Innibos-feeskomitee laat ‘kat’ uit die mou

Juanita du Plessis

Vanjaar se Innibos-feesprogram is pas bekend gestel na ʼn groot makietie verlede Donderdag in Nelspruit wat deur nagenoeg 5 000 gaste bygewoon is. Innibos is vanjaar nege jaar oud, en soos die spreekwoordelike kat met nege lewens, gaan daar vanjaar heerlik gekattemaai word. Die fees is van 27 tot 30 Junie en vanjaar se tema is Die kat kom weer.

Sorina, ook bekende as die Flooze, Snotkop, Jay, Lianie May, Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Kurt Darren en Juanita du Plessis is ʼn paar van die sangers wat by die populêre kunstefees in Nelspruit gaan optree.

“Daar vind hierdie jare vele opwindende dinge op die feesterrein plaas. Daar gaan ’n skattejag wees waar feesgangers wonderlike pryse kan wen. Dan gaan daar elke aand lekker katte geskiet word, maar nie van te veel voggies nie. Sagte speelgoed met pryse binne-in gaan oor die skare geskiet word met ’n reuse kettie. Saterdagaand word die grootste kat temapartytjie gehou wat Suid Afrika nog ooit gesien het. Alle feesgangers word genooi om Saterdag in kat-kostuums Innibos toe te kom. Die oulikste en oorspronklikste feeskat kan R10 000 en ’n skootrekenaar wen,” het die komitee gesê.

Kaartjies vir die feesterrein en al die produksies op die Innibosprogram is by Computicket beskikbaar.

Sien die volledige program op die fees se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.