Nege mense is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met stropery.
Kapt. Thulani Zwane, ‘n polisiewoorder, het Dinsdag gesê die groep verdagtes is verlede week in Melmoth in hegtenis geneem. “Die polisie het die gebied gepatrolleer en op ‘n verdagte voertuig afgekom. Hulle wou die voertuig van die pad aftrek, maar die verdagtes wou nie stop nie. Die polisie het hulle na ‘n jaagtog uiteindelik afgetrek en beslag gelê op twee dooie bokke, ‘n byl, twee haelgewere, ‘n vuurwapen en ammunisie.
Die verdagtes is tussen 16 en 56 jaar oud en moet 6 Maart in die Melmoth-landdroshof verskyn op aanklagte van stropery en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Twee van die verdagtes is minderjarig en is in die sorg van hul ouers vrygelaat. Die res van die verdagtes bly in aanhouding.