Die saak teen Julius Malema, die voormalige leier van die ANC-jeugliga, is Dinsdag in die hof in Polokwane, Limpopo, tot 20 Junie uitgestel.
Malema het vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery. Die landdros het saak uitgestel om ‘n datum vir ʼn verhoor in die hooggeregshof te bepaal.
Dit was Malema se tweede verskyning in die hof in verband met sy Ratanang-familietrust. Malema word daarvan beskuldig dat hy glo sowat R4 miljoen uit korrupte aktiwiteite verdien het. Hy is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Vier van sy beweerde sakevennote sal saam met hom in die hof verskyn. Hulle is almal vroeër op borgtog van R40 000 vrygelaat.