Australiër aangekla van seksmisdade teen 91 meisies

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Australiese kinderversorger staan tereg op meer as 1 600 aanklagte nadat hy na bewering 91 jong meisies tussen 2007 en 2022 by tien verskillende kindersorgsentrums seksueel misbruik het. Die slagoffers was almal meisies voor puberteit ten tyde van die beweerde misdade.

Die 45-jarige man word ook daarvan beskuldig dat hy die beweerde seksmisdade deur middel van foto’s en video’s gedokumenteer het.

Michael Fitzgerald, assistent-polisiekommissaris van Nieu-Suid-Wallis, sê dié saak is een van die afgryslikste gevalle van seksuele misbruik wat hy nog gesien het.

“Wat hierdie persoon aan hierdie kinders gedoen het, is buite die perke van enigiemand se verbeelding. Ek kan net sê: Jy probeer om nie geskok te wees ná ʼn lang tyd in die polisie nie, maar hierdie is ʼn afgryslike geval.”

Australiese speurders is al byna tien jaar lank op dié man se spoor nadat hulle op pornografiese materiaal van kinders afgekom het wat in 2014 op die donker web gedeel is.

Die speurders, wie se soektog aanvanklik niks opgelewer het nie, het egter ʼn onverwagte deurbraak in Augustus verlede jaar gemaak met behulp van visuele leidrade in die agtergrond van foto’s by ʼn kindersorgsentrum in Brisbane.

Die man is aanvanklik op slegs drie aanklagte aangekla, maar staan nou tereg op nie minder nie as 1 623 aanklagte nadat speurders op sy foon, rekenaar en hardeskyf beslag gelê het.

Dit sluit in 136 aanklagte van verkragting, 110 van seksuele omgang met kinders jonger as tien jaar en 613 aanklagte vir die vervaardiging van kinderpornografie.

Daar word vermoed dat die man al sy vermeende misdade op film vasgevang het en uiteindelik meer as 4,000 foto’s en video’s van misbruik gekatalogiseer het.

Ervare speurders beskryf die saak as een van as Australië se “verskriklikste gevalle van kindermishandeling”.

“Ek weet hierdie nuus klink ondenkbaar en ek weet daar sal baie vrae wees,” sê Justine Gough, assistent-federale polisiekommissaris.

“Daar is nie veel troos wat ek kan gee aan die ouers en kinders wat geïdentifiseer is nie.”

Die speurders in die saak kon tot dusver 87 van die 91 slagoffers identifiseer. Die vier oorblywende ongeïdentifiseerde kinders is tussen 2013 en 2014 vir ’n kort tyd misbruik terwyl die man in die buiteland gewerk het.

Die Australiese polisie is in noue samewerking met misdaadagentskappe om daardie kinders op te spoor.

ʼn Taakspan van sowat 35 personeellede is reeds aangestel om aan die ondersoek te werk.

Die man sal na verwagting teen 21 Augustus in die hof in Queensland verskyn. Sodra dié verrigtinge afgehandel is, sal hy aan Nieu-Suid-Wallis uitgelewer word om daar tereg te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

007 ·

Gee hom vir daai kinders se ouers. Hulle sal weet wat om met hom te doen.

Charles ·

Met die mens-dier is daar allerlei risikos afhangende met wie jy te doen kry. En dit is altyd n verrassing wat die betrokke persoon se afwyking is.

popsa ·

NEEM KENNIS: hierdie is die hoogsgiftige, galbitter, afskuwelike vrug van PORNOGRAFIE, daardie afstootlike tydverdryf wat manne verander in lamsakkige muise. Maak dood. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.

Charles ·

Ek stem eintlik saam met jou. Pornografie is n walglikeheid wat mense in n ander wêreld dompel waar genoeg nooit genoeg is nie. En party mense met n spesifieke psigopatologie sal dan na hierdie tipe goed beweeg. Maar “all in all”. n walglike stokperdjie. Nou hoe’s daardie redenasie vir n ongelowige soos ek.

Amelia ·

Hulle weerhou sekerlik sy identiteit om die kinders te beskerm, maar so ‘n robbish se naam en gesig behoort eintlik aan die groot klok gehang te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.