Dié woordspeletjie nou in ‘makliker formaat’ beskikbaar

Scrabble Together het nuwe toevoegings om die spel makliker te maak. (Foto: Twitter/@scrabble)

Scrabble, een van die wêreld se mees geliefde woordbouspeletjies, gaan in Europa ʼn nuwe, “meer toeganklike” blaadjie omslaan.

Die speelgoedreus Mattel het Dinsdag aangekondig dat ʼn nuwe Scrabble-bord beskikbaar is wat beide die oorspronklike speletjie én ʼn nuwe toevoeging, genaamd Scrabble Together, bevat.

In Scrabble Together is daar geleentheid om in spanverband te werk met nuwe toevoegings soos “helperkaarte” en ʼn eenvoudiger puntestelsel.

Kaarte wat hulp, opdragte en leidrade bied, kan gekies word om by die speler se gekose uitdagingsvlak te pas.

Die wenner is die speler wat 20 uitdagings voltooi, terwyl ʼn speler verloor as hulle al die helperkaarte opgebruik het en nie ʼn doelwit kan voltooi nie.

Ray Adler, adjunkhoof en wêreldwye hoof van speletjies by Mattel, het in ʼn amptelike verklaring dié weergawe as “meer spangeoriënteerd en vinniger” beskryf.

“Scrabble het werklik die toets van die tyd deurstaan ​​as een van die gewildste bordspeletjies in die geskiedenis, en ons wil verseker dat die speletjie steeds inklusief vir alle spelers is. Dit maak Scrabble Together ʼn ideale opsie vir enigiemand wat al ooit gedink het ‘woordspeletjies is nie vir my nie’ of ʼn bietjie geïntimideer gevoel het deur die klassieke speletjie,” het hy gesê.

Scrabble soos ons dit ken. (Foto: Freysteinn-g-jonsson/Pexels)

Volgens Mattel toon onlangse navorsing onder Britse bordspeletjiespelers dat mededingendheid in jonger generasies afneem.

Van die 2 000 mense wat in Mattel se studies ondervra is, het 35% geglo dat sogenaamde “Baby Boomers” die mededingendste is, gevolg deur Millenniërs op 31% en Generasie Z op 29%.

“Dié nuwe weergawe getuig van  ʼn neiging in jonger mense wat mededingende speletjies wil vermy en eerder spanwerk en samewerking verkies om saam na  ʼn prettige doelwit te werk,” het Brett Smitheram, ʼn Scrabble-meesterspeler en 2016 Wêreld Scrabble-kampioen, aan die BBC gesê.

Alhoewel dit die eerste groot verandering aan die voorkoms van die Scrabble-bord is, voeg die speletjie gereeld nuwe woorde by sy amptelike woordeboek soos die Engelse taal vernuwe en ontwikkel.

Die opgedateerde weergawe sal vir tyd en wyl slegs in Europa beskikbaar wees.

Scrabble Together verskil ook van Scrabble Junior, wat meer soos ’n blokkiesraaisel is.

Bronne: CCN News, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Net in Europa beskikbaar – Nou hoekom my tyd mors met die artikel ?

M ·

Hi Johan,
Om jou vraag te beantwoord : Sodat jy nou daarvan weet en dit vir jou kan bestel uit Europa. Laat weet gerus wanneer jy dit het. My gunsteling speletjie tydens vakansie by die see. Groete.

Vriendelike Frikkie ·

Sal interessant wees om die gemidelde afname in testosteroon oor die generasies te vergelyk met die mededingendheids afname.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.