Voller figuur bruide moet ophou als wegsteek, sê ontwerper

Diaan Daniels en een van sy bruide. (Foto: Verskaf)

Elke toekomstige bruid wil graag prentjiemooi lyk op haar groot dag, maar nie almal is gebou soos die modelle in die advertensies nie.

Maroela Media het vroeër die week berig dat ʼn bruid van Meyerton nou al meer as ʼn jaar na die perfekte rok soek, maar omdat sy nie die norm pas van wat baie kleinhandelaars se idee van ʼn bruid is nie, het haar soektog nog geen vrugte gewerp nie.

Dit beteken egter nie dat voller figuur bruide soos Aspoestertjie in haar kombuisklere moet lyk wanneer sy saam haar aanstaande man voor die kansel staan nie. “Alles behalwe,” sê Diaan Daniels, ʼn bekende trourokontwerper van Johannesburg.

“Jy kan soos ʼn droom lyk op seker die belangrikste dag van jou lewe, jy kort net die regte advies,” sê hy.

In ʼn onderhoud met Maroela Media sit Daniels die moets en moenies vir voller figuur bruide wat na hul droom-trourok op soek is, uiteen.

As jy dit het, spog daarmee

“Ek praat van jou borste,” sê Daniels en verduidelik dat ʼn V-halslyn of hartvormige neklyn die beste by ʼn groter figuur pas. “Dit laat jou gesig slanker voorkom en gee die illusie van lengte as jy ʼn bietjie korter is. Dit laat ook jou skouers kleiner vertoon.”

Vir bruide wat dink hulle skouers is te breed, kan ʼn halternekhals oor jou skouers dit kleiner laat voorkom. Met ʼn lae hals, meen Daniels, is dit die perfekte kombinasie. “Onthou ook om die regte onderklere aan te trek. Deesdae is voller broekies orals beskikbaar om als in plek te hou en in te trek net waar dit nodig is. Dit kan ʼn verskil maak sodat jy jou kurwes kan spog.”

Verbloem jou probleemarea

Elke voller figuur bruid se probleemarea gaan op ʼn ander plek op haar lyf voorkom, sê Daniels. As jy ʼn uurglasfiguur het, kan ʼn snit met ʼn laer middel wat jou bolyf langer laat vertoon, ʼn goeie opsie wees. “Bruide kry die kans om te kies en te keur en te speel met verskillende roksnitte en vorme. Dit is die beste om verskillende snitte aan te pas by jou ontwerper of bruidshuis om te sien watter jou die meeste vlei.”

Verder sê hy  hoe wyer ʼn rok se soom is, hoe kleiner sal jou middellyf vertoon.

Hou op als wegsteek

Gebruik kant vir probleemareas, meen Daniels. (Foto: Verskaf)

Die heel grootste fout wat party bruide maak, is om te probeer om als weg te steek, meen Daniels. “ʼn Onvleiende, losserige rok gaan jou definitief groter laat vertoon. Aanvaar jou kurwes en spog daarmee!”

Speel ook met lyne om illusies te skep. Daniels stel voor dat vertikale lyne en skuins-plooie op ʼn rok se bostuk, wat loop tot by jou middel, ook die illusie van ʼn kleiner en langer figuur skep. ʼn Asimmetriese ontwerp, sê Daniels, is ook altyd ʼn wenner.

As die bruid wel selfbewus is oor haar arms, kan ʼn deursigtige vleeskleurige materiaal met fyn kantdetail die probleemarea in ʼn pragtige glanspunt omskep. “Dit kul jou oog en lyk amper soos ʼn kant tatoe teen jou arm af.”

Hy sê verder dat ʼn voller figuur bruid ook haar rug kan wys, as sy ʼn laer rok sou verkies. “In die geval gebruik ontwerpers weer net ʼn deursigtige materiaal wat soos jou vel lyk. Mooi knopies kan dit afrond en jy kan swakpunte wat jy nie wil wys nie, verdoesel met stukkies kant wat fyn geplaas word op jou rug of selfs met kralewerk.”

Voller figuur bruide hoef ook nie skaam te wees om ʼn skouerlose rok te kies nie, mits die konstruksie aan die binnekant van die rok jou ondersteun deur middel van ʼn korset. “Dit kan slegs ʼn sukses wees as jou ontwerper weet wat hy doen, so maak seker jy kies die regte ontwerper vir hierdie taak.”

Dink mooi oor die kleur

Wit, meen Daniels, is ʼn baie strak kleur wat ʼn bruid se lyf groter kan laat vertoon en stel hy dus warmer en dieper kleure soos sjampanje of ivoor voor. Vir bruide wat dalk effens waaghalsig is en ʼn kleurliefhebber is, kan ʼn donkerblou, dieprooi of pers ook treffend wees.

“Ek vind dat die meeste groter figuur bruide te skaam is om ʼn ontwerper te nader, want hulle voel selfbewus, maar dit is juis ons werk as ontwerpers om met figuurprobleme te help en jou die beste raad te gee wat by jou lyf sal pas.

“Jy sal verbaas wees dat die meeste style van rokke eintlik by jou lyf kan pas, as die ontwerper kennis dra van jou probleemareas. Moenie huiwer nie en klop sommer dadelik aan by my of die ontwerper van jou keuse,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annakapat ·

Diaan, help dan sommer die bruid wat sê sy sukkel om ‘n rok te kry pro Bono… Asb? Wys die ander ontwerpers hoe dit gedoen word.

Nicolene ·

Dis mos nou ‘n man wat weet waarvan hy praat! Mal oor sy benadering.

Christa ·

Bruide se liggaame Moet n temple van God wees en nie uitlokkend vertoon nie. Alle bruide lyk lieflik as hulle ordentlike geklee is. Hulle vertoon duidelik of hulle n kuis lewe lei Aldan nie. Hoekom vir mense n vertoning van rok gee as jou God Weet jou lewe is nie rein nie.

Molly ·

Wanneer kry ons weer n nuwe seisoen van MY DROOM TROUROK!!! Ek was mal oor die mooi rokke en Diaan.

Mjvr ·

Ek stem! Help vir Nadine Els om haar droom rok te kry Diaan!

Linda ·

Diaan Daniels het die ‘magic’ om enige bruid goed te laat lyk, maar teen n prys. My hele familie se kibders, niggies ens gaan na Hollywood Designs toe in Krugersdorp om rokke te huur. Jy maak n afspraak, as jy inkom gee hulle al hul aandag aan jou. Hul rokke is asemrowend, en hul herstel dit vir jou, teen n bekostigbare prys !

Linda ·

Ek het n jaar gelede saam met my aanstaande skoondogter na Hollywood Designs in Krugersdorp gegaan. Daar het ek die mooiste trourok oout gesien met 4000 swarovski kristalle aan. n Swaar rok, maar my asem was weg geslaan, en jy kon hom huur !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.