Boeremag-verhoor: Broers wens mekaar geluk ná uitspraak

André en Mike du Toit Foto: Barry Bateman/EWN

André du Toit, die broer van die meesterbrein agter die Boeremag-staatsgreep, Mike du Toit, is Vrydag in die Noord-Gautengse hooggeregshof skuldig bevind aan hoogverraad.

Du Toit is ook aan die binnekring verbind wat die staatsgreep glo sou uitvoer. Die 22 regses staar verskeie aanklagte in die gesig, insluitend terrorisme en moord, berig EWN. Mike du Toit is Donderdag aan hoogverraad skuldig bevind. Regter Eben Jordaan het aanvaar dat Du Toit talle van die vergaderings bygewoon het wat sy broer, Mike, gereël het, en dat ‘n staatsgreep tydens dié vergaderings bespreek is.

Die verdagtes het met die aanvangs van die hofsaak skuld ontken aan al die aanklagte, asook dat hulle ‘n organisasie gestig het en ander persone daarby betrek het om ‘n staatsgreep uit te voer en ernstige, gewelddadige misdade te pleeg. Hulle het ook plofstof vervaardig en ‘n reeks bomontploffings veroorsaak waarin een persoon dood is en miljoene rand se skade aangerig is.

Jordaan het bevind dat André daarvoor verantwoordelik was om radio-toerusting te organiseer en kommunikasie te beheer.

Die twee broers het mekaar ná die uitspraak geluk gewens. Mike het sy broer, André se hand gegryp, vir ‘n foto poseer en gesê: “Welkom in die klub”.

Die broers is die eerste twee van die Boeremag-verdagtes wat aan hoogverraad skuldig bevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.