Springboknooi ook mooi getooi

Republk spog met praghemde vir vroue. (Foto: Okay Deer/Verskaf)

Die Springbokrugbytruie is vir die meeste Suid-Afrikaners veel meer as net ʼn kledingstuk; dit is ʼn simbool van trots, hoop en eenheid.

Hoewel die manne veral Vrydae graag in hul groen-en-goud ondersteunerstruie pronk, hoef die vroue egter nie terug te staan om ook hul steun op ʼn ietwat meer stylvolle manier aan die Bokke te wys nie.

Hier is ʼn paar plaaslike handelsmerke waar enige trotse Springboknooi ʼn gepaste T-hemp of trui kan aankoop om in die Rugbywêreldbekergees te deel:

Republk

Republk is ʼn plaaslike handelsmerk wat trots Suid-Afrikaanse T-hemde, skoene, skokkies en bykomstighede soos sonbrille en pette verkoop. Dié unieke reeks vorm deel van De Afrikander Handelshuis (D.A.H.) wat in 2013 deur Charl en Liza-Mari Oberholzer begin is. Daar is boonop ʼn oorspronklike Republk Springbok T-hemde vir elke lid van die gesin beskikbaar.

Mevrou & Co

Dié tong-in-die-kies ontwerpe van Mevrou & Co sal ʼn glimlag op enigeen se gesig sit. Dié Kaapstad-gebaseerde maatskappy verkoop T-hemde en truie met eg en byna ikoniese Afrikaanse slagspreuke soos “Sê dankie vir die tannie”, en het sedert hul ontstaan uitgebrei na Joodse, IsiZulu en IsiXhosa ontwerpe. Rugby-aanhangers sal veral hul “Spring, bokkie” en “Komaan boys” ontwerpe geniet.

Old School

Old School Rugby Jerseys is in 2019 in die hartjie van Stellenbosch gestig en is bekend vir sy tydlose rugbytruie wat beide ʼn moderne tog nostalgiese gevoel weerspieël. Vroue kan kies en keur uit die verskeidenheid Springbok- en plaaslike rugbytruie.

To Be Gift Boxes

To Be Gift Boxes is ʼn unieke aanlyn onderneming wat klante toelaat om self met ʼn paar klikke ʼn pasgemaakte geskenkboks vol unieke plaaslike bederfies saam te stel. Dié plaaslike onderneming is deur die aktrise en sakevrou Leandie du Randt en haar skoonsus, Michelle du Randt, gestig en spog ook met wit en swart T-hemde wat perfek vir enige “Springbokkie” is.

Selfs vierpotiges kan hul steun wys

Simply Spoilt, ʼn handelsmerk wat fokus op produkte vir hondekinders, verkoop ook ʼn reeks groen-en-goud halsbande, strikdassies en jassies waarin jou woef sy steun al blaffend aan die Bokke kan wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.