Duisende wag nog op Sassa-uitbetalings vir Januarie

(Argieffoto: ANA)

Deur Daniel Steyn, Qaqamba Falithenjwa en Thamsanqa Mbovane, GroundUp

Byna ʼn week nadat hulle dit moes ontvang, wag duisende mense steeds op hul Sassa-toelae vir Januarie.

Talle begunstigdes landwyd het die afgelope week desperaat by drukgroepe soos #PayTheGrants en die Black Sash-beweging om hulp gepleit. Dit is hoofsaaklik begunstigdes wat kindertoelae en ouderdomspensioene ontvang wat geraak word.

Die kindertoelaag beloop R510 per maand en 65% van Suid-Afrika se kinders ontvang hierdie toelaag.

Die Suid-Afrikaanse Agentskap van Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontken egter daar was haakplekke met die Januarie-betalings.

Volgens Sassa word talle begunstigdes se uitbetalings maandeliks opgeskort omdat hulle nie die bankverifikasieproses geslaag het nie. Ander se betalings word weer nie gedoen nie omdat die departement van binnelandse sake se stelsel hulle as dood aandui.

“Dit is ʼn maandelikse proses wat deel vorm van die voorafbetalingsproses en dit het nie spesifiek betrekking op Januarie se uitbetalings nie,” het Paseka Letsatsi, Sassa-woordvoerder, aan GroundUp gesê.

Maar volgens Elizabeth Raiters, van #PayTheGrants, het Sassa Dinsdag aan dié organisasie bevestig daar is ʼn “stelselfout” waaraan aandag gegee word.

Dit is egter onduidelik of begunstigdes hul geld voor die volgende uitbetaaldatum in Februarie sal ontvang.

Raiters het Maandag met nagenoeg 100 Sassa-begunstigdes in Eldorado Park vergader, van wie nie een vandeesmaand ʼn toelaag ontvang het nie.

Sy raam egter dat duisende mense landwyd geraak word.

“Dis baie sleg vir die begunstigdes. Kinders moet terug skool toe en nou kan die ouers nie kos of skryfbehoeftes koop nie.”

Thandi Hanekom, Black Sash se koördineerder in die Wes-Kaap, het ook bevestig dat daar ʼn toename in klagtes was van mense wie se Sassa-rekeninge foutiewelik opgeskort is.

Dié inligting is ook deur ʼn Sassa-werknemer van ʼn tak in Gqeberha, wat anoniem wou bly, aan GroundUp bevestig.

GroudUp het ook Sassa-kantore in Mitchells Plain in Kaapstad en Kariega in die Oos-Kaap besoek waar mense tougestaan het in die hoop om die foutiewe opskortings te laat omkeer.

Volgens Raiters is toelae weens “belaglike redes” – wat voorheen geen probleme veroorsaak het nie – gestaak. Sy sê daar was gevalle waar mense se uitbetaling opgeskort is omdat die persoon drie name op hul ID het, maar net twee van dié name op hul bankstaat verskyn.

Sassa se nasionale betalingstelsel het die afgelope twee jaar by meer as een geleentheid ineenstortings beleef. In September verlede jaar is duisende mense aan die genade oorgelaat weens ʼn tegniese fout wat verhoed het dat betalings gemaak is aan Sassa-gebruikers met goue kaarte.

Toelaag enigste inkomste

Volgens Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, is daar tans nog meer as 70 000 begunstigdes landwyd wat op hul toelae wag.

Masango sê ook dat Sassa die jongste vertraging in die uitbetalingsproses toegeskryf het aan ʼn tegniese fout.

“In September verlede jaar het duisende mense vir weke sonder hul geld gesukkel. Nou vrees mense opnuut dat dit weer weke gaan duur voordat hulle hul geld gaan ontvang voor Februarie, mits hulle dit ooit ontvang. Vir baie ouers is die kindertoelaag die enigste inkomste wat hulle het,” sê Masango.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is in chaos, maar die regime probeer groot meneer speel op die wêreldverhoog.

Highlander ·

65% van Suid-Afrika se kinders ontvang hierdie toelaag? Hulle het mooi geluister. Wees vrugbaar en vermeerder. ‘n Stelsel wat soveel op welsyn het, het geen bestaansreg nie. En die mense wat daarop teer, het ook geen bestaansreg nie.

Johan ·

Akkoord Highlander. En die geldjies in staatskoffers raak min… nou sal daar na nuwe redes gesoek word om nie te betaal nie.

Theuns ·

Terwyl oorgewig mense en ramaposa en sy kaders hul ooreet aan kaviaar en koek is Nelspruit, moet SASSA MENSE sterf van die honger?!!!
Nog ‘n saak vir die wereldhof oor Misdaad teen die mense en Volksmoord.
Kom nou Solidariteit! Vat hul aan! RegIstreer die saak terwyl hul Israel beskuldig van hul eie oortredings! TYD IS REG!
DA te moeg en rigtingloos

Gert ·

Die kindertoelaag beloop R510 per maand en 65% van Suid-Afrika se kinders ontvang hierdie toelaag. Dit is miljoene kinders. So koop die ANC hulle pad uit vorentoe maar hul besef nie die manjie wat so leeg geskep word moet ook aangevul word nie. Kan groot mense asseblief net weer die land bestuur en die klomp staatskapers terug stuur na hul gate waar hul uit gekruip het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.