgkenner van die plaaslike skoonheidsreeks Skin Functional, verduidelik dat drukkende geldsake en Generasie Z se groeiende behoefte aan ʼn vereenvoudigde velsorgroetine deesdae handelsmerke dwing om maklike, eenvoudige velsorgroetines te bevorder met produkte wat meer as een velsorgvoordeel kan bied.

“In 2023 het ons gesien hoe aktiewe bestanddele voorrang geniet het in velsorg, met die aanvraag na serums wat wêreldwyd amper verdubbel het. Plooivermindering en teenverouderingsprodukte was nog altyd ʼn moet-hê-item, maar natuurlike, skoon aktiewe bestanddele is nou meer in aanvraag as ooit,” sê Khosa.

Wat is aktiewe bestanddele in velsorgprodukte?

Dít verwys na bestanddele wat goed nagevors is om spesifieke velsorgprobleme te teiken en sigbare resultate lewer. Deesdae word hulle veral in produkte soos gesigserums en vogrome gebruik.

Volgens Khosa gaan veral dié aktiewe bestanddele groot wees in 2024:

  • Niasienamied (niacinamide)

Niasienamied is in 2023 deur die modetydskrif Vogue as die jaar se “moet-hê-bestanddeel” bestempel. Volgens Khosa gaan dit vanjaar veral ʼn gunsteling bly omdat dit vir alle ouderdomme en veltipes geskik is.

Niasienamied het ʼn uiters hidrerende uitwerking op veral die buitenste laag van die vel en help boonop om vogtigheid te behou. Danksy die anti-inflammatoriese eienskappe is dit ook ideaal vir ekseem of rooi en olierige velle.

“Al is dit dekades lank reeds ʼn integrale deel van velsorg, het dit danksy Instagram en TikTok veral onder beïnvloeders gewild geword. In die afgelope twee jaar alleen het die gebruik van niasienamied in die skoonheidsbedryf met meer as 220% gestyg.”

  • Alternatiewe retinoïede (bio-retinol)

Retinol het as bestanddeel ook ʼn herlewing geniet danksy sosiale media, met baie wat dié kragtige bestanddeel die afgelope twee jaar deel van hul daaglike velsorgroetine gemaak het.

Retinol, in sy tradisionele vorm, is ʼn kragtige vorm van vitamien A en word dikwels met die behandeling van aknee vereenselwig.

Volgens Khosa is alternatiewe retinol, ook bekend as bio-retinol, egter nou ʼn groeiende tendens omdat dié weergawe uit sagter formules wat plantgebaseer, eerder as vitamien A-gebaseer is, bestaan.

“Sommige tradisionele retinol-formules kan te hard wees vir sensitiewe veltipes, maar bio-retinol is perfek vir mense met ʼn normale tot sensitiewe vel. Dit lewer soortgelyke resultate as retinol, maar sonder die irritasie, rooiheid en droogheid wat gewone retinol kan veroorsaak.”

Soek produkte met bestanddele soos bakuchiol en aselaïensuur indien gewone vitamien A jou vel irriteer.

  • Koperpeptiede

Peptiede help om beskadigde selle in die vel te herbou en herstel en help die vel om kollageen te produseer, wat die velverouderingsproses vertraag.

Daarom word daar volgens Khosa dikwels daarna verwys as “botoks in ʼn bottel”.

“Internetsoektogte na ‘koperpeptiede’ het meer as 600% toegeneem sedert 2019 en ons kan verwag dat dit beslis vanjaar ʼn groeiende gonswoord gaan bly,” sê Khosa.

  • Alfahidroksisure

Dié organiese suur kom in sekere kossoorte voor en word in ʼn verskeidenheid van velsorgprodukte en skoonheidsprosedures gebruik.

Glikoliese sure en melksure is volgens Khosa die mees belowende en goed nagevorste alfahidroksisure omdat hulle minder geneig is om velirritasies te veroorsaak.

Dié bestanddeel is ʼn afskilferproduk, bevorder kollageenproduksie, verminder plooie en bevorder bloedvloei in die vel.

  • Slakslym

Slakslym is nog altyd ʼn gunstelingproduk onder Koreaanse skoonheidshandelsmerke danksy sy hoë waterinhoud en bevogtigingsvoordele.

Bykomende bronne: Allure, Glamour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.