Bok-terugslag: Vurige Marx uit Wêreldbeker

Malcolm Marx. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Malcolm Marx se Wêreldbeker-veldtog in Frankryk is iets van die verlede.

Die 29-jarige haker, wat in 2019 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke in Jokohama omhoog gehou het, het Woensdag sy knie in een van die Suid-Afrikaners se oefensessies beseer.

Jacques Nienaber het Donderdag bevestig dat dit ʼn langtermynbesering is en dat Marx vir ʼn ruk langs die kantlyn sal wees.

“Ons wil eerste vir Malcolm sterkte toewens en ons is saam met hom teleurgesteld. Hy het ongelooflik hard gewerk om op sy beste vir die toernooi te wees en dit is hartseer dat sy deelname op só ʼn manier tot ʼn einde moet kom,” het die Springbok-afrigter gesê.

“Net soos wat ons met Lukhanyo [Am], Handré [Pollard] en Lood [de Jager] maak, sal ons in gereelde kontak met hom bly om hom op sy herstelpad te ondersteun.”

Bongi Mbonambi is die ander haker in die groep, terwyl die veelsydige Deon Fourie en selfs Marco van Staden ook nadergetrek kan word om hul man in die belangrike posisie te staan.

Daarbenewens is die Stormers se Joseph Dweba saam met Pollard en kie op die Suid-Afrikaners se spelersbystandlys.

“Ons sal die span se behoeftes vir die res van die toernooi ontleed en later ʼn besluit oor ʼn bykomende speler neem.”

Marx het die Springbokke al in 64 toetse verteenwoordig en hy word wyd en syd as een van die beste voorspelers op die internasionale verhoog gereken.

Hy het in die Bokke se puik vertoning op Twickenham sy 17de drie vir Suid-Afrika gedruk, terwyl hy ook met sy inklimspel teen Skotland in Marseille beïndruk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Frank ·

Aggeneeee!!! Beste hakker in die wereld. EN hy druk driee!!
Jip, sit vir Van Staden of Fourie as reserve hakker en kry Pollard daar

Miena ·

Is Handre Pollard nie ook op n besering – bedrus – krukke-lys tans nie? So lees die bogaande artikel…

SjN ·

Nie baie goeie nuus nie, groot terugslag, sy opvolger se ingooiwerk sal vinnig en drasties moet verbeter!! sterkte Malcolm.

Manie ·

Moet asb net nie vir windskeef Dweba oproep nie, Frankryk het nie genoeg chappies in voorraad nie.

marnus ·

Bitter Groot terugslag. Ons het vir Deon en blykbaar oefen Marco ook as haker, so bring in vir POLLARD!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Te veel spelers word uit posisie gekies. Dit gaan boomerang onder druk.

Manie ·

Johan Grobbelaar van die Bulle was die beste van die SA hakers die afgelope seisoen. Hy mis selde sy lynstaan springers en sy algemene spel is puik. Ek sal nie eers verder kyk nie.

JN ·

Ag hel man net nie Marx nie…
Kan nie anders as om te voel dat die bokke se kanse om weer die wêreld beker om hoog te hou nou drasties verminder het met die verlies…

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien Etzebeth ook uit is het Rassie probleme.

Shakespeare ·

Haal asseblief net vir Mbonanbi uit die span. Hy kos ons punte met sy swak ingooi.

Johann ·

Dis jammer en onnodig. Sou hoop oefeninge word streng beheer en bestuur om juis nie beserings te veroorsaak nie?

George ·

Jy kan baie vinnig n besering opdoen, selfs net terwyl jy opwarm. Maar ons span hou van videos maak, so hulle gaan bietjie harder in oefen in.

Yolandie ·

Ag dammit Malcolm, dis ‘n hartseer storie. Ek sien Deon Fourie is darem ingesluit in die span. Bongi kan nie ‘n bal reguit in die lynstaan gooi nie. Maar elkgeval daar is seker darem nog opsies daar buite maar Marx kraai steeds koning in die posisie.

Wit Leeu ·

Daar gaan die wêreld beker…………………………………………..

Andrew ·

Bongi gooi minstens 4 tot 5 lynstane mis per wedstryd en sover ek onthou was Deon self nie die beste lynstaan gooier nie.

Pieter-Willie ·

Pollard kan ook mos haker speel? Miskien moet hulle hom maar optrek.

jonnie ·

Kan nie wees nie!!! Ons kan nou maar koebaai sê vir daai beker!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.