Vyf items wat jy vir daardie afspraak moet hê

Deur Lizel van der Westhuizen

Dit is die maand van harte en rose, nuwe romanse en om huidige verhoudings op te kikker. Kom ons kyk na vyf mode-items wat jy by jou uitrustings kan voeg vir hierdie Valentynsdag.

Donker noupassende jeans. (Foto: Verskaf)

  1. Donker noupassende jeans

Jeans kan sexy wees op ʼn afspraakaand. Die belangrikste eienskap van ʼn denim is hoe dit aan jou lyf sit. As dit ʼn rekbare denim is, koop hom nommer pas, anders rek hy uit nog voor jy op jou afspraak gegaan het. Los die ligte was-denim’s (Mom Jeans) vir die dag, hulle sal óf te gemaklik óf te veel na ʼn sokkerma sʼn lyk vir ʼn aand uit met jou geliefde. Oorweeg ʼn donkerder denim in ʼn figuurvleiende pasvorm. Vlei jou rondings met jeans in ʼn skraal, reguit snit. Om jou denim afspraakgepas te laat lyk, kombineer dit met juweliersware, hakskoene en ʼn sexy top. Moenie bang wees om ʼn bietjie vel te wys nie: Jy kan wegkom met ʼn lae hals of ʼn oop rug aangesien jy jou bene bedek hou.

  1. Blink toppies

Trek jou potloodromp uit jou werkklerekas aan, of kombineer dit met ʼn paar jeans, ʼn blink toppie kan die verskil maak aan ʼn afspraakaand-voorkoms. Oorweeg ʼn pragtige sybloes of een met blinkertjies, selfs ʼn bloes met ʼn diervelpatroon. Onthou, hoe meer basies en afgerond die res van jou uitrusting is, hoe meer gewaagd kan jou bostuk wees.

Blink toppies (Foto: Verskaf)

  1. Klein sexy rokkie

ʼn Sexy rokkie is onontbeerlik in jou klerekas en die goeie nuus is daar is so ʼn rokkie vir elke liggaamsvorm. Maak seker jy het een wat net vir ʼn afspraakaand is, nie ʼn werksgeskikte “lessenaar-tot-afspraak-rok” nie. Wys jou beste eienskappe met ʼn pragtige rok. Kies ʼn mini as jou bene komplimente kry elke keer as jy dit ontbloot, of gaan skouerloos as jy goeie skouers het.

‘n Mooi rokkie is altyd ‘n wenner. (Foto: Verskaf)

  1. Oulike plat sandale

 Ná ʼn lang dag se werk weier jou voete soms om in ʼn paar ongemaklike hoëhakskoene te klim. Geen probleem nie! Kry net vir jou ʼn oulike paar plat sandale en oorweeg selfs iets wat blink. Of jy dit nou met jeans of ʼn klein swart nommertjie kombineer, trek hulle aan en kies rooi in plaas van swart of selfs iets met pêrels op.

Oulike plat sandale. (Foto: Verskaf)

  1. Taankleurige hakke

Wie wil nie langer en slanker lyk nie? Trek ʼn paar hoëhakskoene in ʼn taankleur aan om jou uitrusting te laat uitstaan. Dit is ʼn paar hakke wat by alles sal pas in jou kas, selfs vir werk, dus kan jy so ʼn bietjie duurder gaan en ʼn goeie gehalte paar koop.

Taankleurige hakke is ‘n treffer by enige uitrusting. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.