E-tol nie werklik laer nie – jou opsies

Hoewel verlede week se opskrifte dit uitbasuin het dat die beoogde e-toltariewe nou laer is as wat voorheen beplan is, is dit nie werklik die geval nie.

Dit is waar dat die tariewe laer is as dié wat in 2011 aangekondig is, maar die jongste tariewe is feitlik identies aan die tariewe van April 2012. Indien die twee verskillende Staatskoerantuitgawes waarin die twee stelle tariewe gepubliseer is, met mekaar vergelyk word, is daar byna geen verskille nie.

Vir ‘n gewone sedanmotor met ‘n e-tolskyfie sou dit in 2011 sowat 49,5c per kilometer gekos het om die e-tolpaaie te gebruik. Later in 2011 is dit tot sowat 40c per kilometer verlaag. Ná die groot herrie en hofsaak in 2012 is ‘n tarief van 30c per kilometer in April 2012 aangekondig. Die jongste aangekondigde tarief is steeds 30c per kilometer. Dit is nie laer as voorheen nie.

Vir ‘n sedanmotor sonder ‘n e-tolskyfie is die tarief sowat 58c per kilometer (Ook dieselfde as wat dit in April 2012 was). Dit is byna dubbeld die tarief wat ‘n e-tolskyfie-gebruiker betaal. Die uitgawe van die Staatskoerant waarin die jongste beoogde toltariewe gepubliseer is, kan by hierdie skakel gelees word. Dit bevat ook die inligting oor tariewe vir motorfietse en swaarvoertuie.

Dit is steeds ‘n duistere saak waarom die regering so vasbeslote is om die e-tolstelsel te laat voortgaan. Uiters ironies vir ‘n staat met sterk sosialistiese neigings, is die “gebruiker betaal”-beginsel nou skielik heilig. Dit so asof daar geen gratis (belastingbefondsde) skole, klinieke, hospitale, paaie, ens. in die land is nie. ‘n Brandstofheffing sou met geen insamelingkoste gepaard gaan nie, en sou slegs sowat 5c tot 9c hoef te wees om die koste van die paaie binne 20 jaar af te betaal indien dit landswyd ingestel word. Indien dit slegs in Gauteng ingestel sou word, sou dit sowat 15c tot 27c moes wees. Dit is slegs ‘n 1,3% tot 2,3% styging op die huidige prys van petrol in Gauteng. Vergeleke met die maandelikse R550 tolgeld-perk, sou dit ook vir meeste padgebruikers ‘n baie goedkoper oplossing wees.

Die enigste voordeel wat ʼn tolstelsel op hierdie paaie teoreties het, is dat dit verkeer op die paaie sal verlaag. Dit is egter twyfelagtig of dit in werklikheid sal realiseer.

Terwyl dit egter lyk asof die regering teen wil en dank met die tolstelsel wil voortgaan, is dit raadsaam om die verskillende opsies wat ‘n padgebruiker te doen staan.

Die eerste opsie is om ‘n e-tolskyfie te kry, dit by Sanral te registreer en alle tolgelde te betaal soos dit geëis word. Padgebruikers wat dit doen, sal vir al die verskillende soorte afslag in aanmerking kom. Daar is afslag op sekere tye van die dag, met die volle tarief wat slegs van 06:00 tot 10:00 en van 14:00 tot 18:00 op weeksdae gehef word. Daar is ook afslag vir gereelde gebruikers – vanaf R400 se tolgeld tot R550 se tolgeld is daar 15% afslag beskikbaar.

Die tweede opsie is om, uit protes teen die ondoeltreffende, duur stelsel, nie ‘n e-tolskyfie te kry nie, en enige rekeninge wat gestuur word te ignoreer en te kyk wat Sanral maak. Daar heers nog onsekerheid oor of die versuim om e-tolgeld te betaal ‘n oortreding van enige wet is, en indien dit is, watter soort oortreding dit is. Hierdie opsie stel die padgebruiker egter aan risiko bloot. Daar is moontlik ‘n risiko van vervolging, en die toltarief skiet ook die hoogte in, byna vyf keer hoër as die tarief vir e-tolskyfie-gebruikers, indien dit nie betyds betaal word nie.

Die derde opsie is risiko vry, maar bevat tog ‘n element van protes. Hierdie padgebruiker sal geen e-tolskyfie kry nie en ook nie vir die tolstelsel registreer nie. So ‘n padgebruiker word deur Sanral as ‘n “alternate user” geklassifiseer. Die tarief vir ‘n “alternate user” is byna vyf keer hoër as die tarief vir ‘n e-tolskyfie-gebruiker. Indien die tolgeld egter binne sewe dae betaal word, is die tarief sowat 58c per kilometer. Indien daar binne die sewe dae tydperk betaal word, sal so ‘n padgebruiker ook vir die afslag wat op sekere tye van die dag en oor naweke gegun word, in aanmerking kom. Indien daar nie binne sewe dae betaal word nie, maar wel binne 30 dae, sal die tarief slegs ietwat hoër as die 58c-tarief wees – naamlik 40% van die “alternate user”-tarief. Indien daar eers ná 31 tot 59 dae betaal word, is die tarief 70% van die “alternate user”-tarief.

Laasgenoemde opsie is dus ongeveer dubbeld so duur as die eersgenoemde opsie, maar dit sal steeds vir Sanral meer administrasie skep as wat die geval met ‘n e-tolskyfie sou wees.

Paul Joubert is ʼn senior navorser by Solidariteit

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Louis de la Porte ·

Ongeveer 70% van die Pomp Prys van Brandstof bestaan reeds uit ‘n verskeidenheid van belastings waarvan ‘n groot gedeelte veronderstel is om aangewend te word vir die onderhoud en uitbou van ons paaie stelsel. SANRAL is bloot ‘n gewettigde boef wat Gesteelde Geld invorder met die Tolstelsel. Daar is geen voordele vir die padverbruiker hierin nie.
Ek stel voor almal gebruik alternatiewe roetes en dwing die land en verkeer so tot stilstand tot die boewery afgestel word.

Paul Joubert ·

Louis, kyk hierbo vir ‘n reaksie op jou kommentaar. Toe ek dit vroeër as antwoord op jou kommentaar wou plaas, het die funksie nie lekker gewerk nie.

Paul ·

Hallo Louis
Jou kommentaar is korrek in die gees, maar foutief wat die feite betref.

Die huidige pompprys vir 93 oktaan petrol in Gauteng is R11,97.

Van hierdie R11,97 is gesamentlik R2,9265 heffings wat na die staat gaan. Dit is slegs 24,4% van die pompprys, nie naastenby 70% nie.

Van hierdie R2,9265 is 88c die heffing vir die Padongelukkefonds. Dit word slegs vir mediese eise (nie voertuigskade-eise, soos baie mense dink nie) uitbetaal en kan nie na padinstandhouding gaan nie. ‘n Verdere 3c is ‘n heffing vir die pyplyn van Durban tot in Gauteng.

Daar bly dus slegs R2,0165 oor wat moontlik na padinstandhouding kan gaan. Dit is sowat 16,8% van die huidige (Oktober 2012) pompprys van 93-oktaan petrol in Gauteng.
Besoek gerus die volgende skakel vir nog ‘n magdom inligting oor brandstofpryse in Suid-Afrika: http://www.solidariteit-blog.co.za/?s=brandstof

Die Nasionale Tesourie sal vir jou sê dat die staat jaarliks in elk geval meer geld aan paaie spandeer as wat met die heffing op brandstof ge-in word en dat daar dus eintlik geredeneer kan word dat die brandstofheffing wel ten volle vir paaie aangewend word, plus nog bykomende belastinggeld. (Dit sê egter nog niks oor die doeltreffendheid van die besteding op paaie nie.)

Die vraag bly egter, soos in die vyfde paragraaf van die artikel gestel, indien ander paaie dan wel eintlik met ‘n brandstofheffing befonds word, waarom die Gautengse hoofpaaie ‘n uitsondering, met ‘n duur invorderingstelsel, moet wees.

Andre Smit ·

As n gemiddelde motor n 55l brandstof tank het is dit R 110 per tank petrol wat by gedra word, As die gemiddelde motoris 2x per maand petrol in gooi is dit R 220 per maand wat hy bydra en R 2640. daar is nagenoeg 10 000 000 gerigestreerde karre op suid afrikaanse paaie wat n padfonds van R 22 00 000 000 per maand teweeg bring en n bedrag van R 26 400 000 000 per jaar. Dit is nie trokke en karre wat meer as 2x per maand vol maak en baie groter brandstof kapasiteit het nie…Dit is ook nie die reeds bestaande tolhekke nie! nog minder die voertuig lisensies wat jaarliks betaal word!!!!!!!!! WAT MAAK HULLE MET DIE GELD

Paul Joubert ·

Hallo Andre

‘n Beter manier om dit wat met heffings op brandstof ge-in word, te bereken is om die totale hoeveelheid brandstof wat in Suid-Afrika verkoop word te vat en daarmee te werk, eerder as om te probeer skat hoeveel keer mense brandstof ingooi in hoeveel geregistreerde voertuie. Onthou, baie geregistreerde voertuie staan iewers in iemand se garage en daar word net naweke daarmee gery, of dit staan vir maande en stof vergaar, terwyl ander weer gedurig op die pad is en dalk selfs elke dag meer as een keer ‘n petroltenk volmaak. Dit maak so ‘n skatting van gemiddeldes baie moeilik. Werk ‘n mens egter met die hoeveelheid brandstof, word daardie probleem uitgeskakel.

Daar word ongeveer 11,8 miljard liter petrol en 10 miljard liter diesel jaarliks in Suid-Afrika verkoop. Dit gee dus ongeveer R44 miljard rand ingesamel deur die heffings jaarliks. Die werklike bedrag sal bietjie minder wees, omdat boere en treine ‘n rabat terugkry. (Die bedrag wat die Tesourie aanhaal vir die brandstofheffing alleen vir 2012/13 is sowat R42,8 miljard, wat toon dat my skatting naastenby in die kol is.)

Dis moeilik om presies te bepaal hoeveel die staat op paaie spandeer, aangesien verskillende paaie deur verskillende sfere van die regering gebou en in stand gehou word en dinge soos die verkeerspolisie ook elkeen onder ‘n spesifieke munisipaliteit ressorteer.
Die staat sal egter vir jou sê dat hulle jaarliks meer as die bedrag wat met die brandstofheffing ingesamel word, op paaie spandeer. Vir my lyk dit egter meer soos ongeveer R25 miljard per jaar, maar ek praat streng onder korreksie hier.
Die ander geld (indien daar wel oorbly) word op algemene staatsuitgawes spandeer – as jy dan vra “wat maak hulle met die geld?” – kyk rond, enigiets wat die staat doen.

frikkievb ·

Ek reken almal moet net op hul nommerplate by die boonste skroewe `n paar “spacers” insit, sodat dit teen `n helling gemonteer is. Sodat die nommerplaat bietjie afkyk. Ek wonder of die e-tol dit dan steeds sal optel…

Paul Joubert ·

Hallo Frikkie

Die subregulasie 35(7) van die Padverkeerswet sê die volgende:

A number plate shall be affixed –
a) in such a manner that it is not easily detachable;
b) in an upright position or within 30 degrees of such position;
c) in such a manner that each letter and figure thereon is clearly legible;
d) in such a manner that the whole number plate is clearly visible;
e) to the back of a motor cycle, motor tricycle, motor quadrucycle or trailer; and
f) one to the back and one to the front of all other motor vehicles :

Jy kan dus die nommerplaat hoogstens 30 grade vanaf die vertikaal laat “afkyk”, ander voldoen dit ook nie aan die wet nie.
Ek vermoed die stelsels sou ontwerp wees om steeds nommerplate te kan lees wat 30 grade “afkyk”.

frikkievb ·

Ons hoop vir hulle part dat hulle onthou het van die wetgewing, anders gaan dit die mense net nog onkostes moet aangaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.