2024: Wipwaentjierit wag, maar daar is ook goeie nuus

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

2023 was dalk nie die beste jaar vir verbruikers nie, maar daar is hoop vir volgende jaar, meen kenners.

Dit sal veral volgende jaar se verkiesing en geopolitieke spanning wees wat gaan bydra tot ʼn plaaslike ekonomie wat wipplank kan ry.

Everest Wealth, ʼn private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy, meen die regering se selfgeskepte probleme is besig om die ekonomie te kelder.

Die rand was in 2023 uiters wisselvallig en het sy swakste vlak tot nog toe teen die dollar bereik te midde van verhoogde geopolitieke risiko, swak ekonomiese groei en verskeie plaaslike faktore.

“Daar is die afgelope jaar opnuut gesien hoe besonder wisselvallig ons geldeenheid is. Die rand het ook swakker presteer teenoor ander ontluikende markte se geldeenhede en bly aansienlik onderwaardeer en kwesbaar vir gebeurtenisrisiko’s,” sê Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth.

Dis ook nie net verkiesings plaaslik wat ʼn invloed kan hê nie, wêreldwyd is daar nagenoeg 40 verkiesings wat in 2024 beslis moet word.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê benewens die algemene verkiesing sal die swak wêreldekonomie en plaaslike uitdagings met infrastruktuur ʼn verdere demper op ekonomiese groei plaas.

Hy het spesifiek na die Chinese ekonomie verwys wat na verwagting tot 4,5% kan verlangsaam. En gegewe dat China die grootste handelsvennoot met Suid-Afrika is, is dit ʼn belangrike punt om in ag te hou. Volgens Parsons gaan dit veral die uitvoer van steenkool, ystererts en ander mineraleprodukte beïnvloed.

Daarbenewens is geopolitieke spanning steeds aan die toeneem, soos gesien toe Houthi-militante toegeslaan het op olietenk- en vragskepe. Sulke spanning kan die wêreldhandel ontwrig, meen Parsons.

Plaaslik is daar ook groot kommer weens die staat se geldsake wat toenemend beroerd lyk.

Baie van die ernstige risiko’s vir die fiskale vooruitsig wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) toegegee is, moet nog in die hoofbegroting in Februarie aangepak word, sê Parsons.

Teen hierdie agtergrond sal Suid-Afrika se ekonomiese groei slegs gedryf word deur neigings in uitvoere, verbruikersbesteding en beleggings.

Daar is ook ʼn bietjie hoop met toenemende bewyse dat inflasie besig is om te daal. Inflasie, wat in November 5,5% was en vir die eerste 11 maande van 2023 gemiddeld 6% was, gaan na verwagting in 2024 terugsak tot gemiddeld 5%, volgens die Reserwebank.

Dit sal ook beter rentekoerse teweegbring. Maar mense wat skuld, moet nie gou ʼn skerp verlaging in die rentekoers verwag nie. Die verwagting is dat die rentekoers in die tweede helfte van die jaar sal begin daal.

Na verwagting sal daar in die nuwe jaar ook minder beurtkrag wees, maar volgens Parsons sal dit steeds ʼn groot uitdaging wees wat so gou moontlik aangepak moet word.

Die afgelope jaar se nuusgebeure het opnuut beklemtoon hoe kwesbaar die rand vir internasionale en plaaslike onstabiliteit is. Verskeie openbare blapse deur die regering, die voortslepende beurtkrag, die land se gryslys-status en onsekerheid oor ekonomiese en politieke beleid het daartoe gelei dat die rand nog nie vanjaar ʼn blaaskans kon kry nie.

Volgens Van Zyl moet die regering hervormings instel om die land se logistieke beperkings en kragkrisis uit die weg te ruim sodat die ekonomie kan groei. Intussen hou die 2024-verkiesing ook ʼn risiko in weens die verskeie scenario’s wat kan voortspruit uit die uitslag daarvan.

Die regering moet intussen ook die gordel intrek te midde van die land se dreigende geldkrisis.

“Die werklikheid is dat daar nie genoeg geld is nie, te veel uitgawes is en dat die regering gaan moet besnoei. Die regering gaan onverpoosd voort om geld te leen met staatskuld wat net ál verder styg.”

Indien die regering ernstig daaroor is om enige potensiële ekonomiese herstel te bewerkstellig moet daar dringend opgetree word. “Die regering moet hervormings instel om die land se logistieke beperkings uit die weg te ruim sodat die ekonomie kan groei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.