Ma praat 21 jaar ná kind verdwyn: ‘Daar sal nooit afsluiting wees’

Mighael Myburgh soos hy gelyk het kort voordat hy vermis geraak het. (Foto: Verskaf)

Dit was destyds ʼn saak wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die spoorlose verdwyning van die tweejarige Mighael Myburgh in Junie 1997 het in daardie tyd gereeld op koerantvoorblaaie en lamppale gepryk.

Daar is onmiddellik ʼn soektog na die blondekopseuntjie van stapel gestuur, maar owerhede kon geensins nader daaraan kom om dié raaisel op te los nie. Dae het weke geword, weke het in maande verander. Naderhand was dit ʼn jaar, twee jaar … Die polisiesaak het “koud” geword en mense het geleidelik vergeet van die kleuter se verdwyning wat hulle eens so geïnteresseer het.

Maar Mighael se ma het nooit vergeet nie, nooit ophou hoop nie. Vandag, 21 jaar later, onthou sy haar geliefde seuntjie nog asof sy hom gister laas gesien het – daardie ondeunde glimlag, die kroontjie op sy voorkop wat nes hare lyk. En sy weet, dié verlange kan nie verwerk word nie. Sy moes maar net leer om daarmee saam te leef.

Toe haar kind verdwyn

Dit is iets wat sy al jare in die diepste binnekamers van haar hart wegbêre, sê Sarie. ʼn Hartseer wat sy pad na die oppervlak oopdwing elke jaar rondom 19 Oktober, op Mighael se verjaarsdag. Maar dan onderdruk sy dit weer en dwing haarself om te fokus op die hier en nou. Want wat help dit tog om aan te hou wens, aan te hou wonder?

Nee, sê sy, sy het nie een besondere dag wakker geword en besluit sy het nou klaar gesoek nie. “Ek dink dit was ʼn stelselmatige proses. Nooit sal daardie afsluiting regtig daar wees nie, want ek het hom nie gesien nie. Ek het nooit voor ʼn graffie gestaan en dit met my eie oë gesien nie. Ek wens ek kon daardie afsluiting, daardie finaliteit kry …”

Die nagmerrie het vir haar begin toe sy en Theo Myburgh, Mighael se pa, geskei is. Die egpaar het destyds in Pennington in KwaZulu-Natal gebly, maar nadat die huwelik verbrokkel het, is Sarie saam met Mighael en haar vierjarige seun uit ʼn vorige huwelik sak en pak terug na haar ouers in die Vrystaat.

Op 2 Mei 1997 het Theo vir Mighael kom haal om twee weke lank by hom in Pennington te gaan kuier. Later het hy gebel en gevra of Mighael nie maar bietjie langer kan kuier nie. Sarie het ingestem. Toe Mighael egter ʼn verdere tien dae later nie tuis is nie, het sy onraad gemerk.

Sy het ʼn prokureur gaan spreek en hy het aan haar uitgewys dat die egskeidingskontrak geensins toesigregte aan Theo gee nie. “Ek het hom gebel en vir hom gesê, ‘jy beter my kind terugbring, want jy moet hom eintlik nie eens hê nie’. En ek dink daar het iets gebeur. Daar het iets gebeur daardie aand. Hy het seker self na die egskeidingskontrak gaan kyk en besef hy gaan hierdie kind nooit weer sien nie.”

Dit was ʼn Woensdagaand toe sy oor die telefoon die laaste keer met haar seuntjie gepraat het, sê Sarie. “Hy het vir my gesê, ‘lief vir jou, mamma’. Dit was die laaste woorde wat ek van hom gehoor het.”

Sy is Pennington toe om haar kind te gaan haal. By die huis gekom, het sy oor die heining geklouter en aan die deur geklop. Theo het oopgemaak. “Sy eerste woorde aan my was, ‘wat soek jy hier?’. Ek het gesê ek kom haal vir Mighael. Toe sê hy vir my: ‘Maar jy het die kind dan gisteroggend kom haal.’ So asof dit ʼn rympie is wat hy voorberei het.”

By die polisiestasie is Sarie en Theo afsonderlik ondervra om te probeer sin maak van waar die seuntjie is. Theo het beweer hy het die vorige dag gesien hoe iemand vir Mighael oor die heining tel, in ʼn wit motor laai en met hom wegry. Hy het aangevoer hy het gedink dis seker Sarie wat hom kom haal het aangesien hy te lank na haar sin gekuier het. Meer as dié storie kon die polisie nie uit hom kry nie. Hy het volgehou hy weet nie waar Mighael is nie.

“Ek het in daardie tyd gedink Theo het vir Mighael by sy ma gaan wegsteek. Maar wat vreemd was, daar was ʼn verband om sy arm en die huis was deurmekaar. Hy was gewoonlik ʼn baie netjiese mens gewees en niks sou ooit uit plek uit wees nie. Hy het net aanhou sê hy het gesien hoe iemand Mighael oor die heining tel en sommer ‘aangeneem’ dit is ek.”

Sarie het alles in haar vermoë gedoen om haar kind op te spoor. Sy het in daardie tyd selfs teruggetrek na Theo toe onder die voorwendsel dat sy die verhouding weer wil hervat. “Ek het gehoop as ek teruggaan na hom toe sal ek antwoorde kry oor waar my kind is. Dalk sou hy iets sê, dalk sou ek iets in die huis kry, ʼn leidraad, dokumente, enigiets.”

Dit was egter tevergeefs en Sarie het daar net weer deurgeloop onder die mishandeling wat sy in hul huweliksjare geken het.

Op 29 Augustus 1997 is Theo in hegtenis geneem in verband met sy kind se verdwyning. Hy is kort daarna op borgtog vrygelaat en dit is toe dat hy ook soos ʼn groot speld verdwyn.

Dié raaiselverhaal was egter ver van verby. In Julie 1998 het die sage ʼn nuwe wending geneem. ʼn Ongeïdentifiseerde man is in die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth in die Oos-Kaap opgeneem. Dié man was in ʼn koma weens malaria.

Later sou dit blyk dat die man met ʼn motorfiets van Tanzanië tot by George in Suid-Afrika gereis het. Die man het egter op sy tog malaria opgedoen. ʼn Kennis van Sarie het heeltemal toevallig op die man in die hospitaal afgekom en hom herken. Dit was Theo.

Op 28 Julie 1998 het Mighael se pa gesterf sonder dat hy ooit weer uit die koma wakker geword het. Hy is saam met sy geheime graf toe.

Mighael Myburgh. (Foto: Verskaf)

ʼn Soeke na vrede

Indien Mighael nog leef, sal hy vandag 24 jaar oud wees.

Alle aanduidings is egter dat dit nie die geval is nie, maar dat Mighael daardie aand in Junie 1997 gesterf het. “Nadat Theo dood is, het ek vir myself probeer uitmaak wat van Mighael geword het. Ek het vasgestel daar is drie opsies. Hy kon my kind deur mensehandel verkoop het. Hy kon my kind doodgemaak het. Of hy kon hom aan ʼn egpaar êrens vir aanneming verkoop het,” sê Sarie.

Ondersoekers kon egter geen teken vind dat Mighael ná daardie dag dat Sarie die laaste keer met hom gepraat het ooit weer gesien of van gehoor is nie. “Ek het daarmee probeer vrede maak: hy is dood. Maar daardie hoop het elke nou en dan in my opgevlam. Sê nou net hy lewe?”

Sy kan nie die trane keer wat oor haar wange glip nie. “My ander kind het my aan die lewe gehou. My familie het ook gehelp. Ek was kwaad vir die Here. Partykeer is ek nog steeds. Ek is ʼn goeie mamma en daar is soveel slegte ouers daar buite. Ek wens ek kan net vir hulle sê, hou op met die slegte goed wat julle doen. Julle kan jul kind vanaand in die bed sit, hom toemaak en nagsoen. Ek kan nie.”

Die beeld in haar kop van Mighael is nie dié van ʼn jongman nie. Sy dink nie wie hy vandag kon wees of wat hy sou doen nie. “Ek onthou hom nog as hierdie tweejarige wat so ʼn ou krulkoppie was. Sulke groot bruin ogies. Daai kroontjie op sy kop.”

Hoewel daar geen amptelike bevinding is oor wat met Mighael gebeur het nie, meen Wouter Botes, wat tans die reeks Doodloopspore verfilm, dat Mighael wel destyds aan die hand van sy pa gesterf het. Botes sê toe hy met die navorsing vir Doodloopspore meer van Mighael gehoor het, kon hy nie daardie blondekopseuntjie se gesiggie uit sy gedagtes kry nie. Hy móés verder ondersoek instel, hy moes net vir Mighael se gebroke ma antwoorde kry.

Sy ondersoek na die saak het baie inligting aan die lig gebring wat daarop dui hoe Mighael se kort lewetjie beëindig is. “Die buurman het die dag voor Sarie gery het om vir Mighael te gaan haal, vir Theo sien loop met ʼn graaf, ʼn kombers, ʼn jas en ʼn flits uit die huis uit in die woud in. ʼn Paar dae daarna het een van die bestuurders van die gholfbaan daar naby in die vroeë oggendure op die N2 na Pennington gery. Hy het ʼn ou langs die pad kaalvoet gesien loop met ʼn kortbroek aan en ʼn kombers. Hy het hom opgelaai en ʼn saamrygeleentheid gegee. Dit was Theo.”

Die polisie het destyds in die woud gesoek, maar dit is 15 km² groot en hulle kon niks opspoor nie. Botes sê hul soektog was ook meer op die kusgedeelte van die woud gefokus. “Die ou van die gholfbaan het spesifiek gesê Theo se voete was bedek met wit kalk. Hy het nie meer die jas en die flits by hom gehad nie. My vermoede is hy het die kind se liggaam probeer toegooi met die kalk – dit is hoekom hy die graaf by hom gehad het. So, al wat nou kan gebeur, is as iemand daardie hele woud opgrawe, en dan sal jy moet soek vir ʼn jas en ʼn flits. En dit is kuswoud, vol rankplante. Dit is 21 jaar later. Dit is onmoontlik.”

Vir Botes is die soeke na die waarheid oor Mighael egter nog nie verby nie. Vir hom is dit al manier hoe die krulkopkleuter se gesig sal ophou by hom spook.

En vir Sarie is dit opnuut ʼn kans op hoop. Dat sy dalk, ná twee dekades, sal weet wat met klein Mighael gebeur het.


Die eerste episode van Doodloopspore sal in Februarie 2019 op YouTube beskikbaar wees. Besoek gerus Doodloopspore se Facebookblad vir meer inligting oor die reeks asook die verfilming daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cheryl ·

Dit is verskrilik hartseer, kan mens nie eers indink waardeur sy moes gaan al die jare nie, baie sterkte

ZAR ·

Ek weet nie hoe hou ‘n ouer hart dit nie. Sterkte mevrou, mag jy eendag al jou antwoorde kry, hopelik vroeër.

BLOM ·

So ‘n hartseer verhaal. My hart gaan uit na die ma, hoop sy kry eendag berusting.

LD ·

Wat n raaisel! Selfde met die meisies van Gert van Rooyen…. dis verskriklik hartseer! Mag jy berusting vind!!!

Malmokkie ·

Ek hoop hulle het ook die namibiese dogters, Angela en Sharona Poulten se storie gedek. Hulle is al by die veertig jaar weg. Ek dink hulle fb is searching for Angela and Sharona. Dis net so hartseer. Dan wonder mens ook sltydboor die dogyers wie met Gert v Rooyen verbind was.

Skroef ·

Ons kan net dink waardeur hierdie ouers gaan. Dit is onmenslik om kindertjies van hulle ouers weg te neem. Sterkte aan al die mamma’s

Dorothea ·

Dis presies wat kinders aan hulle eie ouers doen en weier om hulle kleinkinders te sien. Die wiel draai julle dag sal kom.

Ena small ·

Ja….baie kinders hou ook hul kinders…veral die skoondogter… van n ouma af..nie eers n ou fotojie nie…weet nie eers hoe klink sy stemmetjie nie….maar God slaap nie….wat jy saai sal jy maai.

Karolis ·

Dorothea, ek kry nie gepaste woorde van vertroosting nie, sterkte mens.

Annamarie van der Merwe ·

Ek was jare gelede assessor in die saak waar Theo tereg gestaan het op die moord van sy gewese vrou. Onthou elke detail van daardie saak. Soms dink ek ons moes hom toe gesluit het en die sleutel weggegooi het.

Neels ·

Annemarie vd Merwe ek verstaan nou nie , jy se jy was nassesor in die saak . Dit gaan oor die seun se verdwyning maar jy praat van moord op sy gewese vrou. By watter saak was jy dan nou betrokke ?

TLC ·

Wow
Ek volg spoorloos sonder dat ek besef het wat agter storie sit
En dink elkekeer watter groot hartseer dit moet wees om n kind so te verloor
Daar is nie n grafsteen nie
Ek sal nou mos nooit die mamma met haar seerste seer kan vergeet nie
Mag GOD jou styf vashou en baie gou antwoord gee
Baie sterkte
En soveel spanning in spoorloos ek wens week verby dat ek vlg episode kan kyk
Amen

Adele ·

“Doodloopspore” dink ek nie is dieselfde as “Spoorloos” wat tans wys nie.

SNEL ·

Sal ground penetrating radar nie werk hier om bene in grond op te spoor in die groot gebied nie…. glo mens kry iets deesdae soos n metal detector om bene ook op te tel. Kry die ma so jammer, ek dink geen ouer sal rus voordat hulle nie antwoorde het nie, maak nie saak hoeveel jaar dit is nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Welcome to the club. Jy is nie die enigste een nie. Tot op die dag vandag 23 jaar gelede het ek my pa opgetel waar hy homself geskiet het…………….ek het miskien ‘n lyk en ‘n begrafnis gehad……..maar die vrae hou nooit op nie, en elke geleentheid van dan af, hetsy ‘n troue, ‘n grade plegtigheid, ‘n doop, ‘n rugby wedstryd….het daardie hartseer element van “wat sou hy nou gesê het as hy hier was?” Daar is ‘n spreekwoord wat lui “tyd genees alle wonde”…..dis so ver van die waarheid af as Cyril oor sy fondse ontvang van Bosasa…

oopkop ·

Werklik n hartseer verhaal. Dit moet ondraaglike wees om elke dag met die seer te moet saam lewe. Glo my daar is vreeslike mense daar buite wat nie verdien om op hierdie planeet te weesnie. Ek dink die seuntjie is doodgemaak. Klink of die nare man voorheen met moord weggekom het, so hy sou dit maklik weer doen. So jammer vir die Ma.

TV-kykNET ·

TLC : Ja, soos Adele noem het Spoorloos absoluut niks te make met die YouTube reeks Doodloopspore nie.
SPOORLOOS is ‘n fiktiewe reeks Dinsdagaande op kykNET om 20:00 en geskep deur Ilse van Hemert

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.