Vat stink voete (en skoene) hierdie somer vas

(Foto: The Gian Sepillo/Pexels)

Marilyn Monroe het gesê dat ʼn vrou die wêreld kan verower in die regte paar skoene, maar dit help seker nie as daardie skoene teen die einde van die dag nie meer te watwonders ruik nie.

Of jy nou hierdie somer in jou beste sandale, tekkies of vellies wil baljaar, hier is ʼn paar wenke om te sorg dat jy altyd jou beste (en varsste) voetjie voorsit.

Begin by goeie voethigiëne

  1. Hou jou voete skoon en droog

Was jou voete daagliks en deeglik om sweet, bakterieë en onaangename reuke te voorkom – veral tussen die tone.

Droog hulle ook behoorlik met ʼn handdoek af, of loop ʼn rukkie kaalvoet. Bakterieë floreer in vogtigheid, so hoe droër jou voete is voordat jy skoene aantrek, hoe beter.

Maak ook seker om elke keer skoon, droë sokkies aan te trek as sy skoene verruil.

  1. Peperduur pedikuur onnodig

Bederf jouself met ʼn vinnige tuispedikuur deur die voete gereeld af te skilfer en toonnaels te versorg.

Vir diegene met droë vel, gebruik ʼn afskilferende voetskrop om die oppervlak van alle skilferige, dooie selle te verwyder. Gebruik liefs ʼn suiker as afskilferingsproduk omdat produkte met sout die vel kan laat uitdroog.

Week jou voete in louwarm water met rooibostee of olies wat laventel of bloekom bevat. Dié drie bestanddele help om slegte reuke te bekamp en is boonop goedkoop. Kies ʼn voetsalf met dieselfde bestanddele om jou voete saans mee te bevogtig.

Onthou om ʼn deursigtige beskermende naellak op jou toonnaels aan te wend voordat jy hulle inkleur. Verwyder dit ná twee weke en gee jou naels bietjie ruskans voordat jy ʼn nuwe kleur aanwend. Só vermy jy infeksies en vlekke.

Argieffoto. (Foto: Towfiqu Barbhuiya/Unsplash)

  1. Gemak belangriker as mooi

Kies skoene wat jou voete genoeg ondersteuning bied, selfs al sit jy die meeste van die tyd agter ʼn rekenaar.

Skoene wat nie behoorlik pas nie, kan pynlike eelte, blase en selfs ingroeitoonnaels veroorsaak. Diegene met siektes soos diabetes of sirkulasieprobleme moet veral nie skoene dra wat te styf is en skade aan hul voetsenuwees kan veroorsaak nie.

Hoewel hakskoene voordelig vir vroue se postuur is, waarsku kenners teen die langdurige dra daarvan. Omdat dié stylvolle skoen die voet in ʼn onnatuurlike posisie dwing, kan dit in die lange duur tot pyn in die rug en knieë lei.

Kenners stel voor dat hakke tussen 3 en 5 cm nie langer as vier ure op ʼn slag gedra moet word nie. As jy dus hakke in die kantoor dra, probeer om jou voete ʼn blaaskans deur die dag te gee.

Rol saans ʼn gholfbal of iets soortgelyk aan die onderkant van jou voet om spiere te help versterk en beweging te bevorder – iets wat nie in hakke gebeur nie.

Beskerm só jou skoene

(Foto: Azka Nandya/Pexels)

Ventilasie is een van die belangrikste aspekte wanneer dit by die versorging van jou skoene kom. Nes voete, kan klam en pas gebruikte skoene ʼn broeiplek vir bakterieë word en boonop jou hele klerekas onaardig laat ruik.

Maak ʼn gewoonte daarvan om die skoen wat jy daardie dag gedra het, daagliks aan die binne en buitekant met ʼn sagte, klam lappie af te vee – afhangend van die tipe skoen wat jy dra.

Wissel jou skoene ook af sodat hulle kans het om behoorlik droog te word of gebruik ʼn voetsproei of -poeier om vog op te droog.

Party skoene het ook spesiale behandeling nodig:

  • Leerskoene

(Foto: Shvets Production/Pexels)

Sagte leer soos suede en vellies kan minstens een keer ʼn maand met ʼn leerbeskermingsproei of salf behandel word. Só keer jy dat water of oliekolle jou skoene beskadig.

Effens klam of gedeeltelik nat leerskoene moet ook toegelaat word om in kamertemperatuur heeltemal uit te droog voordat dit weggepak word.

Vermy dit om hulle in direkte sonlig uit te droog, dít kan die leer laat kraak of dof maak.

  • Tekkies of drafskoene

(Foto: Madisyn/Pexels)

Hier is sosialemedia jou maatjie, met talle TikTokkers wat daagliks wenke deel om veral wit skoene weer splinternuut te laat lyk.

Party stel ʼn mengsel van skottelgoedseep, asyn en koeksoda voor, ander gebruik selfs naellak en miselêre water (ʼn produk om grimering te verwyder) om merkies mee af te vee. Toets jou mengsel eers op ʼn klein deel van jou skoen om skade te vermy.

Tensy die vervaardiger dit spesifiseer, moenie jou gunstelingtekkies in die wasmasjien gooi nie. Die rubbersole kan lostrek en party skoene se materiale kan jou masjien ook beskadig.

Vir hardloop- of sportskoene is dit ʼn goeie idee om jou binneste sole gereeld te vervang, of genoeg uit was en deeglik in die son te laat uitdroog.

Nes leerskoene, moet oefenskoene of tekkies ook genoeg lug kry om behoorlik na ʼn dag aan jou voete uit te droog. Los hulle vir ʼn kort tydjie in die son of buite die kas voordat jy hulle in die kas bêre.

Bronne: Dr. Scholls, Women’s Health, Wiley Online Academic Library, Nike.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.