Afrikaanse Wikipedia kyk terug op 22 jaar

Deon Steyn, direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, sny die koek vir die Afrikaanse Wikipedia se 22ste bestaansjaar. (Foto: Theana Breugem)

Op 16 November het die Afrikaanse Wikipedia nie net sy 22ste bestaansjaar met ʼn behoorlik verjaarsdagpartytjie gevier nie, maar ook die wenners van dié projek se eerste skryfkompetisie vir hoërskoolleerders vereer.

ʼn Gr. 11-span van Hoërskool Die Anker, wat uit Vicky-Lee Puchert, Xiaomei Smit, Sharminique Breytenbach, Anke Cornelius en Chanelle Liebenberg bestaan, is as die wenners aangewys vir hulle artikel oor voedseletikette. Die span het R10 000 se prysgeld ontvang.

Hendré Strauss en Daniel Strydom, gr. 8-leerders van die CVO Skool Pretoria, het die tweede plek behaal vir hulle artikel wat handel oor die Verskroeideaardebeleid. Marlizelle Burger van die Sonneveld Akademie het derde geëindig met haar artikel oor Joseph Patrick Kennedy.

Die gr. 11-span van Hoërskool Die Anker, wat uit Vicky-Lee Puchert, Xiaomei Smit, Sharminique Breytenbach, Anke Cornelius en Chanelle Liebenberg bestaan, is die wenners van die Afrikaanse Wikpedia se skryfkompetisie vir hoërskoolleerders. (Foto: Theana Breugem)

“Afrikaans is die taal waarin ek lewe. Ek het die voorreg om daarin skool te gaan, en dit is die taal waarin ek my godsdiens uitleef. Met hierdie nasionale skryfkompetisie wat die Afrikaanse Wikipedia vanjaar aangebied het, het ek die geleentheid gekry om ʼn bydrae tot my hartstaal te lewer en vir ander mense iets in Afrikaans te leer.

“Toe ek gehoor het ons artikel is tweede, het ek dadelik gedink aan hoe groot God se genade in my lewe is. Hy het regtig ʼn pad met my en Daniel gestap,” het Hendré aan Maroela Media vertel.

Hy het bygevoeg dat die wrede hantering van vroue in daardie tydperk hom opnuut aangeraak het en dat hy weereens besef het hoe erg dit was.

Deon Steyn, direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, sê daar behoort in die toekoms ʼn al hoe groter fokus op jongmense te wees wat opgelei kan word om eendag die leisels oor te neem.

“Ons het vanjaar werklik ʼn deurbraak op skoolvlak gemaak. Te danke aan die skryfkompetisie het ons begin om jongmense betrokke te kry, die nodige opleiding verskaf oor hoe om artikels vir die projek te skryf en navorsing te doen, en bewustheid te skep.”

Hy sê die sukses van hierdie projek lê juis in die medewerking en ondersteuning van die gemeenskap.

“Mense besef algaande dat indien ʼn taal nie op skrif vasgevang word nie, gaan hy nie voortbestaan nie, en al hoe meer mense begin daadwerklik optree en vrywillig help om Afrikaans uit te bou.”

Deon het tydens die program ʼn spesiale woord van dank aan Burgert Behr, wat reeds meer as 7 500 artikels vir die projek gelewer het, en prof. Laurette Pretorius, emeritusprofessor in rekenaarwetenskap aan Unisa, gerig.

Daar is Donderdag ook ʼn erelidmaatskap deur die Afrikaanse Wikipedia-projek aan Laurette oorhandig vir die noemenswaardige bydrae wat sy tot die projek gelewer het. Deon het ook enkele individuele vrywilligers wat onder ʼn skuilnaam skryf bedank.

Op 16 November het die Afrikaanse Wikipedia sy 22ste bestaansjaar met ʼn behoorlik verjaarsdagpartytjie gevier. (Foto: Theana Breugem)

Enkele feite oor die stand van die Afrikaanse Wikipedia-projek tans:

  • Dit is die grootste verteenwoordiging van ʼn Afrikataal op Wikipedia.
  • Daar is tans 318 Wikipedia-gemeenskappe, waarvan Afrikaans die 69ste posisie beklee.
  • Velde waarin die meeste groei in 2023 plaasgevind het, is flora, internasionale lughawens, F1 Grand Prix-spanne, politici, en internasionale sportspanne.
  • Die projek het vanjaar ʼn skenking van sowat 60 000 foto’s van prof. Braam van Wyk ontvang wat in die toekoms op Wikicommons vir gebruik beskikbaargestel sal word.

Na twee dekades meen Deon dat dit elke dag vir hom lekkerder raak om deel van die Afrikaanse Wikipedia-span te wees.

“Die gehalte van die inhoud verbeter jaarliks, die betrokkenheid en bydraes van medewerkers word meer en die artikels gedy teen ʼn stewige spoed. Ons staan tans op meer as 112 800 artikels,” vertel hy trots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.