Beloning vir baba Wiehan se vermeende moordenaar uitgeloof

Twee verdagtes het Donderdag in die Delmas-landroshof verskyn op aanklag van moord op die 5-maandeoue Wiehan Botes en sy dagmoeder.

ʼn Volskaalse soektog is onderweg vir die vermeende moordenaar van die 5-maandeoue Wiehan Botes en sy dagmoeder, Margrietha de Goede.

Die valke, polisie, ʼn spesialiseenheid en boere in die Delmas-gemeenskap het hul soektog na De Goede se tuinjong, Themba Ephraim Mahlangu (24) wat die hoofverdagte is, opgeskerp en bied nou belonings aan vir inligting wat tot sy inhegtenisname kan lei.

Wiehan en De Goede (66) is op 23 Mei in De Goede se huis in Delmas verwurg. Wiehan se lykie is onder ’n bed gevind en De Goede onder ’n mat in ’n buitestoorkamer.

Mike Bolhuis, ʼn private ondersoeker van die spesialiseenheid wat deur die familie aangestel is, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê hulle het informante uitgeplaas wat groot belonings bied vir inligting wat tot Mahlangu se inhegtenisname kan lei.

Die polisie het verlede week ’n identikit van Mahlangu uitgereik. Die foto versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media. Dit word ook vandeesweek in verskeie gedrukte media publikasies, wat hoofsaaklik deur inwoners van informele nedersettings gelees word, gedra.

Bolhuis het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie reg in eie hande te neem nie. “As die man gevang word, bel die polisie en laat die gereg sy gang gaan,” het hy gemaan.

Twee mans wat met gesteelde juwele van De Goede vasgetrek is, Enock Mbele (44) en Lazarus Mabhena (54), het Donderdag in die Delmas-landdroshof verskyn. Die twee verdagtes is borgtog geweier en die saak is tot 7 Junie uitgestel.

Mense met inligting oor Mahlangu kan vir speurder-kaptein Manie van Zyl by 082-782-3102 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charmaine Venter ·

Ek wil net al my simpatie gee vir (daardie) mamma en pappa ek weet niks wat mens se of doen gaan julle laat beter voel maar (ek is) self n mamma en as ek my self in julle skoene plAas dan is dit soos n mes wat hier deur my steek elke keer as ek ietsie lees van die wrede storie dan huil ek saam ek bid elke dag vir julle (daar is) niks wat julle gaan laat beter voel maar ek voel regtig saam julle ek hoop hul kry (daardie) ou en jul kan al die antwoorde kry wat in julle koppe maal sterkte voorentoe mensies my hart gaan uit vir julle

craig ·

God bless you all I am so sorry for your loss. I hope and pray justice will be done, however i do not believe these people have the right to walk talk or breathe anymore and no amount of court justice can be severe enough. I hope you can find peace in your heart one day again Mr Botes my heart is with your family be strong and my heartfelt condolences for your loss

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.