Boekehuis in JHB maak deure toe weens swak leeskultuur

Suid-Afrika mag miskien reeds twee Nobelpryswenners in Letterkunde opgelewer het, maar ʼn bekende boekwinkel in Johannesburg, Die Boekehuis, gaan eersdaags weens die treurige leeskultuur in die land sy deure sluit.

Die Boekehuis is ʼn ou vierslaapkamerhuis in Aucklandpark, net ʼn klipgooi ver van die stad se twee grootste universiteite, RAU en Wits. Die parketvloere, gemufte plafonne, tuin en koffiewinkel het die bibliofiel se toevlug geword. Die winkel se letterkunde-geleenthede waar lesers met die skrywers kon gesels was veral gewild.

“Dit is soos ʼn huis, nie net ʼn boekwinkel nie. Mense kom nie net hierheen om boeke te koop nie, maar vir die atmosfeer, en om hulself te geniet. Hulle het veral vir die praatjies gekom,” sê Corina van der Spoel, winkelbestuurder.

Die Boekehuis het in 2000 sy deure oopgemaak en is as ʼn onafhanklike winkel beskou, maar dit word eintlik deur Media24, die land se grootste mediamaatskappy besit. Dié reuse multimediagroep, wat die meerderheid van die land se tydskrifte en koerante besit, het in Desember aangekondig dat Die Boekehuis sy deure teen die einde van Januarie gaan toemaak.

Bekende persoonlikhede soos die skrywer André Brink, fotograaf David Goldblatt en wêreldbekende skilder William Kentridge was van die persone wat ʼn petisie onderteken het om Media24 te oorreed om van plan te verander. Maar Media24 wou nie toegee nie: die winkel het reeds jaarlikse verliese van ongeveer ʼn miljoen rand gely. “Verskeie moontlike oplossings, soos om ʼn koper vir die winkel te kry, was onsuksesvol,” het die maatskappy in ʼn verklaring verduidelik. “Niemand het belang gestel om die winkel oor te koop nie.”

Geletterdheid en duur boeke as oorsake
Nasionale statistiek oor lees en geletterdheid werp ook lig op die probleem. “Slegs een persent van die publiek koop boeke,” sê Elitha van der Sandt, hoof van die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad (SABDC). En alhoewel die land outeurs soos Nadine Gordimer (wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, 1991) en J.M. Coetzee (wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, 2003) opgelewer het, word hul werk hoofsaaklik oorsee gelees.

Navorsers het verskeie redes vir die land se swak leeskultuur aangeteken, waarvan een die koste van boeke was. Die goedkoopste boeke kos sowat R120 – dit is duur vir ʼn land waar die meeste mense tussen R2 000 en R3 000 per maand verdien. “Alhoewel ʼn paar boeke baie goed verkoop, sal die meeste boeke slegs 1 000 of meer eksemplare verkoop,” sê Beth le Roux van die Universiteit van Pretoria, ʼn spesialis in die uitgewersbedryf. “Dit beteken dat uitgewers ʼn klein oplaag druk wat die koste per eksemplaar opstoot. BTW van 14% en vervoerkoste vir ingevoerde boeke dra by tot die probleem,” voeg sy by. “Om die plaaslike topverkoperslys te haal, hoef ʼn mens maar net ʼn paar duisend eksemplare van ʼn boek te verkoop.” Le Roux reken die boekbedryf se omset is ongeveer R3,5 miljard, maar meer as twee derdes hiervan is skool- en universiteitshandboeke. ʼn Verdere 20% beslaan godsdienstige boeke en dit laat dus ʼn klein persentasie vir die nismark van algemene letterkunde.

ʼn Groter probleem is egter ongeletterdheid. In Suid-Afrika kan 18% volwassenes ouer as 15 jaar nie lees nie en baie van dié wat wel kan lees, sukkel om te lees.

Skryfbehoeftewinkels in die platteland verkoop ʼn paar liefdesverhale, biografieë van die Europese koningsgesin, rillers en sportboeke. Daar is geen tekort aan godsdienstige boekwinkels nie. Suid-Afrika se hoofsentra bied ʼn paar boekwinkels wat ʼn wyer reeks van letterkunde aanbied. Die grootste hiervan is Exclusive Books, die grootste letterkunde-kettingwinkel in Suid-Afrika.

Talle boekeliefhebbers wend hulle egter tot die internet om te kry wat hulle soek, alhoewel die Boekehuis vir jare lank as ʼn uitsondering geag is weens die letterkunde-geleenthede wat hulle aangebied het.

Intussen sukkel die naburige Exclusive Books-tak ook om die mas op te kom. Dié winkel wat aan ʼn mededingende mediagroep behoort, het ook onlangs sy vloerspasie kleiner gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae