Maroela Media-matriekafskeidgids: Gaan vir goud met dié grimeerwenke

(Foto: Yunona Uritsky/Unsplash)

Met dié dat sommige matriekafskeidpartytjies deesdae byna dieselfde hoeveelheid energie, tyd én geld as ʼn klein troue verg, meen kenners dat ʼn mens nooit te vroeg kan begin beplan nie.

Maroela Media het met ʼn paar ervare kenners en matrikulante se ma’s gesels om ʼn matriekafskeidgids en lekker geldspaarwenke op te stel.

Die eerste aflewering van die gids bespreek die belangrikheid van begrotings, asook wenke van modeontwerpers oor waar om te begin wanneer dit by ʼn rok of pak vir die groot aand kom.

In die tweede deel gee Maretha Garnham, haarkapper en eienaar van Flow Hair Designs in Sandton, Johannesburg, wenke om seker te maak dat almal spoggerige kapsels op hul matriekafskeid kan hê.

Nou vertel Domonique de Lange, ʼn professionele grimeerkunstenaar van The Make-Up Isle en stileerder met 12 jaar se ervaring in dié bedryf, hoe om jou gesig en geldsak voor te berei vir die groot aand se grimering.

Hoe moet seuns en meisies hulle velle versorg in aanloop tot die groot aand?

(Foto: Amy Shamblen/Unsplash)

Domonique stel voor dat seuns en meisies albei ʼn goeie gesigwas soggens en saans gebruik wat bevogtigend op die vel is. Daarmee saam kan hulle soggens ʼn dagroom met ʼn sterk SBF (30 of meer) aanwend – veral as hulle na skool sport beoefen.

Saans kan hulle ʼn ordentlike vogroom aanwend.

Sy moedig meisies wat vir gesigbehandelings wil gaan aan om minstes een tot twee maande voor die groot geleentheid daarmee te begin om die vel kans te gee om te herstel, veral as daar dalk sensitiewe reaksies daarop is.

“Jy moet ook so min as moontlik aan jou gesig vat deur die dag, veral met vuil hande. Diegene wat hul gesig deur die dag vogtig wil hou, kan net ʼn botteltjie rooswater byderhand hou en hul gesig daarmee afkoel en verfris.”

Moet meisies toetslopies vir grimering gaan doen en hoe duur is dit?

“Dit is altyd lekker om sekerheid te hê, maar dit is nie noodwendig nodig vir ʼn toetslopie nie; dit jaag mens ekstra geld uit die sak, veral as jy nie oordadige grimering wil hê nie. Ek sal eerder daai geld gebruik vir goeie velsorg of behandelings in aanloop tot die matriekafskeid.”

Ouers en tieners wat wel vir toetslopies wil gaan, kan volgens Domonique tussen R350 en R550 daarvoor begroot, maar sy waarsku dat grimeerkunstenaars se pryse verskil afhangend van gewildheid en die produkte wat hulle gebruik.

Party grimeerpakkette sluit reeds toetslopies by die prys in.

Watter tendense is tans in die mode vir grimering?

Vars, verfrissend en ʼn natuurlike gloei is aan die orde van die dag wanneer dit by hedendaagse grimeertendense kom.

“Die nuutste tendens is sogenaamde glass skin,” verduidelik Domonique.

“So niks wat te mat of droog lyk nie, alles moet so lig en sag as moontlik wees. Vleeskleur lippe met ʼn glans is al vir ʼn hele ruk in die mode en gaan waarskynlik nie binnekort verdwyn nie.”

Swaar ooggrimering en dik maskara is ook volgens Domonique iets van die verlede, daarom stel sy voor dat diegene gelate hul wimpers of wenkbroue laat tint vir ʼn meer natuurlike voorkoms.

“Sagte, natuurlik skakerings met ʼn ligte glans in die binneste hoekies, is nou orals te sien.”

Raad om jou grimering langer te laat hou

“As grimeerkunstenaar bied ek ʼn touch-up-sakkie vir elk van my kliënte aan om seker te maak hulle het alles wat nodig is om hul grimering vars te hou tydens die geleentheid wat hulle bywoon,” verduidelik Domonique.

Benewens rooswater as verfrisser, stel sy voor dat kliënte ʼn lipstiffie byderhand hou – verkieslik dieselfde of soortgelyke skakering as dié wat die grimeerkunstenaar aangewend het.

Hoe kan jy geld bespaar wanneer dit by grimering kom?

Party grimeerkunstenaars kwoteer volgens foto’s wat aangestuur word, verduidelik Domonique. Daarom is dit belangrik om sorgvuldig met voorstelle te wees en presies te verduidelik wat jy as kliënt wil hê.

“ʼn Ander manier is om ʼn grimeerwerkswinkel by te woon om te leer hoe om jou eie grimering te doen. Só leer jy ʼn nuwe vaardigheid aan en hoef daar nie ʼn professionele persoon ingeroep te word nie.”

Toetslopies kan ook vermy word om geld te bespaar.

YouTube, TikTok en Instagram loop byna oor van voorkomsbeïnvloeders wat daagliks video’s met grimeervoorkomste en ‑wenke deel.

Klop aan by jou naaste winkelsentrum

Diegene wat naby groot winkelsentrums woon, kan by winkels met grimeertoonbanke vir hulp aanklop.

Handelsmerke soos Mac en Bobbi Brown kan jou grimering by die toonbank doen, maar voorafbesprekings is nodig.

Die prys sluit dikwels die aankoop van produkte tot die waarde van die betrokke grimeerproses in. Só gaan jy darem met ʼn nuwe produk of twee huis toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.