Koop só aanlyn en geniet dit

(Foto: Pickawood/Unsplash)

Deur Lizel van der Westhuizen

Daar is ʼn goeie rede waarom aanlyn inkopies teen ʼn ongelooflike tempo groei en ʼn groot bedreiging vir winkels geword het.

Oor die jare het talle vroue hulle tot aanlyn winkels gewend om hul stylkennis te verbeter en meer verskeidenheid en uniekheid tot hulle klerekas te voeg.

Ek is maar een van die vroue wat baie van my klere aanlyn koop en só spaar ek tyd en brandstof.

Daar is seker nou baie van julle wat jul oë rol en dinge sê soos:

  • Ek ken nie my grootte in ander handelsmerke nie.
  • Wat as ek nie daarvan hou nie?
  • Hoe vind ek iets wat my sal pas?

Ek verstaan en het dieselfde vrese gehad totdat ek die water getoets het. Natuurlik het alles nie altyd uitgewerk soos beplan nie, maar met die verloop van tyd het ek baie geleer en deesdae is my aanlyn inkopies ʼn groot sukses.

Hier is my eie beproefde oplossings om aanlyn inkopies te doen en dit te geniet.

‘n Skermgreep van ‘n klerewinkel se aanlyn.

11 redes waarom aanlyn inkopies slim is:

(Foto verskaf)

Jy kan jou grootte vind: Dit is veral waar wanneer dit kom by plusgroottes. Groter klere verkoop dikwels eerste uit in winkels. Fisiese winkels in winkelsentrums of plaaslike winkelgebiede het net ʼn beperkte hoeveelheid spasie. Hulle het nie, soos aanlyn winkels, groot pakhuise waarin hulle produkte kan stoor nie. Verder kan hulle ook net ʼn vasgestelde hoeveelheid op ʼn slag bestel, wat beteken dat hulle dalk net een of twee groter nommers inkry. Aanlyn is jy veel meer geneig om die item in jou grootte te vind.

Dit is makliker om alles te sien wat beskikbaar is: Dit is nie nodig om deur elke rak te dwaal nie. Met die klik van ʼn knoppie of ʼn maklike blaai oor die bladsy, kan jy vinnig die opsies sien wat beskikbaar is. Baie aanlyn winkels is gewoonlik in afdelings verdeel, sodat jy maklik die item of styl waarna jy soek kan opspoor. Die meeste aanlyn winkels het ook ʼn soekfunksie waar jy spesifieke inligting, soos kodenommers, kan insleutel.

Kry stilering-idees vir die seisoen/ versameling: Kleinhandelwebwerwe wys dikwels bypassende kledingstukke wanneer produkfoto’s geneem word. In sommige gevalle sal aanlyn kleinhandelwinkels ook kykboeke vrystel, met elke seisoen of versameling, wat al die stukke vertoon wat op verskillende maniere gestileer is. Dit is ʼn goeie manier om inspirasie vir stilering te kry vir die items waarna jy gekyk het.

Wees eerste om te weet wanneer daar nuwe voorraad is: Sodra jy van ʼn handelsmerk hou, teken in op hulle nuusbrief. Só kan jy op hoogte bly van nuwe reekse of produkte wat beskikbaar is.

Kry afslag en spesiale aanbiedinge: As jy inteken op ʼn handelsmerk se sosialemediaplatforms of nuusbriewe, kry jy gewoonlik ʼn eerste-inkopie-afslag. Jy sal ook eerste wees om te weet wanneer produkte te koop aangebied word, en kan selfs eksklusiewe toegang tot spesiale aanbiedings kry. Ek hou van die feit dat wanneer jy ʼn produk by ʼn wenslys voeg, baie maatskappye jou laat weet wanneer die item te koop is.

Geen rye: Het jy al eeue lank by ʼn kasregister gewag of het jy dalk al gesukkel om iemand te kry om jou te help? Presies. Moet ek meer sê?

Vergeet van verkeer en parkeerplek: Koop in die gerief van jou huis, op pad werk toe, of in die bed. Jy kan eenvoudig nie die gerief van inkopies in die gemak van jou huis klop nie. Geen rye, geen verkeer en geen spanning nie.

Jy kan die handelsmerke vind wat by jou vorm en persoonlikheid pas: Die internet het onbeperkte moontlikhede vir enige spesifieke styl of grootte. Of jy nou ʼn retro-modeliefhebber of ʼn plusgrootte-“fashionista” is, daar is soveel modekleinhandelaars aanlyn wat in jou behoeftes voorsien. Al wat dit verg, is ʼn bietjie soekwerk. Google is natuurlik jou beste vriend in hierdie geval, maar jy moet ook behoorlik navorsing doen. Soek “bloggers” met dieselfde styl en vorm as jy en spoor hulle gunsteling-aanlyn winkels op.

Kry die nuutste modes eerste: Die nuutste modes is geneig om eerste in aanlyn winkels beskikbaar te wees, voordat dit op winkelrakke verskyn. Wees die “trendsetter” en vind daardie modegiere so gou as moontlik aanlyn.

Trek anders aan: Wanneer jy aanlyn koop, is jou klerekas uniek omdat jy nie net aantrek wat by jou plaaslike winkel beskikbaar is nie. Deur jou klere op die internet te kry, kan jy ook handelsmerke van regoor die wêreld dra.

Koop wanneer jy wil: Inkopie-ure is onbeperk. Jy hoef nie meer by winkelure te hou nie en kan inkopies doen wanneer die bui of die behoefte ontstaan. Gerieflike afleweringsopsies maak ook by geleentheid ʼn paar haastige inkopies moontlik.

Laastens, moet jy jou mates ken:

(Foto verskaf)

Vra een van jou vriende om jou mates te neem en die inligting in die nota-afdeling van jou slimfoon te stoor vir maklike toegang. Vergelyk dit dan altyd met die afmetings of grootte-spesifikasies van die kledingstuk waarin jy belangstel.

Koop slim:

Net soos met inkopies by ʼn gewone winkel, is dit slim om te dink oor wat jy reeds besit en sodoende seker te maak dat die kledingstuk wat jy koop ten minste by iets in jou kas pas. Dit sal jou help om impulsiewe aankope te vermy wat as “kaswesies” kan opeindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.