Leeus wen nog een op Ellispark

CJ van der Linde

Die Leeus het vanaand ‘n spannende oorwinning oor die Sharks in hul vriendskaplike kragmeting op Ellispark in Joahnnesburg behaal.

Die eindtelling was 33-29 en die halftydtelling 19-7 in die guns van die Sharks.

Die voormalige Bok-stut CJ van der Linde het in die doodsnikke van die wedstryd die wendrie vir die Leeus gedruk nadat die Leeus heeltemal oordonder was in die eerste helfte. Die Sharks het binne die bestek van 15 minute van die eerste 40 minute drie drieë gaan druk met Dale Chadwick, Riaan Viljoen en Heimar Williams wat almal witlyn-koors gehad het.

Die Leeus kon slegs een strafdrie aanteken toe die Sharks se kaptein, Keegan Daniel, met ‘n geelkaart afgestuur is en die Durbaniete se skrum verkrummel het naby die doellyn.

Ten spyte van verbete verdediging deur die Natallers, het die tweede helfte aan die Leeus, wat al hoe meer na ‘n Super15-gehalte span begin lyk, behoort.

Eerstens het die Leeus se ysterflank Derick Minnie oorgeduik ná een van die Leeus se onstuitbare dryfmaalbewegings. Toe het een van die helde van verlede week se stryd teen die WP en self ‘n oud-Matie, Ruan Combrinck, gaan druk toe die Leeus die bal wyd gespeel het.

Die Sharks se Jandre Marais het daarna sy span enigste drie van die tweede helfte gedruk, waarna die Leeus se Hendrik Roodt van vyf meter af oorgedryf het om die tellings gelykop met 26 elk te maak.

Die Sharks se Fred Zeilinga het sy span se neuse voorgeplaas met ‘n strafskop voordat Van der Linde ná ‘n lang aangee naby die doellyn deurgedraf en onder die pale gaan druk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.