Akademia vier dekade van pionierswerk

Akademia, die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling, vier Donderdag amptelik sy tiende bestaansjaar. (Foto: Verskaf)

Akademia, die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling, vier Donderdag amptelik sy tiende bestaansjaar.

Op 3 Maart 2012 het Akademia 40 studente vir hul eerste klasse in vier verskillende programme verwelkom. Vanjaar spog dié instelling met bykans 2 500 studente wat gehalte-onderrig in vyf verskillende fakulteite en 17 studierigtings ontvang.

“Vandag is ons bly dat ons toe reeds begin het. Dit was ʼn tydperk waartydens die storms rondom Afrikaans by openbare universiteite nog nie gewoed het nie,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.

Sedert 2010 word daar aan die droom om ʼn wêreldklas-universiteit te bou wat hoop skep vir die Afrikaanse gemeenskap en nageslagte lewe gegee. Visser sê verder: “Vandag is ons goed op dreef en kan ons aan die toenemende behoefte aan gehalte-onderrig in Afrikaans oor verskeie studierigtings voorsien.”

Die vestiging van Akademia was ʼn groot gesamentlike gemeenskapspoging, meen Visser. “Tientalle toegewyde bouers, vanaf ons eerste studente tot en met ons alumni, personeel, vriende, finansierders, denkers en raadgewers het elkeen op ʼn uitsonderlike en unieke wyse aan dié droom gestalte gegee.”

Ná ʼn dekade van bou, werk Akademia om self nóg hoër hoogtes te bereik. Uiteindelik het Akademia ten doel om ʼn akademiese tuiste te bied waar die denke én die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Visser beklemtoon dat Akademia dankbaar is om dié groei te kan vier, maar dat die instelling opnuut die groter roepingsbesef ervaar wat betref die verantwoordelikheid jeens die toekoms.

“Akademia is nou gevestig en die tyd van verdieping, verbreding en uitbou het aangebreek. Met ons waardes as kompas en ons visie as eindpunt, werk ons toegewyd om hierdie belangrike taak te verwesenlik.”

Buiten die merkwaardige groei in die programaanbod en studentegetalle wat oor die jare ervaar is, het Akademia op verskeie ander terreine uitgebrei. Personeelgetalle het skerp toegeneem vanaf een personeellid tot byna 200 voltydse en deeltydse personeel. Akademia se nauurse onderrigleermodel is aangevul met ʼn voltydse kontakmodel om nog meer studiemoontlikhede vir studente aan te bied. Akademia se fakulteite brei uit na vyf, en ʼn e-leeropsie as deel van die nauurse onderrigleermodel word ingestel om studierigtings in Afrikaans wêreldwyd moontlik te maak. Boonop ken Akademia vanjaar 339 kwalifikasies toe, ʼn groot toename teenoor die tien kwalifikasies wat tydens die eerste plegtigheid toegeken is.

Marthinus-Visser-Akademia.jpg

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Akademia se studentelewe het ook jaarliks versterk met die toevoeging van ʼn voltydse kampuservaring, koshuise en vele studenteaksies.

Die instelling beplan om deur die loop van die jaar tien groot momente, ter viering van Akademia se verjaarsdag, van stapel te stuur. Een hiervan is die publisering van ʼn gedenkboek, geskryf deur Ilze Nieuwoudt, met staaltjies en gebeure oor Akademia oor die jare. ʼn Rusbankgesprekreeks met tien episodes, Akademia-pioniers vertel, word ook bekendgestel. Die radioaanbieder Esmarie Yssel is die aanbieder van dié reeks. Kobus Wiese verpak ʼn spesiale Akademia-koffiebrandsel, en ʼn spesiale wyn word vir die instelling verpak. Die koffie en wyn sal later vanjaar op die aanlyn Akademia-winkel te koop wees.

Akademia is ʼn suksesverhaal wat net aanhou groei met behulp van die gemeenskap. “Daarom is ons dankbaar vir alle bydraes wat oor die afgelope dekade deur die gemeenskap gemaak is. Dankie aan elke student wat as’t ware sy of haar toekoms aan ons toevertrou. Dankie aan elke werknemer in Akademia wat meewerk aan hierdie groot verantwoordelikheid en die vervulling van ons roeping. Dankie aan elke ondersteuner – of dit nou in die vorm van skenkings of bemakings is, of in die vorm van goeie gesprekke om die braaivleisvuur. Julle skep vir ons die ruimte om te bou aan ons Afrikaanse universiteit,” sluit Visser af.

Indien jy wil help bou, kan jy op verskeie maniere betrokke raak. Om ʼn finansiële bydrae (per gereelde debietorder, eenmalig of andersins) tot Akademia te lewer, stuur ʼn e-pos na [email protected]. Vir meer inligting oor Akademia se feesviering, besoek 10jaar.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Miskruier ·

Wonderlik. As Afrikaans e ouers nou met n klein bydrae begin weet u teen die tyd wat u kind klaarmaak met skool, daar vir hom n unieke verdere opleiding beskikbaar is.

Harley Davidson ·

Nou moet hulle net uitbrei om medies ook inbring want die toelating by ander universiteite diskrimineer teen Afrikaans sprekende studente.

JohanR ·

En Julius Malema probeer nog ‘n skool bou, of enigeiets bou self uit houd uit! Die Afrikaner doen, en praat nie net nie.

Marius ·

Mooi so !!! As Afrikaners iets doen dan word dit ‘n suksesverhaal. Trots Suid Afrikaans !!!

Jr ·

Dis wat ons moet doen met alle skole. Koop geboue en draai hulle in privaat skole waar ons ons eie onnies betaal uit skoolfondse en fonds insameling. We don’t need this pathetic govt. They are useless

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.