Hoe om erfenis te verewig

Blou plaat by 39 Jan Smuts-laan in Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Ek bely: My naam is Petronel en ek is ʼn ongeneeslike erfenisentoesias. Ek hou van ou geboue, ek soek slagvelde op, ek verken monumente en ek mis nie sommer ʼn museumuitstappie nie. Ek probeer ander mense met my entoesiasme aansteek en ek wend pogings aan om dit te bewaar.

Almal wat aan dieselfde kwaal as ek ly weet dat erfenisbewaring in vandag se tyd nie maklik is nie.

Tog glo ek dat ʼn ware entoesias nie sy of haar vlam moet laat blus deur struikelblokke soos onbehulpsame regeringsamptenare of finansiële uitdagings nie. Nee wat, waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg. ʼn Boer maak ʼn plan, en so kan ek aangaan.

Met hierdie vlammetjie van vasberadenheid wat in my hart brand, het ek van die blou gedenkplaat-beweging te hore gekom. Ek het my kring van erfenisvriende in Middelburg, Mpumalanga daarvan vertel en die vlammetjie het tussen ons tot ʼn vrolike vuurtjie gegroei. Want hier is ʼn oplossing, hier is ʼn manier om self, sonder enige amptelike rompslomp, die erfenis van ons dorp sigbaar en tasbaar vir almal beskikbaar te stel.

Blou om te onthou

Blou gedenkplate dateer uit 1866 se Londen, toe die Royal Society of Arts hierdie plate (wat hulle “blue plaques” noem) begin druk en monteer het. In Londen was hul dryfveer om “die mense van die verlede aan die geboue van die hede te koppel”. Vandag pryk daar meer as 900 blou gedenkplate regoor Londen. Jy sal dit ook in Kanada, Australië en ander wêrelddele vind, elkeen met sy eie inslag en fokus, maar met erfenisbewaring as doel.

Blou gedenkplaat in Johannesburg (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika het sy eerste blou plate sowat 40 jaar gelede gekry. Die inisiatief het van die destydse Stigting Simon van der Stel gekom, wat deesdae die Heritage Association of South Africa is. Dié organisasie het die blou plate oorsee gesien, en omdat die plaaslike brons gedenkplaatjies wat vroeër deur die Nasionale Raad op monumente aan nasionale erfenisterreine toegeken is meestal gesteel is, het hulle besluit om die blou roete te volg.

Die gedenkplate word deesdae van veselglas of versinkte staal gemaak, wat nie hoog op diewe se inkopielysies is nie. Die gevaar van vandalisasie bestaan nog, maar dit is die beste opsies wat daar tans is. Die blou kleur vang die oog en prikkel so belangstelling.

Hoewel die eerste blou gedenkplate in Johannesburg opgesit is, is die plate nooit gepatenteer of kopiereg daarop geplaas nie. Daarom kan enige erfenisvereniging vandag hul dorpe se geskiedenis op blou plate verkondig.

En dit is presies wat ons hierdie jaar in Middelburg gedoen het.

Historiese merkers wat bewaar en leer

Met erfenisbakens wat bedreig word, kan blou gedenkplate ʼn kragtige instrument wees om die oorblywendes te gedenk en bewaar. In Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Swellendam, Heidelberg, die Magaliesberg-omgewing en nog talle ander plekke is die erfenisbewaarders goed op dreef om al wat ʼn gedenkwaardigheid is met so ʼn plaat te vereer. Johannesburg spog al met ʼn paar honderd sulke plate en minstens 20 nuwes word jaarliks daar gemonteer.

(Foto: Verskaf)

ʼn Blou gedenkplaat se boodskap is bloot: Bewaar hierdie geskiedenis. Neem kennis daarvan, leer iets daaruit, bewaar dit vir jou kinders. Dit laat verbygangers dalk wag, wonder, lees, waardeer.

Gedenkplate vier mense, plekke, en gebeure. In minder as 100 woorde vertel hierdie blou boodskapper die storie van ʼn merkwaardige historiese plek of persoon, en as daar ʼn QR-kode op is, kry jy nog meer inligting op die internet. ʼn Klompie blou plate in dieselfde omgewing kan ʼn erfenisroete vorm, wat toerismevoordele vir veral kleiner dorpe inhou.

Hierdie plate kan ook status aan huise en geboue verleen. Wanneer mense trots daarop is dat hulle in ʼn erfenishuis woon of ʼn kantoor met geskiedkundige waarde besit, sal so ʼn plaat ʼn blyk van erkenning en waardering wees waarmee hulle kan spog.

Red wat te redde is

Nog ʼn belangrike rol wat ʼn gedenkplaat speel, is om te voorkom dat erfenisgeboue sneuwel voor die stootskraper van ontwikkeling. Hoewel ontwikkeling noodsaaklik is, hoef dit nie noodwendig ten koste van erfenisbewaring te gebeur nie. Maar die tragiese realiteit is dat erfenis dikwels verlore gaan bloot omdat die drywers van ontwikkeling nie daarvan bewus was nie, of nie daarvoor omgee nie. Daarom moet mense met die kennis en die wil om dit te bewaar, moue oprol en tot die redding kom – en gedenkplate kan beslis help in hierdie stryd.

Selfs waar erfenisterreine reeds bloot tot ruïnes verval het, kan ʼn gedenkplaat op daardie plek eer betoon aan iets wat was, en mense steeds daaroor inlig.

Pak die erfenisbul by die horings

Terug in Middelburg. Die eerste stap op hierdie opwindende reis wat ons aangepak het, was om te besluit watter geboue of terreine ons met blou plate wil vereer. Daar is so baie! Nadat ons die eerste tien geïdentifiseer het, het die navorsing begin. Hoewel almal van ons die storie ken, moet ons seker maak ons feite is korrek en dit moet ook deur kundiges nagegaan word. Boonop moes ons die kern van die storie in minder as 100 woorde saamvat – wat ʼn uitdaging.

Oor die verloop van ʼn paar maande het ons die inhoud reggekry, ons het die uitgebreide inligting met foto’s daarby op ʼn webwerf geplaas, ons het QR-kodes gekry wat daarheen lei om ook op die plate te laat druk. Borge het hand opgesteek om met die kostes te help, die drukkers is gekontak en die kosbare plate is in Middelburg afgelewer.

Nou vir die logistiek van die groot onthullingsgeleentheid. Die datum was maklik, Erfenisnaweek was net reg daarvoor. ʼn Plek is gereël, die bod het geval op die dorp se historiese treinstasie, wat self twee blou plate kry. Gaste is genooi, planne vir die montering is gemaak, koerantberigte, eetgoed, blomme, gevleuelde woorde, alles het deel gevorm van die aanloop tot die groot dag. ʼn Gemeenskapspoging soos min, wat net weer wys: daar ís ʼn wil.

Die geleentheid waartydens die blou gedenkplaat by Schoemanskruis in Hartbeespoort onthul is (Foto: Verskaf)

Terwyl ek gewag het vir Saterdag se groot geleentheid, het ek weer besef dat iets soos blou gedenkplate die potensiaal het om samewerking en begrip tussen ʼn verskeidenheid van mense te bevorder. Dit is klein blou bakens van kennis vir almal wat dit aspris of terloops teëkom.

As jy weer in Johannesburg of Heidelberg kom, gaan soek gerus hul blou gedenkplate op en as jy vanjaar in Middelburg se omgewing is, kom soek daardie eerste agt gedenkplate van ons dorp op.

Klik hier vir die databasis van Suid-Afrika se blou gedenkplate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.