Lyk mooi met dié grimeerwenke vir brildraers

Jou bril hoef nie jou grimering te kelder nie. (Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

ʼn Bril is vir baie van ons nie net ʼn broodnodige manier om die wêreld om ons te sien nie, maar ook ʼn unieke bykomstigheid om vir die wêreld meer van onsself te wys.

Ongelukkig kan dit vir talle vroue ʼn hindernis wees wanneer dit by grimering kom, veral as jy die bril benodig om grimering aan te wend.

Van ons gebruik dit ook dikwels as verskoning om nie moeite met ons voorkoms te doen nie, maar kenners meen jou bril hoef nie jou grimering te kelder nie.

Hier is ʼn paar grimeerwenke vir brildraers:

Gebruik ‘n goeie basis

(Foto: Pavel Danilyuk/Pexels)

‘n Goeie basis (primer) is die sleutel tot enige grimeervoorkoms, maar veral as jy ʼn bril dra.

Kies ‘n ligte, olievrye basis wat maklik deur die vel geabsorbeer word, en moenie te veel aanwend nie, veral nie op die brug van jou neus nie.

Rond dit dan met ‘n gesigpoeier af om te voorkom dat jou bril van jou neus af gly. Jy kan selfs ʼn bietjie poeier aan die onderkant van jou brilraam aanwend om te verhoed dat dit merke op jou neus agterlaat.

Fokus op jou oë

(Foto: Taylor Heery/Unsplash)

Jou oë bly ʼn fokuspunt van jou gesig, veral as jy ʼn bril dra, daarom is dit belangrik om grimering aan te wend wat hul gaan definieer en groter laat lyk agter jou lense.

Hou in gedagte dat ʼn bril geneig is om skaduwees onder oë te skep, so vermy produkte wat jou oë donkerder laat lyk. Kies eerder ligter oogskadu wat jou oogkleur én brilraam komplementeer. Omlyn jou oë aan die binnekant met ʼn wit oogpotlood, wat dit onmiddellik groter sal laat lyk.

As jy nie kans sien vir oogskadu nie, wend swart of gekleurde oogomlyner aan jou boonste wimperlyn aan om jou oë op te helder en groter te laat lyk.

Indien jy lang oogwimpers het, is dit belangrik om maskara te kies wat nie teen jou lense gaan afsmeer nie. Oorweeg moontlik ʼn waterdigte maskara en krul jou wimpers voordat jy dit aanwend.

Wen met wenkbroue

(Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

As jou oë die vensters na jou siel is, dan is jou wenkbroue soos die vensterraam. Daarom moet hulle goed versorgd wees.

Kies ‘n wenkbroupotlood of -poeier om jou wenkbroue te definieer, en gebruik dan ‘n wenkbrougel om hulle op hul plek te hou. Let op dat die skakering by jou haarkleur moet pas, blondines het nie pikswart wenkbroue nie.

Maak seker dat die vorm van jou wenkbroue ooreenstem met die grootte en styl van jou brilraam: ʼn dunner wenkbrou werk goed saam met dikker rame en dunner rame laat ʼn meer gedefinieerde wenkbrouvoorkoms toe.

Jy mag steeds “bloos”

(Foto: Tamara Bellis/Unsplash)

Moenie jou blosser vermy net omdat jy ʼn bril dra nie, maar wend dit eerder aan nadat jy jou bril opgesit het om te sien watter dele van jou gesig deur jou bril bedek word. Probeer eerder ʼn romerige blosser eerder as een met ʼn poeierbasis om te vermy dat dit teen jou raam afsmeer wanneer jy glimlag.

Minder is meer

(Foto: Designecologist/Pexels)

As jy ‘n bril dra, kan oormatige grimering veroorsaak dat jou voorkoms té besig lyk, veral as jou oogskadu én brilraam baie helder is. Indien jy nie kans sien vir baie ooggrimering nie, kies eerder ʼn lipstiffie of lipglans wat jou brilraam komplementeer. ʼn Dunner, eenvoudige raam laat veral toe vir ʼn helder lipkleur en kan só jou voorkoms opkikker.

Bronne: Glamour UK, Maybeline.com, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.