UP-navorsers wil agter kap van graderingsagente se byl kom

Argieffoto

Argieffoto

Navorsers aan die Universiteit van Pretoria het gewaarsku die risiko van Suid-Afrika se afgradering tot rommelstatus kan ʼn “selfvervullende profesie” word wat die land se ekonomie bedreig en moontlik die ekonomiese afswaai tot gevolg het wat dit voorspel.

Drs. Conrad Beyers, Pieter de Villiers en Reyno Seymore meen die benaderings wat graderingsagentskappe volg om tot besluite oor graderings te kom, is “black boxes” wat nie tans toeganklik is vir onafhanklike evaluasie en waardebepaling nie.

Beyers, woordvoerder van die groep navorsers in die Departemente Aktuariële Wetenskappe; Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese en Ekonomie, het ʼn beroep gedoen op kredietgraderingsagentskappe om “die ‘black box’ oop te maak” en hul graderingsmodelle bekend te maak sodat hy en sy kollegas asook ander navorsers dit kan nagaan.

Volgens Beyers is enige afgradering van staatseffekte tesame met moontlike ekonomiese gevolge in ʼn kritieke tyd onverantwoordelik sonder die noukeurige verslag van hoe die besluit geneem is.

Suid-Afrika loop op die oomblik gevaar om afgegradeer te word tot ʼn kerf onder beleggingstatus (ook bekend as rommelstatus) deur agentskappe soos Moody’s Investors Services en Standard & Poor’s. In Maart het Moody’s Suid-Afrika op Baa2, twee vlakke bó rommelstatus, geplaas en aangedui dat dit kan daal.

“Met dié gradering is die weg gebaan vir afgradering tot rommelstatus wat Suid-Afrika se staatseffekte des te meer as ʼn risiko voorstel,” sê Beyers. “ʼn Gevolg hiervan is dat beleggers gewoonlik groter waarborge of ‘rente’ vereis vir effekte en dat die hele ekonomie hieronder ly: Toegang tot kapitaal word al moeiliker (en duur) en belegging en die vestiging van sakebelange word ontmoedig.”

ʼn Afgradering, veral een wat soveel publisiteit, omstredenheid en politieke bagasie het soos dié van Suid-Afrika, kan aanleiding gee tot die effek van ʼn selfvervullende profesie, lui die verslag van die navorsers. “Dit kom daarop neer dat ʼn land, hipoteties gesien, een met ʼn sterk ekonomiese grondslag, in ʼn negatiewe spiraal afgetrek kan word ná ʼn omstrede afgradering. ʼn Afgradering (veral tot rommelstatus) kan ʼn refleks-reaksie by beleggers tot gevolg hê – wat lei tot grootskaalse disinvestering en ʼn gepaardgaande afname in sakebedrywigheid. Sonder die afgradering sou die ekonomie kon gedy. ʼn Afgradering lei tot wantroue en wanhoop.”

Die navorsers voer aan dat sprake van ʼn moontlike afgradering reeds ʼn negatiewe invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie kon gehad het. “Markte is gerig op die toekoms en neig om te reageer op dít wat hulle vermoed die toekoms mag inhou. Met die onlangse sprake van ʼn moontlike afgradering het markte reeds iets van ʼn afswaai begin weerspieël. Gevolglik moet enige poging om die ware trefkrag van ʼn afgradering te bepaal die invloed van die eerste aanduidings van ʼn moontlike afgradering inreken. Dit is iets van die hoender en die eier- kwessie.”

Volgens Beyers is dit ʼn oop vraag tot watter mate ʼn afgradering te wyte is aan die reaksie op ʼn moontlike afgradering. “Ons weet dit eenvoudig nie omdat die agentskappe bloot ʼn gradering maak en ʼn vae aanduiding van die ‘proses’ gee. Die res is ʼn ‘black box’.”

Bowendien, sê hy, moet ʼn mens in gedagte hou dat die graderings die model weerspieël van die betrokke agentskap wat die gradering gedoen het – met die subjektiewe aannames en besluite. “Moody’s, Standard & Poor’s en ander agentskappe se aannames en besluite behoort verduidelik te word sodat dit krities bekyk kan word deur Suid-Afrikaanse en ander akademici. Omdat kredietgraderings elke huishouding en sakeonderneming in Suid-Afrika raak, sal dit nalatig wees as die besluite waarop die graderings berus nie deeglik ondersoek word nie. Ons bevraagteken nie noodwendig die uiteindelike graderingsbesluite nie, maar ons wil weet wat in daardie ‘black box’ is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Johan ·

Al wat sal gebeur met black box benaderings wat bekend gemaak word is, derde wereld lande sal dit manipuleer vir hulle omstadighede. In elk geval glo ek daar is n genoeg informasie bekend om seker te maak n land voldoen aan vereistes om binne investering graderings te bly.

Cobus ·

“wat is in daardie black box”………..Prof is dit dieselfde black box wat ons in n vliegtuig kry………..hahahahahahaha

Lance ·

Black box of nie ….ongelukkig verdien SA sy rommel status met all die wielle wat afkom …bv poskantoor wat so gestaak het en soveel eise deur werknemers …hallo wat het julle verwag

Wat-ek-lees ·

Ek het gister (22April) ‘n ‘ou’ R200-noot gehad waarmee ek wou koop. Dit is geweier omdat die geld nie meer geldig is. Navraag by my bank Absa is aan my gesê dat dit wel so is. Ek kan egter ‘n vorm invul en dan sien wat gebeur of daar ‘goedgunstiglik’ opgetree sal word. Daar is egter geen waarborg om die geld terug te kry. Ek wys toe daarop dat ek dit by ‘n Absa-teller ontvang het maar ook dit tel nie punte. Ek het my net daar vererg en die verdomde ding in die bank opgeskeur.
Soverre ek bewus is is daar geen ordentlike kennisgewing wat ek van bewus is oor die onttrekking van hierdie R200. Wees dus gewaarsku.

Paul ·

Jy het jouself waarskynlik R200 gekos deur wat jy gedoen het.
Dis slegs die heel eerste R200-noot reeks wat uit sirkulasie onttrek is. Baie mense maak die fout om te dink die tweede reeks (die een met Mandela op is die derde reeks) is ook onttrek – ek vermoed die persoon by die bank het ook daai fout gemaak.
Die maklikste manier om te weet is soos volg: As jy ‘n R200-noot het wat nie vir Mandela op het nie, kyk of dit die landswapen in die linkerkantste boonste hoek het. Indien die landswapen nie daar is nie, is dit die heel oudste soort en is dit wel onttrek. Indien die landswapen wel daar is, is dit steeds in sirkulasie.

Daar was hordes kennisgewing etlike jare gelede toe die stap geneem is. Volblad-advertensies in die koerante, op die internet en op die TV.

Frederik ·

Jy moet maar versigtig wees met alle R200 note. Kabouter het vir my gesê alle R200 note gaan verval sodra die nuwe R1000 noot met Zuma daarop uitkom.

Hennie de Beer ·

Ek is so bly om te sien dat akademisie soos dr. Beyers en sy kollegas Moodies aanvat vir hulle graderings berekeninge en sogenaamde “black box” wat nie oop vir evaluering deur kenners is nie. Moodies het `n omstrede privaat geld lener `n baie goeie Aa2 gradering gegee – beter as sommige JSE gelyste Banke. Die geld lener leen geld vanaf beleggers op `n hoe risiko sekuriteits instrument (ABS). Taxi eienaars waarvoor die gelde dan geleen word se taxis word as sekuriteit teen die lening gewaarborg wanneer belegger daarin investeer. Die gemiddelde taxi ry ongeveer 10 000 km per maand wat dit alles behalwe `n goeie risiko / belegging maak selfs op die kort termyn.

Armando ·

Ek veronderstel dat ‘n “black box” op niks anders dui nie as ‘n klomp reêls en voorskrifte wat aan ons totaal onbekend is, en wat die voorskrifte is wat op ‘n vorm aan mense wat besluite moet neem voorgelê word. Soveel “nee”s beteken afgradering, soveel “ja”s geen besluit, ens. Maar gepraat van selfvervullende profesieë, wat van die voorspellings deur ons plaaslike slim ekonome oor die prysstygings in vleis, groente en wat nog. As Checkas en Vat en Hardloop sien dat dit “verwag” word dat pryse sal styg, sal hulle natuurlik die pryse hoër maak, dis dan deur die ekonome voorspel! Die ekonomie is nie ‘n eksakte wetenskap nie, daar word maar geraai en bespiegel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.