Kry só jou voete eksie-perfeksie vir die somer

Argieffoto. (Foto: Anastasiia Chepinska/Unsplash)

Met temperature wat skielik oor die grootste gedeelte van die land styg, het dit tyd geword om die winterskoene vir kaalvoete en sandale te verruil.

Gelukkig kan ʼn mens sommer in ʼn japtrap self jou voete tuis versorg, om seker te maak jy sit die hele somer lank jou beste voetjie voor.

Volg hierdie stappe om seker te maak jou voete lyk eksie-perfeksie en dat jy sonder skroom jou voete in ʼn paar sandale kan steek:

Stap 1: Maak jou naels skoon met naellakverwyderaar

Berei jou naels voor deur dit ordentlik skoon te maak. Naellakverwyderaar soos dié van Sally Hansen verwyder naellak en bevat noodsaaklike nutriënte wat help om die naelbed te versterk en die naels en kutikulas (naelriem) te bevogtig.

Selfs al het jy nie naellak op jou naels nie, sal ʼn bietjie naellakverwyderaar help om olies en vuilgoed op jou naels te verwyder voordat jy begin. Was jou voete agterna met seepwater. Die maklikste sal wees om ʼn skottel louwarm water te gebruik.

Stap 2: Knip, vyl en poleer

Begin deur jou naels te knip indien nodig en vyl dit sagkens in een rigting. Poleer dan die bokant en kante van jou naels met ʼn poleerder (buffer) om ʼn gladde oppervlak te skep.

“As jy nie poleer nie, sal die natuurlike olies op jou naels opbou en kan die oppervlak jou manikuur belemmer,” sê Rita Remark, hoofopleier by Essie.

“Polering is soos om jou tande te borsel – dit maak jou naels helder en laat dit jeugdiger lyk terwyl dit van die rande ontslae raak.”

Stap 3: Druk die kutikulas terug

Berei die kutikulas voor met kutikulaverwyderaar – maak seker dit is nie ʼn olie of salf nie – om die dooie vel te verwyder en die gebied sag te maak. Olies help om te bevog, terwyl verwyderaars ten doel het om die naelbed af te skilfer. Druk die kutikulas dan sagkens terug met ʼn kutikulastokkie. Jou kutikulas beskerm jou naels teen bakterieë en hou hulle sag, so vermy dit om dit te knip.

Stap 4: Skilfer jou voete af

Verwyder droë vel van jou voete met ʼn voetskuurder of puimsteen. Maak seker jy fokus op die hakke en ander dele wat eelte of droë velle het. Skraap jou voete totdat dit glad voel, maar moenie skraap tot jou vel rou is nie.

Gebruik weer jou kutikulastokkie om onder jou naels skoon te maak. Was weer jou voete en maak hulle deeglik droog.

Stap 5: Bevogtig jou voete en kutikulas

Bevogtig nou om te verhoed dat jy later ʼn byna droë naellak bederf. Maak van die geleentheid gebruik om jouself ʼn voetmassering te gee – net omdat jy nie by ʼn spa is nie, beteken dit nie jy kan nie vir ʼn paar minute ontspan nie. Vee elke nael weer met naellakverwyderaar af om enige oortollige bevogtiger te verwyder.

Argieffoto. (Foto: Towfiqu Barbhuiya/Unsplash)

Stap 6: Wend ʼn basislaag aan

Wend ʼn basislaag aan om die naels te hidreer en beskerm en om versplintering te voorkom. Laat jou naels ʼn bietjie rus. Naelkenner Essie Weingarten, stigter van Essie, beveel aan dat jy sowat twee minute tussen elke laag wag en met ʼn basislaag begin.

Stap 7: Wend die eerste laag naellak aan

Dit is die prettige deel: Wend ʼn naellak in die kleur van jou keuse aan en maak seker jy wend dit al die pad tot by die kutikulas aan en in die hoeke van jou naels. Maksimum bedekking met die eerste laag verseker dat die tweede laag makliker aangewend kan word. Hou die eerste laag dun.

Stap 8: Wend die tweede laag naellak aan

Ná twee minute (stel jou selfoon se tydhouer as jy weet jy gaan ongeduldig raak) wend jy die tweede laag naellak aan. Deurskynende naellak of pastelkleure kan dalk ʼn derde laag vereis. Onthou om elke laag dun te hou.

Stap 9: Wend ʼn bolaag aan

ʼn Bolaag beskerm jou pedikuur teen versplintering en voeg glans by jou naels. Moenie dié stap oorslaan nie, anders sal jy die rakleeftyd van jou pedikuur aansienlik verkort. Wees versigtig wanneer jy die bolaag aanwend, aangesien ʼn morsige aanwending jou hele pedikuur kan bederf.

Stap 10: Maak rowwe rande netjies en laat jou naels droog word

Maak enige foute of rowwe rande netjies deur ʼn stukkie watte wat in naellakverwyderaar gedoop is om jou kutikulastokkie te draai. As jy naellakverwyderaardoekies het, vou dit in ʼn driehoek vir ʼn presieser aanwending. Laat jou naels dan vir ʼn bykomende vyf minute droog word.

Bykomende bronne: Glamour, Cosmopolitan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.