Groot vreugde oor Akademia se Taalstudie-kwalifikasie

Dr. Stefan van Zyl, prof. Thys Human en dr. Alé Steyn tydens die bekendstelling van Akademia se BA (Taalstudies)-program. (Foto: Akademia)

Akademia het Donderdag aangekondig dat ʼn BA (Taalstudies)-kwalifikasie van volgende jaar af heeltyds by dié onafhanklike hoëronderwysinstelling aangebied word.

Dr. Alé Steyn, departementshoof van tale en kultuurstudies, het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê die bekendstelling van hierdie nuwe kwalifikasie is nou verweef met die viering van ʼn jarelange droom wat eindelik verwesenlik word.

“Dit gaan oor soveel meer as die uitbreiding van Akademia se aanbod. Daar is ʼn hele klomp mense wat saam gedroom en gewerk het om te kom waar ons vandag is. Die taalkwalifikasie is ʼn hartsaak vir Akademia omdat ons weet wat die waarde en noodsaak van tersiêre opleiding in hierdie veld is.”

Die kwalifikasie is tydens ʼn spoggeleentheid saam met Akademia se splinternuwe Taalsentrum by Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion bekendgestel. Uitgesoekte gaste het saam met personeel en studente van die instelling byeengekom vir dié viering.

Taalstudies is die tweede kwalifikasie in die fakulteit en die derde een in die departement tale en kultuurstudies.

Volgens Steyn heers daar altyd groot opgewondenheid wanneer nóg ʼn kwalifikasie by Akademia bekendgestel word, want dit beteken dat daar vooruitgang en groei plaasvind.

Akademia se Taalsentrum is Donderdag saam met die instelling se BA Taalstudies-graad by Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion bekendgestel. (Foto: Maroela Media)

“Die instelling trek binnekort na ʼn kampus toe waar ons duisende studente wil huisves, maar om daar te kom het ons groei nodig. Dit is dus vir Akademia as instelling en vir ons as Fakulteit Geesteswetenskappe nodig om uit te brei deur onder meer die toevoeging van bykomende kwalifikasies.”

Steyn word dikwels deur ouers en studente oor die waarde en bruikbaarheid van ʼn graad in tale gepols.

“Tale en taaldepartemente is wêreldwyd besig om te verskraal. Personeelkorps word kleiner en studente wat aanklop om tale te neem word minder. Waarom is dit dan nuttig om ʼn taalkwalifikasie te doen?

“Die ding wat tale wonderlik maak, is dat dit een van daai kwalifikasies is wat vir jou ʼn wyer perspektief en toegang tot ander wêrelde gee. As student leer jy nie net ʼn nuwe taal praat nie, maar jy leer ook meer oor ander kulture, ʼn ander manier van dink en om empatie te hê vir hoe ander kulture en mense dink.

“Een van die nadele is dat jy nie met ʼn papier gaan uitstap wat sê jy is ʼn dit of dat nie, maar dit is terselfdertyd vir my die wonderlike ding van ʼn kwalifikasie in kommunikasie en joernalistiek, en ʼn taalkwalifikasie. Die wêreld lê oop voor jou, en jy word nie beperk om net een ding te doen nie.”

Met die huidige tydsgees in gedagte, is dit maklik om kwalifikasies in ander velde belangriker te ag of in die vaardighede wat die vierde nywerheidsrewolusie vooropstel, vas te kyk.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie saam met dr. Alé Steyn, departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia by die bekendstellingsfunksie van BA (Taalstudies).

Steyn meen egter dat taal te midde van radikale verandering en vooruitgang steeds ʼn onlosmaaklike rol vervul.

“Taal staan eintlik sentraal in alles wat ons doen. Dit bepaal hoe ek en jy met mekaar kommunikeer, dit het ʼn invloed op hoe ek dink en gedagtes bymekaar sit, en ook hoe ons onder mekaar as samelewing betekenis maak.

“Dit kan nie geskei word van enigiets anders wat ons doen nie. Ons kan dit nie uit ingenieurswese, die politiek, onderwys of ekonomiese bestuurswetenskappe haal nie.”

Vorming van laterale denke, kreatiewe probleemoplossing en effektiewe kommunikasie is enkele vaardighede wat deur taal ontwikkel word. Dit is volgens Steyn van die belangrikste gereedskap wat studente vir die toekoms nodig het.

“In die vierde nywerheidsrevolusie het ons meer mense nodig wat kan saamwerk met ander, kreatief probleme kan oplos en betekenis kan skep, en tale gee vir jou daardie fondament.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wikkie ·

Aan die outeur van hierdie rubriek, Christa, loer gou na die eerste sin: “Akademia het Donderdag aangekondig dat ‘n van volgende jaar af heeltyds” .

Vul dalk net gou in wat ookal na die woord ‘n ingevul moes word.

Groete

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Wikkie

Baie dankie vir jou boodskap. Die betrokke sin is gewysig soos versoek.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

Anel ·

MM, kyk net bietjie weer na julle eerste paragraaf, asseblief. Dit maak nie sin nie. Of dalk is ek verkeerd.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Anel

Baie dankie vir jou boodskap. Die betrokke sin is gewysig soos versoek.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

ALTA ·

Dit is vir my n riem onder die hart dat daar mense is wat voort stu en bou ipv afbreek en vernietig.Dit gee my hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.