E-tolstelsel: Aankondiging kry teenkanting

Verskeie organisasies het Vrydag hul teenkanting aangeteken nadat die Suid-Afrikaans Padagentskap (Sanral) bekend gemaak het dat die e-tolstelsel op Gautengse paaie oor twee maande in werking gaan tree.

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (OUTA) het gesê die aankondiging ontstel hulle glad nie want hulle weet Sanral is nog nie gereed om die stelsel in werking te stel nie.

AfriForum het weer bevestig dat die organisasie se personeel en verteenwoordigers nie vir die beplande e-tol sal registreer nie en het motoriste aangemoedig om dieselfde te doen. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat Sanral gedwing sal word om weer te besin oor die kostedoeltreffendheid van die e-tolstelsel as ʼn verhalingsmeganisme indien genoeg motoriste uit protes ook nie vir e-tol registreer nie.

Cosatu het Sanral se aankondiging gekritiseer en sterk veroordeel. “Dit is arrogant om so iets aan te kondig alvorens die parlement die wetgewing goedgekeur het,” het Patrick Craven, Cosatu se woordvoerder, gesê. Cosatu het motoriste ook versoek om nie e-tolskyfies aan te skaf nie om die sisteem onwerkbaar te maak. Cosatu het ook gesê ʼn massa betoging gaan in die komende weke plaasvind om protes aan te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.