Jel of akriel: Wat is die beste vir my naels?

(Foto: Pixabay)

Daar is verskeie redes hoekom mense verkies om kunsmatige naels aan te sit. Party mense het ʼn nare gewoonte om hulle naels te byt, wat hulle nie kan laat vaar nie, ander se naels is baie sag en breek maklik af en nog ander hou bloot net van hoe kunsmatige naels hulle laat lyk en voel.

Die twee gewildste opsies vir kunsmatige naels is jel en akriel, en aangesien dit heeltemal verskillende produkte is, is daar verskillende voor- en nadele vir elk.

Blanch Piek, ʼn naeltegnikus van Pretoria, sê die opsie wat jy kies, hang van jou eie voorkeure af en tegnieke en uitkomste wissel dikwels van tegnikus tot tegnikus.

Sy stel voor dat mense wat natuurlike mooi naels het jelnaels kies omdat dit meer natuurlik voorkom. Sy sal weer ʼn stel akrielnaels voorstel vir mense wie se naels baie kort is of wat graag harder en langer naels wil hê.

“’n Groot verskil is dat jelnaels meer natuurlik voorkom, maar die onderhoud daarvan is meer gereeld (elke 2 weke), terwyl akrielnaels dalk nie altyd so natuurlik lyk nie, maar die onderhoud is baie minder (elke 4 tot 6 weke),” verduidelik sy.

Piek sê jelnaels kom natuurliker voor omdat dit dunner is, terwyl akriel baie dikker is. Mense sal ook makliker verkies om jel op hul toonnaels te laat doen, eerder as akrielnaels.

“Jelnaels op jou toonnaels hou ook baie langer, omdat jy baie minder met jou tone doen as met jou vingers,” sê sy.

Hier is die verskil tussen die twee:

Akriel

Wat is dit?

In sy eenvoudigste vorm is akrielnaels ʼn mengsel van poeier-polimeer en vloeistof-monomeer wat ʼn soort deeg vorm om kunsmatige naels mee te bou. Dit het nie ʼn lampie nodig om droog te word nie, maar word op sy eie droog.

Akrielnaels hou sowat 4 tot 6 weke.

Wat jy moet weet:

  • Dit hou langer as jelnaels.
  • Duurder as jelnaels per sessie.
  • Baie hard en breek nie maklik nie.
  • Kan minder natuurlik lyk as jelnaels omdat dit dikker is.
  • Naels kan langer gemaak word of ʼn spesifieke vorm aanneem.
  • Daar is baie kleure beskikbaar.
  • Dit is vinnig droog en sal nie smeer nie.
  • Dit vat langer om te laat doen as jelnaels.
  • Moeiliker om korrek aan te wend; jy moet dus ʼn goeie tegnikus kry.
  • Kan naels beskadig as dit nie reg aangewend of afgehaal word nie.

Jel

Wat is dit?

Jelnaels word geskep deur ʼn jelagtige naellak op die naels te verf. Dit kan vergelyk word met ʼn rubberlagie op jou nael. ʼn UV- of LED-lampie is nodig om die naellak droog te maak en op jou vingernaels te vestig. Jel is duursamer as gewone naellak en kan langer hou sonder om beskadig te word.

Jelnaels hou sowat 2 tot 3 weke.

Wat jy moet weet:

  • Goedkoper as akriel per sessie (maar kan duurder uitwerk oor ʼn lang tyd).
  • Dit hou nie so lank soos akriel nie.
  • Lyk meer natuurlik as ander kunsmatige naels.
  • Naels kan opgebou word met seker tipes jel.
  • Jel wat opgebou word dat dit baie lank is, kan makliker kraak of breek.
  • Die jel raak baie vinnig droog en sal nie smeer nie.
  • Baie kleuropsies is beskikbaar.
  • Word makliker beskadig as jou hande baie besig is of baie in water is.
  • Kan jou naels beskadig as dit nie reg aangewend of afgehaal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerneels ·

Sulke lang naels is onhigiënies.

Ek sit solank my mosdop op om te koes vir die klippe….

Adri ·

Ek gril my morsdood vir sulke vals naels, waarvan dit ook al gemaak is. Natuurlike, goed versorgde naels is pragtig en verleidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.