Lonmin-geweld: Polisie hou situasie fyn dop

Geen voorvalle van geweld is oornag by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg in Noordwes aangemeld nie, het die polisie Woensdagoggend gesê.

Sowat 3 000 van Lonmin se rotsbooroperateurs het Vrydag met ’n onbeskermde staking begin wat oor die naweek gewelddadig geraak het. Die geweld word toegeskryf aan ʼn twis tussen die National Union of Mineworkers (NUM) en die nuwe vakbond AMCU.

Maroela Media het Dinsdag berig tien mense is reeds dood sedert die begin van die staking. Twee polisiebeamptes, twee veiligheidswagte, drie betogers en drie ander mans het sover weens dié gewelddadige aksie gesterf. Stakende werkers het Dinsdagmiddag op ʼn koppie in Wonderkop, naby die myn, bymekaargekom. Die werkers dring op ʼn verhoging van R12 500 per maand aan. Die werkers beweer hulle verdien tans R4 000 per maand. “Ons soek geld. Ons het kinders vir wie ons moet sorg,” het Alfred Makhaya van die Oos-Kaap gesê. Indien hy glo nie R12 500 per maand verdien nie, sal sy kinders “diewe word”, aangesien hy nie vir hulle onderrig kan betaal nie. Luidens berigte was daar meer as 500 mans op die koppie en was hulle met knopkieries en ysterstawe gewapen.

Kaptein Dennis Adriao, ʼn polisiewoordvoerder, sê die polisie het die situasie oornag dopgehou en sal vir so lank as wat dit nodig is in die omgewing bly. Hy sê voorts niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.