ʼn Bejaarde man van Noordwes is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ʼn tienjarige meisie.
Kapt. Aafje Botma, ʼn polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die 71-jarige man is in die Mahikeng-streekshof skuldig bevind. “Hy het in 2010 die meisie in die Mogopa informele nedersetting naby Groot Marico in Noordwes verkrag,” het Botma gesê. “Hy het die meisie gevra om vir hom brood by ʼn plaaslike winkel te gaan koop. Toe sy terugkeer het hy haar in sy huis in genooi en verkrag.” Die meisie se onderwysers het na die voorval agtergekom iets is verkeerd, en die polisie ingelig.