Meer besonderhede oor 13-jaaroue moord

'n Afskrif van Betty Ketani se identiteitsdokument wat na bewering saam met die brief onder die mat opgespoor is Foto: EWN

Vyf mans het Vrydag in die hof verskyn in verband met die moord van ʼn vrou 13 jaar gelede.

ʼn Brief is twee maande gelede in ʼn huis in Kenilworth, aan die suide van Johannesburg opgespoor toe die eienaar nuwe matte laat installeer het. Die polisie het die saak intensief vir twee maande ondersoek voordat hulle vroeër die week vyf mans kon aankeer.

“Die brief gee stap-vir-stap besonderhede oor die misdaad wat 13 jaar gelede plaasgevind het. Die polisie se ondersoek duur voort en ons kan nie die moontlikheid dat nog mense in verband hiermee in hegtenis geneem sal word, uitsluit nie,” het lt. kol. Tshisikhawe Ndou, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die brief is blykbaar ʼn belydenis deur een van die mense wat Betty Ketani in 1999 vermoor het. Ketani is op ʼn plaas in Johannesburg in die kop geskiet, en is daar agtergelaat om dood te gaan, maar sy het die voorval oorleef en is na ʼn hospitaal geneem.

Polisie vermoed Ketani is hier begrawe Foto: EWN

Die 37-jarige moeder is later glo met vervalsde mediese dokumente deur haar aanvallers uit die hospitaal vervoer. Na dié ontvoering het haar familie haar as ʼn vermiste persoon aangemeld. Haar aanvallers het haar na die ontvoering uit die hospitaal doodgeskiet.

Dit is nog nie bekend of die outeur van die brief steeds leef en of hy een van die mans is wat in hegtenis geneem is nie.

Die polisie en gevangenes burgerregte vakbond het die polisie gelukgewens met die deurbraak in die saak. “Ons is verder dankbaar dat verdagtes vir die moord en ontvoering van Betty Ketani in hegtenis geneem is,” het Theto Mahlakoana, woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Die vakbond het egter sy kommer uitgespreek dat sommige van die verdagtes óf tydens die voorval óf nog steeds polisiebeamptes is. “Ons wil die polisiebeamptes wat aangestel is om die saak op te los, aanmoedig om hul bes te doen om seker te maak dat Betty Ketani se gesin die antwoorde kry waarvoor hulle 13 jaar al wag,” het Mahlakoana gesê.

Die vyf mans wat in hegtenis geneem is, het Vrydag in die landdroshof in Johannesburg verskyn. Die saak is tot 1 Junie uitgestel waarop die mans aansoek kan doen om borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.