Inwoners in die noorde van Alberton en die omliggende gebiede is keelvol vir die Ekurhuleni-munisipaliteit omdat hulle al vir vier dae sonder elektrisiteitstoevoer is.
Maroela Media het met die baie moedelose wyksraadslid, Bruna Haipel, gepraat. Sy sê sy sit met haar hande in haar hare en word deur duisende mense geskakel omdat die munisipaliteit se blitslyn nie inwoners se navrae hanteer nie.
“‘n Substasie in die gebied is sowat ʼn maand gelede
deur weerlig getref. As gevolg daarvan het ses skakelaars Woensdag omstreeks 15:00 geblaas,” het sy aan Maroela Media gesê. Dit het tegnici drie dae geneem om die fout reg te stel. “Hulle het vanoggend net na middernag tot 03:00 begin om die kragtoevoer stelselmatig aan te skakel, maar omstreeks 11:00 het die hoofskakelaar geblaas.”
Sy sê tegnici werk al om die beurt om die probleem te herstel. “Ons weet egter nie hoe lank dit gaan neem om te herstel nie. Ek het gehoor dit mag dalk weer drie dae neem, maar ons hou duim vas dat dit gouer herstel sal wees.”
Sy het die burgemeester versoek om dringende aandag aan die probleem te gee, maar hy het nie op haar versoeke reageer nie. “Ek het sover gegaan om hom te maan om al die inwoners wat geraak is, te vergoed vir bederfbare voedsel wat weggegooi moes word omdat daar nie krag is nie.” Sy het teen Saterdag nie terugvoer van die burgemeester gekry nie.
Sam Modiba, die munisipaliteit se senior kommunikasiebeampte, kon nie vir kommentaar bereik word nie.