ʼn Totaal van 544 werknemers by die Oos-Kaapse departement van gesondheid is na bewering “spook werknemers”.
Die 544 “werknemers” het almal ongeldige identiteitsnommers. Dit het aan die lig gekom na ʼn forensiese oudit wat grootskaalse korrupsie en nepotisme in die departement ontbloot het. ʼn Totaal van 8 034 werknemers is direkteure van maatskappye terwyl 929 werknemers as verskaffers van die departement gelys is. Van dié 8 034 werknemers het 235 betalings van R42,8 miljoen van die departement ontvang. Volgens die departement het die oudit ook gewys dat die departement sake doen met 35 van die werknemers se gades en dat hulle verbind word aan 35 maatskappye wat R11 miljoen se betalings van die departement ontvang het. Die ondersoek is deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die batebeslagleggingseenheid en die Oos-Kaapse departement van gesondheid uitgevoer.