NSRI spook ure om talle bote by Harties te bevry

Die NSRI se Stasie 25 moes die afgelope naweek vir vyf ure spartel om 30 ontspanningsbote, wat in die hiasintmatte verstrengel geraak het, te hulp te snel. (Foto: NSRI).

Booteienaars word gemaan om die feestyd versigtig te wees indien hulle op die Hartbeespoort-dam in Noordwes wil uitspan.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is meer as 30% van dié gewilde dam se oppervlakte met hiasinte oortrek wat soos “matte” versprei lê.

Hierdie matte maak dit haas onmoontlik vir bote om gemaklik oor die dam te vaar.

Die NSRI se Stasie 25 moes juis die afgelope naweek spartel om 30 ontspanningsbote, wat in die hiasintmatte verstrengel geraak het, te hulp te snel.

“Die hiasinte hou ʼn wesenlike gevaar in vir kleiner bote op die dam en moet liefs nie deur enige vaartuig oorkruis word nie,” sê die NSRI.

Die waterplante is verder ook bedrieglik omdat die matte deur die wind aangedryf word.

“Ons vind dat sommige ontspanningsbote tussen die hiasinte beland nadat die wind die hiasintmatte tussen die bote en die lanseerplek ingewaai het. Dis dan wanneer die bote verstrengel raak,” sê Arthur Crewe, NSRI-woordvoerder.

In sommige gevalle verstrengel die plante ʼn boot tot so ʼn mate dat dit skade aan die boot se skroewe aanrig.

“Die skippers het probeer om na dieselfde vasmeerplek terug te keer deur bloot deur die hiasinte te vaar. Maar dit koek so om die bootskroewe, of die skroewe word beskadig omdat dit iets onder die water tref wat hulle nie kon sien nie omdat die plantegroei dit verberg.”

hiasinte

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is meer as 30% van dié gewilde dam se oppervlakte met hiasinte oortrek wat soos “matte” versprei lê. (Foto: NSRI).

Crewe waarsku die hiasinte sal toeneem soos die somer voortduur.

“Onder geen omstandighede moet skippers deur die hiasinte probeer vaar nie. Deur dit te doen, stel hulle hul lewens in gevaar. Om mense te red wat vasgekeer is, is ʼn moeilike proses.”

Dit het reddingspersoneel Saterdag meer as vyf ure geneem om die 30 vasgekeerde bote te bevry.

Crewe het mense nogtans gemaan om die nodige noodtoerusting byderhand te hê wanneer hulle op die water vaar en ook die NSRI se gratis app SafeTrx af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.