Ditsem, Blitsbokke!

Die Blitsbokke is vir die vyfde keer op ’n streep die Dubai-seweskampioenspan. (Foto: X/Blitsbokke)

As Dire Straits van die “Sultans of Swing” sing, dan moet die Blitsbokke sekerlik die sultans van sewesrugby in Dubai wees?

Suid-Afrika het sy vyfde titel op ʼn streep in die woestynstad gewen toe hy vir Argentinië met 12 – 7 in die bekereindstryd geklop het.

Die Blitsbokke was lus vir hardlooprugby en danksy Impi Visser en Shilton van Wyk het hulle twee vinnige drieë in die eerste helfte gedruk.

Daarna het hulle soos wafferse tiere verdedig en al het Ryan Oosthuizen se geel kaart die span onder druk geplaas, was daar doodeenvoudig net nie enige deurkomkans vir die Suid-Amerikaners nie.

Impi Visser het in aanloop tot die toernooi gesê dat die Blitsbokke vir verlede seisoen se geploeter wil vergoed en hulle het ongetwyfeld daad by die woord gevoeg.

Die Suid-Afrikaners het onder meer met Fidji, Australië en Nieu-Seeland op koers na hul uiteindelike bekerglorie klaargespeel.

Selvyn Davids verdien ook ʼn klop op die skouer.

In Shakes Soyizwapi se afwesigheid het hy die Blitsbok-kapteinleisels stewig vasgevat en sy span het vir mekaar en vir Suid-Afrika gespeel.

Die tafel is beslis gedek vir volgende naweek se sewes-aksie in Kaapstad!

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Impi Visser en Shilton van Wyk. Doelskop: Justin Geduld.

Argentinië: Drie: Matias Osadczuk. Doelskop: Santiago Mare

  • Uitslae van Blitsbokke se bekerwensessies in Dubai:

2003: 33 – 26 teen Nieu-Seeland

2006: 31 – 12 teen Nieu-Seeland

2008: 19 – 12 teen Engeland

2014: 33 – 7 teen Australië

2016: 26 – 14 teen Fidji

2017: 24 – 12 teen Nieu-Seeland

2019: 15 – 0 teen Nieu-Seeland

2021: 42 – 7 teen die VSA

2021: 10 – 7 teen Australië

2022: 21 – 5 teen Ierland

2023: 12 – 7 teen Argentinië.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

electricmango ·

Waar politiek weg bly doen die spanne goed. Dis seker die rugby wat juliass reken die afrikane eerste gespeel het.

Manie ·

En toe maak jou spannetjie dit ook nie in die 7’s nie Euodia, wat is fout jong?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.