Die pad na die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie

 

Oorsig oor die konferensie

Die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie (NVK) vind vanjaar na verwagting van 16 tot 20 Desember by Nasrec in Johannesburg plaas. Tydens hierdie konferensie word die nuwe president, topses-leierskap en nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC verkies.

Hierdie konferensie vind ingevolge die ANC-grondwet elke vyf jaar plaas met die aanbieding daarvan wat veronderstel is om tussen die onderskeie provinsies te roteer. Die vorige konferensie het in Desember 2017 in Gauteng plaasgevind waartydens pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies is.

Benewens die verkiesing van leierskap word daar ook bepaalde resolusies tydens die konferensie aangeneem deur die afgevaardigdes.

Samestelling van die konferensie

Die ANC-grondwet bepaal dat dié konferensie se samestelling 90% uit afgevaardigdes van die takke sal bestaan met lede van die nasionale uitvoerende konferensie (NUK), onderliggende ANC-ligas en die provinsiale uitvoerende komitees wat sowat 10% van die totale konferensie en stemgeregtigdes sal uitmaak.

Daar sal in Desember na verwagting 4 250 afgevaardigdes verteenwoordigend van die onderskeie takke die konferensie bywoon. Elke tak met meer as 100 lede mag een afgevaardigde stuur. Vir elke addisionele 150 lede per tak, mag ʼn bykomende afgevaardigde gestuur word.

KwaZulu-Natal stuur 877 afgevaardigdes na die konferensie wat dit die grootste provinsiale kiesblok maak. Die Oos-Kaap is die tweede grootste kiesblok met 684 afgevaardigdes. Limpopo is die derde grootste provinsie met 613 afgevaardigdes wat die konferensie bywoon. Gauteng is vierde grootste met 502 afgevaardigdes. Mpumalanga is die vyfde grootste kiesblok met 390 afgevaardigdes. Noordwes se 361 afgevaardigdes maak dit die sesde grootste provinsiale kiesblok. Die Vrystaat se 301 afgevaardigdes maak dit die sewende grootste provinsie. Die Wes-Kaap stuur 283 afgevaardigdes. Die Noord-Kaap is die kleinste provinsie met 239 afgevaardigdes.

Die benoemingsproses

Enige van die 3 942 ANC-takke het geleentheid van 8 September om hul voorkeurkandidate te benoem. Dit is boonop die benoemings wat die verskillende provinsiale uitvoerende komitees, ANC-jeugliga, Vroueliga asook Veterane-liga vir leierskapsposisies ook kan maak.

Die ANC se verkiesingskommissie, onder leiding van oudpres. Kgalema Mothlante, moet die verskillende benoemings teen einde Oktober konsolideer. Alle takke het tot en met 2 Oktober tyd om NUK-kandidate te benoem sowel as om te bepaal watter lede as afgevaardigdes gestuur sal word. Op 12 Oktober word die afsonderlike takke provinsiaal gekonsolideer in een provinsiale lys onder die toesig van die provinsiale lyskomitee. Hier word die afsonderlike takke se benoemings op een lys bymekaargesit in die volgorde van hoeveelheid takbenoemings wat deur elke kandidaat verkry is. Die provinsiale benoemings vir die topses-leierskap sal bestaan uit die kandidate in die afsonderlike kategorieë met die meeste gesamentlike benoemings. Die top 80 kandidate vir addisionele benoemings word dan die provinsie se benoeming vir die NUK.

Besware teen enige benoemde kandidate moet teen 15 Oktober by die verkiesingskommissie ingedien word. Indien daar enige kandidate is wat volgens die daargestelde reëls gediskwalifiseer sal word, moet dit ook teen 31 Oktober hanteer word.

So sal die kandidaatslyste in November gefinaliseer word. Hierdie lyste sal insluit die topdrie-benoemings vir elk van die topses-kategorieë en die top-200-benoemdes vir die NUK. Die totale hoeveelheid tak- en provinsiale benoemings wat ontvang is, sal ook hierby ingesluit word. Nadat die kandidatelys gefinaliseer is, moet hulle kort CV’s instuur wat aan al die takke versprei sal word.

Ten einde ʼn kandidaat te benoem moet die verskillende takke in hul algemene vergaderings byeenkom. Die vergaderings kan volgens die ANC-grondwet eers plaasvind nadat die bepaalde reëls vir die nasionale leiersverkiesing vasgestel is deur die NUK. Dit is reeds gefinaliseer. Die reëls bepaal onder meer hoeveel afgevaardigdes elke tak na die nasionale leiersverkiesing kan stuur. Dit is in besonder belangrik, omdat dit die magsbalans binne die ANC in ʼn bepaalde rigting kan laat kantel. Die hoeveelheid afgevaardigdes wat elke tak mag stuur, bepaal uiteindelik hoeveel stemme hulle vir hul voorkeurkandidaat sal kan uitbring.

Die benoemer van elke kandidaat moet by die takvergadering, ná benoeming en voor stemming, in ʼn toespraak van twee minute verduidelik waarom die kandidaat geskik is vir benoeming. Daarna sal ʼn bespreking volg waarop die stemming self sal volg. Die onderskeie takke sal hul kandidate vir topses-leierskap benoem in ʼn geheime stemming met die tak se NUK-benoemings wat met ʼn wys van hande gekies sal word. Vir elke topses-posisie sal slegs die drie kandidate met die meeste stemme kan meeding. Vir die topses- sowel as NUK-benoemings moet ʼn kandidaat 50% plus een van die tak se stemme kry om te kwalifiseer as benoemde. Indien 50% plus een vir geen kandidaat verkry word nie, moet ʼn tweede rondte stemming gehou word tussen slegs die twee kandidate wat die meeste stemme in die eerste rondte gekry het. Elke rondte se uitslae sal eers aangekondig word voordat die volgende rondte se stemming ʼn aanvang neem.

Die ANC-reëls stipuleer verder dat die NUK-benoemings van elke tak ten minste uit 50% vroue moet bestaan. Dit word ook as riglyn voorgehou wanneer dit kom by topses-benoemings.

Elke provinsie is verder by magte om nie meer nie as twee kandidate vanaf die vloer te benoem – 25% van die afgevaardigdes moet dié benoemings met ʼn wys van hande steun vir dit om te slaag.

Huidige kandidate vir presidentskap van die ANC sluit in pres. Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake en Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid. Ramaphosa se herverkiesing tot ANC-president word ondersteun deur Limpopo, Oos-Kaap en Noordwes. Na verwagting sal Gauteng en die Noordkaap ook hul steun agter Ramaphosa se kandidatuur ingooi.

Verkiesingsreëls en -riglyne

Die ANC se reëls oor geslagsgelykheid bepaal dat ten minste 50% van die verkose NUK-lede vroue moet wees.

Diegene wat hulself verkiesbaar wil stel tydens die konferensie moet, volgens die nuutuitgereikte reëls, hul finansiële state in die vorm van finansiële verslae aan die verkiesingskommissie verskaf. Op grond hiervan is die verkiesingskommissie ook by magte om verdere ondersoek na bepaalde kwessies in dié verband in te stel – dit sluit in die finansiële state van kandidate, kandidatuurveldtogte asook veldtogwerknemers. Die verkiesingskommissie kan versoek om die verklaring van alle bates, eiendomme, beleggings, donasies sowel as geskenke van enige van die kandidate te ondersoek. Indien nodig mag die verkiesingskommissie ook hul eie diskresie gebruik om kriminele of siviele sake teen hierdie persone te open.

Verdere reëls vir veldtogvoering stipuleer dat verskillende kandidate hulself nie verkiesbaar mag stel as deel van georganiseerde groepe of lyste met die doel om stemme te werf vir daardie bepaalde groep nie. Die doel hiervan is om die saamgroepering van bepaalde kandidate in die verkiesing te verhoed en eerder op individuele kandidate te fokus. Dit is ten einde faksie-stemming sover moontlik te vermy.

Die reëls stel ook dat die onderskeie veldtogte moet sentreer rondom die individuele kapasiteite en geskiedenis van die bepaalde kandidaat. Kandidate mag mekaar se veldtogte dus nie onderskryf of ondersteun as deel van hul eie nie of gesamentlike veldtogte (en gepaardgaande funksies reël nie). Geen afgevaardigdes mag voorgeskryf word om vir ʼn bepaalde kandidaat of groep kandidate te stem tydens die verkiesing nie.

Geen individuele kandidaat mag ook enige T-hemde, hoede, voertuie, pamflette, plakkate of enige ander items met handelsmerke vir veldtogdoeleindes gebruik nie. Dié bepaling is ook van toepassing op enige betaalde promosies of advertensies vir veldtogdoeleindes. Alle ANC-T-hemde mag egter hiervoor aangewend word.

Die kontroversiële opsystaanreël bly ook vir benoemings in die leierskonferensie van krag.

Die verkiesingsproses

Die takke word op die dag van die verkiesingskonferensie nie voorgeskryf deur die provinsiale benoemingslys vir wie om te stem nie. Die afgevaardigdes kan egter steeds ʼn mandaat kry om vir die tak se oorspronklike benoemings te stem. Dit is omdat die leiersverkiesingskonferensie nie saamgestel word deur die provinsies nie, maar deur die takke self – die takke se voorkeure moet dus die uitslae bepaal.

Tydens die leierskonferensie sal die afgevaardigdes in drie verskillende sessies of kategorieë stem. Eerstens vir die president, adjunkpresident, voorsitter en sekretaris-generaal. Tweedens word die adjunk-sekretaris-generaal en tesourier-generaal verkies. Derdens word die 80 lede van die NUK verkies.

Die stemme in elke rondte word getel en die uitslag word bekendgemaak voordat die volgende rondte van stemming kan begin. Benoemings vanaf die vloer vir ʼn kandidaat sal voor elke rondte se stemming geopen word met kandidate wat meer as 25% vanaf die vloer ontvang wat tot die stembrief gevoeg word. Dit geld vir die topses-posisies sowel as NUK-benoemings.

Tydens elke rondte van stemming sal elke afgevaardigde by een van die 25 kiesersrolkontrolepunte deurgaan om in een van die 150 kieshokkies te stem. Elke afgevaardigde sal sowat vyf minute gegun word om deur die kiesproses vir die topses te gaan en 20 minute vir die NUK-stemming. Daar sal sowat twee uur lank aan die eerste twee rondtes se stemme getel word.

Die belang van die konferensie

Ná hierdie konferensie sal die ANC as party se strukture – dit is die topses-leierskap sowel as die NUK – vervang wees. Die NUK is die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC tussen nasionale konferensies. Sodoende het die NUK die bevoegdheid om die organisasie, onderworpe aan sy grondwet, te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Waarnemer ·

Mag ek myself ook verkiesbaar stel as ANC president sodat ek al die korrupte kaders kan fire?

Bart-Man ·

Wonder hoeveel korrupsie is in die lang proses. Nie dat dit vir my saak maak nie want die uitkoms is is dieselfde. En dan begin alles weer van vooraf. Nuwe wette, ontplooiing, tenders, nuwe karre. Dan raak dit suur en van Riebeeck en sy mense kry die skuld.

Kokerboom ·

Gee nie ‘n snars om. “not my monkey, not my circus”!

Marelize ·

Ek sal graag wil weet hoeveel kos die konferensie en wie gaan daarvoor betaal.

Elize ·

Gaan miljoene kos en ek en jy gaan betaal vir hierdie helse “party”

Andries MT ·

Moet maar Jan alleman wees …….Die ACN het meer geld nie.

Nie Verbaas ·

Maak nie saak wie hulle kies nie. Almal is ewe nutteloos.

JohanR ·

As jy soe na die lot kyk is dit soos ‘n who’s who van skelms! Nie een daar wat nog vry moet rondhardloop. Kom tog gou 2024. Ons het gedink Ramaphosa gaan ‘n verskil maak. Hoe verkeerd was ons.

Anel ·

Ek dink nie een van hulle kwalifiseer nie. Daar is nie ‘n enkele een met skoon hande nie. Kan nie glo dat die kopdoek nog dit gaan kan bywoon nie. Die hele lot hoort in die ouetehuis. En ek sien groot bakleiery, en dit met ons geld. Jamner Mars is nog nie beskikbaar nie sodat ons hulle soontoe kan verban!!!!

sopbeen ·

Thuli Madonsela is die enigste ware leier. Sy is nie bang om op tone te trap nie.

Elize ·

Net jammer daardie slange op die prentjie is net dit – ‘n prentjie

Dup ·

T hemde…..pette…..rugsakke….gebottelde water….worsbroodjies….and Bob’s your Uncle.

SjN ·

Een komiese sirkus, Kort net n groot tent vir die klomp narre, fasiliteite beskikbaar by rent a tent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.