Baard-moord: Tweede verdagte agter tralies

Mohammed Fayaz Kazi. Foto: EWN

ʼn Tweede verdagte is agter tralies in verband met die moord op Mohammed Fayaz Kazi (27). Kazi is na bewering doodgeslaan nadat hy oor sy baard gespot is.

Nrig. Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder, het vroeër bevestig dat een van die verdagtes, ʼn 27-jarige man van Rustenburg, Saterdag in Hartbeespoort in hegtenis geneem is. Die premier van Noordwes, Thandi Modise, het Sondag in ʼn verklaring gesê dat die tweede verdagte homself Sondagoggend by die Magaliesburg-polisiestasie oorgegee het. Albei die mans sal na verwagting Maandag in die Magaliesburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Kazi was Maandag saam met ʼn vriend van sy pa, Anser Mahmood, by ʼn kitskosrestaurant in Magaliesburg toe die voorval plaasgevind het. “Twee mans het Kazi ‘Osama Bin Laden’ genoem,” het Mahmood Woensdag gesê. ʼn Stryery het in die restaurant ontstaan waarna al vier mans uit die restaurant gejaag is. Buite het die twee verdagtes Kazi glo herhaaldelik geslaan en geskop. Mahmood is glo met ʼn onbekende voorwerp oor die kop geslaan. Kazi is na die voorval van een hospitaal na ʼn ander verplaas, voor hy by ʼn hospitaal in Potchefstroom aan sy beserings beswyk het. Hy is reeds Dinsdag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae