Sakpaswenke as skoonheidsinkopies die beursie knou

Argieffoto. (Foto: Suzy Hazelwood/Pexels)

Dit is geen geheim dat die strewe na skoonheid ʼn duur affêre is wat ʼn groot duik in vroue se beursies laat nie.

Die maandelikse besoek aan ons naaste apteek begin dikwels met die soektog na “slegs een of twee” items en eindig met nóg ʼn onnodige lipglans of naellak.

Vir baie vroue is voorheen maandelikse skoonheidsbehandelings ook nou ʼn “af en toe” luuksheid wat prys gegee is om geld te bespaar.

Die span van die Gold Series-parfuumhandelsmerk glo egter dat ons steeds mooi kan voel én lyk deur koste-effektiewe oplossings aan te gryp en ons kreatiewe kant te verken.

Hier is vier van hulle besparingswenke:

Gebruik elke laaste druppel

(Foto: Karolina Gradowska/Pexels)

Kry die meeste uit jou skoonheidsprodukte en gebruik dit totdat dit werklik heeltemal klaar is. Sny plastiekbuisies oop en stoor bottels op jou skoonheidskassie onderstebo om die oorblywende produk daaruit te skep. Dun grimeerkwassies kan ook gebruik word om veral oorblywende onderlaag wat in glasbotteltjies is, uit te krap.

Meng jou laaste bietjie onderlaag verder met vogroom om die meeste daaruit te kry.

Veeldoelige produkte

Kies skoonheidsprodukte wat verskeie doeleindes dien. Soek byvoorbeeld items soos getinte bevogtigers met SPF, wat hidrasie, sonbeskerming én ligte bedekking kombineer. Baie lipstiffies kan sommer as ʼn blosser aangewend word en verbronser (bronzer) kan ook as oogskadu gebruik word.

Moet ook nie die waarde van gesigsetsproei (fixing spray) onderskat om jou grimering vir langer vars en in hul plek te hou nie. Só vermy jy ook dubbele aanwending deur die dag.

Op hierdie manier kan jy die aantal produkte wat jy moet koop, verminder.

Maak jouself tuis mooi

(Foto: Cottonbro Studio/Pexels)

In plaas daarvan om gereeld ʼn salon vir manikure en pedikure te besoek, oorweeg dit om jou naelsorg tuis te doen. Belê in ʼn naelstel van goeie gehalte wat ʼn spykervyl, naelvelletjiedrukker en naelknippers insluit.

Deesdae kan ʼn mens ook jou eie oondjie vir jelnaels aankoop. Nooi ʼn paar vriendinne oor en maak ʼn geleentheid daarvan. Só het jy ook iemand wat kan help as jou “dom hand” geneig is om meer vel as nael raak te verf.

Ruik lekker sonder honderde Rande

Met ʼn skerp neus en ʼn oop gemoed kan jy begrotingvriendelike geure by die deodorant-rakke opspoor wat as plaasvervanger vir tradisionele parfuum kan dien. Verskeie parfuumhandelsmerke, insluitende Gold Series, verkoop ook ʼn sproei wat op hul bestaande parfuums geskoei is en nie so groot gat in jou beursie sal oorlaat nie.

Moet ook nie skaam wees om vir parfuum-toetsmonsters by skoonheidstoonbanke te vra nie. Só 5 ml is veral handig om in jou handsak te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.