Die kommissie van ondersoek na die sterftes van agt mense gedurende ʼn fiksheidstoets by die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat (RTI) gaan na verwagting meer as R14,2 miljoen kos, berig die Sunday Times.
“ʼn Bykomende R5,7 miljoen word benodig vir die kommissie om sy ondersoek te voltooi,” het Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse premier se kantoor, aan die koerant gesê. ʼn Totaal van R5,5 miljoen is aanvanklik vir die kommissie se ondersoek begroot maar die koste het geleidelik tot R14,2 miljoen gestyg. Die Sunday Times berig dat kos en koeldranke vir die 50 mense wat die kommissie bywoon R494 962 beloop terwyl daar R424 164 vir oudiovisuele dienste en R230 000 vir reiskoste betaal is. Die kommissie se spertyd vir sy ondersoek is intussen van Maart 2014 tot Augustus 2014 uitgestel.
Die kommissie stel ondersoek in na die dood van agt mense nadat hulle in Desember aan ʼn 4km-fiksheidstoets deelgeneem het by die Hary Gwala-stadion in Pietermaritzburg. Die fiksheidstoets het deel uitgemaak van ʼn proses om aansoek te doen vir werk by die padverkeersinspektoraat. Meer as 40 000 mense het gekwalifiseer om vir 90 geadverteerde poste aansoek te doen. Die 40 000 mense het op 27 en 28 Desember die fiksheidstoetse bygewoon.
Soveel koste slegs omdat daar een of enkeles is wat onbesonne en ondeurdagte besluite geneem is omdat hulle nie oor die nodige kundigheid, insig en wysheid beskik het nie – en dit terwyl daar tog baie kundigheid beskikbaar is.