Grimeerkunstenaar verklap: dié produkte nie jou geld werd

Domonique de Lange, ʼn professionele grimeerkunstenaar. (Foto: Verskaf)

Talle vroue sal kan beaam hoe maklik dit is om in skoonheidsafdelings se aanloklike strikke te trap.

Ons winkelrakke én gunsteling-beïnvloeders se sosialemediablaaie is kort-kort vol van die een of ander nuwe glans, salf, room of grimeerpotlood, maar is dit nodig om ons gesigte en beursies met al hierdie produkte te belas?

Domonique de Lange, ʼn professionele grimeerkunstenaar van The Make-Up Isle en stileerder met 12 jaar se ervaring in dié industrie, glo dat grimering maklik aangewend en effektief gebruik moet word.

“Ek dink nie dat professionele, duurder produkte óf ʼn ingewikkelde proses met 10 stappe die gewone vrou gepas is nie. Ek dink enige vrou kan met min moeite sorgloos mooi lyk, en my passie is juis om grimering aan te wend op so ʼn wyse dat dit die vrou se natuurlike skoonheid beklemtoon.”

Daarom is hierdie produkte volgens Domonique nie jou geld werd nie:

  1. ʼn Basislaag (oftewel primer)

Sy meen dit is totaal onnodig om geld te spandeer op ʼn produk wat net nóg ʼn laag grimering op jou vel beteken en dikwels nie na wense werk nie. “As ʼn grimeerkunstenaar is dit veral ʼn ewige stryd om ʼn basislaag op te spoor wat vir almal se vel werk, én dan kos dit boonop ʼn arm en ʼn been.”

    • Gebruik eerder: ʼn ordentlike sonroom

“As ʼn mens van die begin af jou vel mooi oppas, is dit nie nodig vir ekstra lae produkte nie. Ek gebruik veel eerder my daaglikse sonskerm as ʼn basislaag vir myself, en ook op kliënte se gesigte. Talle sonskerms het boonop deesdae ʼn tint. As jy gelukkig is met die gesondheid van jou vel, kan jy selfs jou onderlaag hiermee vervang.”

(Foto: Antoni Shkraba/Pexels)

  1. Grimeersponsies

“As jy nie van plan is om jou grimeersponsie met kookwater skoon te maak ná elke gebruik nie én hom in elk geval na sewe dae te vervang nie, hou liefs verby!”

Volgens Domonique besef baie vroue nie watter broeiplek ʼn klam grimeersponsie vir bakterieë kan word nie en gevolglik watter impak dit op hul vel se gesondheid kan hê nie.

“Diegene wat hul sponsies natmaak voordat hulle dit gebruik, het nie die tyd of die energie om hom deeglik te was en droog te maak nie. Hulle eindig net so klam en vol onderlaag in ons grimeersakkies, laaie of handsakke op, en lê en broei in kieme totdat ons die volgende oggend weer ons grimering aanwend.”

    • Gebruik eerder: ʼn goeie stel grimeerkwassies

“ʼn Mens kan soveel met die regte gereedskap doen, en ek glo dat goedkoop koop, duur koop is wanneer dit by grimering en jou vel kom. Grimering is nie gemaak om ʼn slegte vel te verbloem nie, maar om jou natuurlike skoonheid te laat uitblink. Jy kan nie dit doen as jy vuil gereedskap gebruik nie.”

Domonique stel voor dat diegene wat grimeerkwassies gebruik hulle minstens een keer ʼn week met babasjampoe of selfs gesigwasmiddel skoonmaak.

“Moet ook nie jou borsels regop sit om droog te word nie: ʼn mens lê hulle altyd plat op ʼn handdoek of lappie neer om te voorkom dat die water in die borsels intrek en die gom, wat al die haartjies in plek hou, losmaak.”

(Foto: Raphael Lovaski/Unsplash)

  1. Gesigsetsproei (setting spray)

“Die argument rondom gesigsetsproei is nogal kontroversieel in my beroep,” terg Domonique.

“Volgens my is die produk nie altyd jou geld werd nie. Ek fokus eerder op die belangrikheid van goeie bevogtiging vir die vel, veral voordat grimering aangewend word.”

“Gesigsetsproei voel ook dalk lekker op die vel, maar is nie noodwendig so effektief soos wat ʼn mens dink wanneer dit by die langdurigheid van jou grimering kom nie. Party kan selfs met jou onderlaag bots en dit makliker laat skei.”

    • Gebruik eerder: gesigpoeier en rooswater deur die dag

Ek is baie lief daarvoor om ʼn 100% organiese rooswater in ʼn klein spuitbotteltjie byderhand te hou en deur die dag aan te spuit nadat ek die oggend my grimering met ʼn goeie gesigpoeier geset het. Dit bevogtig die vel, voorkom velirritasies, is heerlik verfrissend en boonop baie bekostigbaar.”

(Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.