Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ʼn hofbevel van die Pretoriase hooggeregshof bekom om die welstand van perde by ʼn weermagbasis in Potchefstroom te ondersoek.
Die DBV het al twee keer vantevore onsuksesvol probeer om toegang tot 12 SA Infanteriebataljon se gronde te bekom, berig Beeld. Andries Venter, woordvoerder vir die DBV, het aan Beeld gesê hy en ander inspekteurs kon uiteindelik Vrydag die perde ondersoek en die diere was glo in ʼn haglike toestand. “Een van die perde was verlam en ʼn ander het geswelde uitgroeisels op sy gesig gehad. Van die merries was veral in ʼn baie slegte toestand,” het Venter gesê.
Venter sê die DBV het ʼn militêre veearts van die Suid-Afrikaanse militêre gesondheidsdiens se veeartsenyafdeling toegelaat om die diere op die basis te behandel. “Ons het ook gereël dat die perde na die militêre veeartsenyafdeling verskuif word waar hulle voorheen aangehou is,” het Venter bygevoeg.
Die DBV het opgetree ná die koerant vroeër oor besonderhede van verskeie vorme van mishandeling van die perde berig het, onder andere dat ʼn dragtige merrie doodgeskop is terwyl sy gevul het.
Venter sê die grootste rede vir die mishandeling is omdat die soldate wat die diere moet versorg, nie in diereversorging opgelei is nie.
-SAPA