‘n Vrou is beseer en haar seun oorlede na ‘n motorfietsongeluk Sondagmiddag in Haldonweg, Bloemfontein.
Derrick Banks, woordvoerder van ER24, het gesê die ma en seun het in die pad gelê met die motorfiets ‘n paar meter van hulle af weg, toe paramedici opgedaag het. “Die man, wat glo die seun van die vrou is, het reeds aan sy wonde beswyk en is op die toneel dood verklaar,” het Banks gesê. Die vrou is vir nek- en rugbeserings behandel en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandelling. Volgens Banks was beide op die motorfiets toe die ongeluk plaasgevind het en was daar geen ander voertuie in die voorval betrokke nie.
Die owerhede sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.